Ria Netherwood, wat nou in Pretoria woon, vertel vir Huisgenoot sy is steeds optimisties dat haar seun nog leef.

Haar seun, Charlton Ashley Netherwood, was net 15 jaar oud toe sy hom in November 1985 by ’n plek van veiligheid in Edenvale afgelaai het. 

Dit was dieselfde dag dat die hof haar beveel het om dit te doen, want hy was “ongehoorsaam”.

“Hy wou nie leer nie en het stokkiesgedraai,” sê sy.

As kinders in daardie jare as uitdagend beskou is, is hulle na die welsyn verwys. Onder sekere omstandighede sou aanbeveel word dat ’n kind weggestuur word. En dit is wat die hof gedoen het, verduidelik Ria. 

Hulle is dan na ’n nywerheidskool gestuur, maar moes eers na ’n huis van veiligheid gaan, vertel Ria.

“Ek dink ek het hom die vorige Vrydag geneem en hom die volgende Saterdag gesien. Die volgende week het ek hulle gebel en gevra: ‘Kan julle asseblief vir my sê wanneer my kind na die nywerheidskool gestuur sal word?’ want ’n mens moet reëlings tref. Die man (by die huis van veiligheid) het gesê: ‘O, is jy die ma? Want hy het Woensdag al vermis geraak.’

“Ek het ’n lang ruk nie ophou huil nie,” sê sy. 

Sy beskryf haar seun as “aangenaam”.

“Maar toe hy sy tienerjare binnegaan, wou hy anders wees en hy het moeilik geraak. Maar hy was ’n kind wat nie van die huis af weg wou wees nie.” 

Sy het oral na Charlton gesoek en elke leidraad opgevolg.

“Ek het die polisiesaak geopen, my destydse skoonseun het elke Vrydagaand na Johannesburg gegaan en na al die nagklubs gegaan.”

Ria het ook amper elke dag lykhuise besoek en sy verdwyning in die koerante geplaas. 

Sy het met die ander kinders by die huis van veiligheid gepraat en hulle het vir haar gesê hulle was van plan om weg te loop en ’n paar uur later terug te keer. 

“Blykbaar het hulle dit voorheen gedoen.”

Al is dit hoorsê, word daar vermoed Charlton het saam met die ander kinders na ’n park in Hillbrow gegaan – en dit was die laaste keer dat enigiemand van hom gehoor het. 

“Tot vandag toe het ek nooit ’n gevoel gehad dat my kind dood is nie,” sê sy. 

Die laaste foto wat Ria Netherwood van haar seun geneem het. Foto: Verskaf

Sy sê dit is iets wat altyd by jou bly. 

“Daar was ’n tyd dat ek gedink het ek raak mal. Iemand het selfs gesê hulle het die kind in Lenasia gesien en ek is daarheen.

“Maar soms wanneer jy weg is, is jy weg,” sê sy in ’n sagte stem.

En tot vandag toe het niks ooit aan die lig gekom nie, en Ria het net onbeantwoorde vrae.

Maar sy hou vas aan die woorde wat ’n predikant eenkeer vir haar gesê het: “Hy het gesê: ‘God se tyd is nie jou tyd nie en dit gebeur dalk nie eens in jou leeftyd nie.’ ”

Sy hou ’n foto van haar seun in haar slaapkamer as ’n voortdurende herinnering aan wat sy verloor het.

“Dit was hartverskeurend en dit is steeds,” sê sy.

Sy hunker na die dag dat sy hom weer sal sien.

“Daar is mense wat vermis geraak het en hulle kom jaar ná jaar te voorskyn.”

Vir eers het sy geleer die lewe gaan aan en geloof is alles.

“Ek plaas my vertroue in God en ek glo sy wil sal geskied,” sê sy.

“Ek het ’n wonderlike suster en kleinkinders van wyle my dogter, wat in 2010 oorlede is.”

Maar sy kan nie anders as om te wonder waar Charlton hom bevind en of hy as 47-jarige man ’n gesin van sy eie het nie.