Sarah main

OE LA LA, dis somer! En mag ek my maar verstout om te sê hierdie suurlemoensmeer-roomystoebroodjies is pragtig verby? Aan die een kant is hulle so eenvoudig, aan die ander kant so fyntjies en geheel en al betowerend. Die romerige suurlemoensmeer-roomys (dit proe soos kaaskoek-roomys, sê my vriendin Lucy) ingedruk tussen twee goue en krummelrige roosmarynkoekies is met een woord  hemels.

IMG_9117 Dis ’n wonderlik verleidelike resep, maar terselfdertyd ook so dankbaar, want daar is eindelose prettige variasies. Ek bedoel, as jy hierdie een eers bemeester het (wat tjoef-tjaf sal wees), wat weerhou jou daarvan om sjokoladekoekies pleks van my eenvoudige roosmarynbotterkoekies te bak en ’n grondboonbotter-en-sjokolade-roomysvulsel op te sit? Of vervang die suurlemoensmeervulsel met pomelo- of lemoensmeer en voeg ’n tikkie gemmer by, en gebruik laventel pleks van roosmaryn in die koekiedeeg. Wat meer is, die roomystoebroodjies verander enige okkasie in ’n fees en laat elke roomys- en koekie-liefhebber swymel. Dit was verlede jaar een van my absolute gunstelingresepte en is ook ’n hoogtepunt in my nuwe boek, smitten, wat in Februarie 2014 uitkom. Suurlemoensmeer-roomystoebroodjies

sandwiches

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 15 minute

Vriestyd: minstens 3 uur

JY HET NODIG

250 ml (1 k) room

¼ k versiersuiker

60 ml (4 e) suurlemoensmeer teen kamertemperatuur (koop sommer by die supermark)

10 ml (2 t) suurlemoenskil

15 ml (1 e) suurlemoensap

10-12 koekies – ek het tuisgemaakte roosmaryn-botterkoekies gebruik en hulle in ’n hartvorm uitgedruk

MAAK SO

1. Klits die room tot dit dik is en stywe punte vorm. Sif die versiersuiker by. Vou die suurlemoensmeer, skil en sap versigtig in sodat jy nie al die lug uitmeng nie. Proe om seker te maak dis na jou smaak – as dit te suur is, kan jy ’n bietjie meer versiersuiker byvoeg.

2 Giet in ’n lugdigte houer en plaas minstens 3 uur in die vrieskas.

3. Plak dit tussen koekies om suurlemoensmeer-roomystoebroodjies te maak of sit dit voor in horinkies of bakkies. Njam!

IMG_9121

- Sarah Graham

Sarah Graham Sarah Graham is  ’n kosblogger, kookboekskrywer en TV-sjef. Lees gerus haar kosmymeringe op haar blog. Jy kan haar kookboek bitten in boekwinkels koop of op haar webtuiste.