In die tweede aflewering van ons kort blogreeks oor mense wat hul lewe verander het, vertel Mary-Anne McCormack, ’n Huisgenoot-leser en mediese persoonlike assistent van Randburg, hoe sy eers ’n sofapokkel was en toe in ’n raps meer as twee jaar 59 kg met oefening afgeskud het.

MY REIS het in Januarie 2011 begin. Maar dit was eers in Julie 2011, toe ek foto’s van my op die strand in Thailand gesien het, dat ek eindelik besef het genoeg is genoeg.

Ek dink ek het die punt van wanhoop bereik. Wanhoop om ooit beter oor myself te voel. Geen vet mens kan in alle eerlikheid vir my sê hulle voel goed oor hulleself nie. Dit is heeltemal onmoontlik.

My persoonlike afrigter het onvermoeid saam met my geveg om my ingesteldheid dat ek nooit die paal sal haal nie, te verander.

Toe ek die resultate begin sien en agterkom hoe stomverbaas mense is oor hoe baie gewig ek verloor het, het ek besef al die harde werk werp vrugte af. Ek het begin beter voel oor myself en gevind ek het matelose energie en motivering om my te laat volhou. Van die aanvanklike uitdagings was om my algehele gebrek aan selfvertroue te oorwin, asook my vrees en verleentheid om  by ’n gim in te stap. Dit was ’n groot uitdaging om die vrees te oorwin van wat mense sou dink as ek iets probeer wat ek gemeen het belaglik lyk. Dit was moeilik om my ek-kan-dit-nie-doen-nie-ingesteldheid te verander wanneer my persoonlike afrigter vir my iets nuuts gegee het om te beproef of wat besonder moeilik was om te doen. Ek werk steeds daaraan. Dit was moeilik om ou gewoontes te laat vaar, soos die swak eetgewoontes wat ek oor die jare ontwikkel het. Dit was moeilik om NEE DANKIE te sê wanneer lekker eetgoed vir my aangebied word. Die ou ek

now

Vandat ek kan onthou het ek gewigsprobleme, maar dit het van my vroeë 20s af ál erger geword. Ek was morbied vetsugtig en depressief. Ek het geen selfvertroue gehad nie. Ek was verleë daaroor om ek te wees. Ek het dit gehaat om te gaan klere koop wat ek nie kon kry nie. Ek het dit gehaat om winkelsentrums toe te gaan en ander mense te sien. Ek was verleë oor my voorkoms en kon skaars beweeg. Ek het 158,6 kg geweeg. Dit het my onwaardig vir vriendskap of liefde of respek laat voel.

Eet Ek het alles geëet wat ek nie veronderstel was om te eet nie. Ek was verslaaf aan gemorskos. Ek het alleen gebly. Ek was vreeslik lui om wanneer ek by die huis kom ’n ordentlike maaltyd te kook en het eerder kitskos bestel. Ek was veels te lui om tyd te maak om gesonde maaltye te berei. Ek was die luiste mens wat ek geken het. Ek het my wysgemaak niemand kan my sien nie.

Oefening Ek het altyd met die hysbak gery, maak nie saak hoe min verdiepings dit was nie. As ek moes winkel toe gaan om brood of melk te koop – letterlik ’n blok ver – het ek my motor gebruik en dan op die parkeerterrein rondgery tot ’n parkeerplek naby die ingang beskikbaar was.

Naweke het ek op ’n rusbank gesit of lê en TV of ’n fliek gekyk of gelees. Ek het nooit iets gedoen wat te veel moeite of beweging geverg het nie.

By die werk het ek die skoonmaker na my motor toe gestuur as ek iets daarin nodig gehad het. Ek het trouens die skoonmaker al my draaie laat loop terwyl ek agter my lessenaar gesit het.

Die nuwe ek

2

Ek het my lewe terug! Al het ek nog nie my doelgewig bereik nie, voel ek baie gesonder en fikser. My selfvertroue het ’n totale omwenteling ondergaan en ek kan nou nie uit die gim wegbly nie. My persoonlike afrigter moet my elke nou en dan daaraan herinner dat ek te veel oefen en ’n dag of twee moet rus. Ek is ’n sterker mens en laat nie toe dat ander mense my misbruik of stoomroller nie. Ek doen dinge wat mý gelukkig maak. En ek lug beslis nou meer gereeld my mening as tevore.

 My oefenprogram

Maandae Hoëintensiteit-spinklas van 45 minute soggens en saans

Dinsdae ’n Sessie saam met my persoonlike afrigter of ’n ketelbalklas soggens, hoëintensiteit-spinklas van 45 minute saans

Woensdae Hoëintensiteit-spinklas van 45 minute soggens en saans

Donderdae ’n Sessie saam met my persoonlike afrigter of ketelbalklas soggens, hoëintensiteit-spinklas van 45 minute saans

Vrydae ’n Sessie saam met my persoonlike afrigter of ketelbalklas soggens, hoëintensiteit-spinklas van 60 minute saans

Saterdae Hoëintensiteit-spinklas van 60 minute of padfietsoefening soggens

Sondae Hoëintensiteit-spinklas van 90 minute of padfietsoefening soggens

Ek neem ook dikwels aan spinathons vir liefdadigheid deel en het al drie vier uur lange spinathons voltooi. Ek het onlangs die Emperors Palace Classic-fietswedren voltooi. Dit was my eerste padfietsren en ek het 50 km in ’n uur en 55 minute voltooi. Ek berei nou hard voor vir my eerste 94.7-fietsry-uitdaging in November.

Ek beskou my steeds as oorgewig, maar ek is trots op myself en dit wat ek tot dusver bereik het. Ek kan nou in die spieël kyk sonder om terug te deins of weg te kyk. Daar is nou GEEN keer aan my nie en ek is baie opgewonde oor die toekoms en om eindelik die doelgewig te bereik wat ek vir my gestel het. Geestelik en emosioneel het ek nog nooit sterker gevoel nie. Ek het slegte dae, maar wie het nie? Ek is verskriklik opgewonde oor die toekoms en glo ek sal van krag tot krag gaan. Ek het nou veel meer selfvertroue en is altyd gretig om nuwe dinge te beproef en avonture aan te pak.

Lees ook:

Inspirasie: ‘Ek het 42 kg verloor!’