Ons TV-blogger vind party reekse heeltemal te verslawend en sy kan nie verduidelik waarom nie – veral Border Security, Catfish en die Kardashians . . .

[caption id="attachment_48547" align="aligncenter" width="650"]Die Kardashian-familie, wat so graag elke klein stukkie van hul lewe deel. Die Kardashian-familie, wat so graag elke klein stukkie van hul lewe deel.[/caption]

IS EK al een . . . wat vasgenael sit voor ’n program wat ek geen plan gehad het om te kyk nie en nou kan ek nie ophou nie?

Dit gebeur soms met my – nie heeltemal so dikwels sedert die baba opgedaag het nie, maar ek vind dat ek saans soms gefassineerd voor ’n program sit en ek kan nie verduidelik waarom ek nie van kanaal kan verander nie. Dis gewoonlik ’n reeks op die Crime and Investigation-kanaal, soos die werklikheids-/dokumentêre reeks Border Security, waar ’n mens sien hoe toeriste dwelms of eksotiese plante by Australië probeer insmokkel.

Ek het begin kyk toe ek sien amptenare wonder of daar dwelms in hierdie ou se onlangs herstelde baadjie versteek is, en dan móét ek die hele episode deurkyk om uit te vind of hy regtig ’n dwelmmuil is of net baie vrot met naaldwerk (dit was dwelms). Dan begin die nuwe episode en nou moet ek uitvind hoekom hierdie Duitse kunstenaar eksotiese plantsaadjies saam met vakansie Australië toe wil neem (ek het dit nooit heeltemal uitgepluis nie, maar hulle het die saadjies afgeneem). Uiteindelik kom ek op vir lug en ek weet nie waar die laaste drie uur heen is nie.

Dis presies dieselfde ding wat met Keeping Up with the Kardashians gebeur. Of dit nou heruitsendings is of nuwe episodes, ek word ingesuig en kort voor lank weet ek gans te veel van hierdie gesin wat ’n bietjie te gul is met die klein besonderhede van hul lewe. Ek wil net van kanaal verander wanneer, wag gou, Khloe en Kourtney stry kry, beteken dit Khloe kan dalk weer vir Scott klap, móét nog ’n episode kyk . . . Ek kan myself nie help nie.

En moenie eens van Catfish op MTV praat nie. Het jy dit al ooit raakgekyk? Indien nie, loop jy ’n enorme tydvermorser mis. Dit gaan oor die gevare van aanlyn-afsprake en elke week vra iemand anders vir die Catfish-span wat aangaan met die een saam met wie hulle aanlyn kuier en oor wie hulle hond se gedagtes begin kry.

’n Katvis is iemand wat ’n vals persoonlikheid aanlyn skep omdat hulle onseker voel of verraderlike motiewe het, of dit nou weerwraak of misdaad is.

Dit word aangebied en vervaardig deur die taamlik oulike Nev Schulman, wat met die term katvis vorendag gekom het in sy fliek oor sy ervarings van aanlyn-afsprake met wat hy aangeneem het ’n enkellopende twintigplusser is en wat geblyk het ’n ouer ma van vier te wees. Nou probeer hy ander help om uit te vind of hulle gekatvis word.

Daar’s die meisie wat gedink het sy het die man van haar drome op Facebook ontmoet, maar dit blyk toe ’n ander meisie te wees wat op soek was na wraak weens die een of ander probleem met haar kêrel. Dikwels is dit ’n lae selfbeeld wat lei tot ’n spinnerak van leuens en weiering om te onmoet, maar daar is ook die bisarre gevalle waar ervare katvissers dit doen omdat hulle dit geniet en sommer ’n paar mense tegelyk aan lyntjies hou. Dis regtig verslawend.

Maar die programme wat my altyd intrek, maak nie saak hoeveel keer ek sweer nooit weer nie, is die VH1 Countdowns. Ek kan nie daarvan wegloop nie. Ek kan dalk met my linkerhand van kanaal tot kanaal kliek terwyl ek regmaak om uit te gaan of ’n koppie tee gaan maak terwyl die baba ’n slapie vang, en skielik is dit ure later of die baba word wakker en ek is steeds vasgenael op my bed met ’n sokkie in die hand of terwyl ek wonder of ek ooit die ketel aangeskakel het. Of dit nou 100 Greatest One-hit Wonders, 100 Greatest Songs of the 80s, 100 Most Shocking Moments in Rock n Roll of The Best Child Stars Ever is – ek kan nie roer nie. Die aftel begin en eers word my aandag getrek omdat dit ’n liedjie is wat ek in jare nie gehoor het nie. Dan is ek de bliksem in omdat ’n A-ha-liedjie net by no. 88 sit en nou móét ek weet wat in die top-10 is en of hulle die video van Nena se 99 Red Balloons gaan wys. En natuurlik onthou ek nooit die top-10 nie en as dit volgende keer uitgesaai word, moet ek dit weer kyk . . .

- Natalie Cavernelis

  • Border Security word uitgesaai op Discovery-kanaal (121) om 15.55 op Sondae en verskeie kere gedurende die week.

  • Keeping Up with the Kardashians is te sien op E! (124) op Sondae om 19:00 en verskeie kere gedurende die week.

  • Catfish is te sien op MTV (130) om 19.35 op Saterdae en verskeie tye gedurende die week.

Lees Natalie se ander TV-blogs:

Verban Junior uit die Dome, sê ek!

10 fantastiese dans-roetines op TV

8 nuwe reekse op pad

Die Emmys, The Fixer en dié wat beroof is . . .

Ontmoet my TV-mans

TV-paartjies wat bymekaar moet uitkom

10 nuwe TV-reekse!

Kyk! Die meisie van My Girl het grootgeword

Wat ’n woeste Game of Thrones!

TV se stylvolste karakters

Watter ander ouers is moeg vir Barney?

Dierbare Emily

The Fixer se koel klere

Is dit net ek?