Clipboard05 Ons kosblogger Mari-Louis Guy deel  naweekkos-resepte en vertel van die heerlike ontbyt wat sy en haar broer Callie onlangs by ’n kosfees voorgesit het. MAAK DIE KRINGETJIE WYER

Die Suid-Afrikaanse koswêreld is ’n klein gemeenskappie en omdat daar so baie geleenthede is waar kosredakteurs, topsjefs en kosskrywers saamkuier, kan dit soms soos ’n ondeurdringbare sirkel voel. Sosiale media, soos blogging, het gelukkig die kring vergroot en as jy ’n kos-werklikheidsprogram wen, is jy natuurlik dadelik voor in die koor.

Ek en boet Callie beskou onsself as baie gelukkig om deel te wees van die opwindende Suid-Afrikaanse koswêreld en voel dis ons plig om “nuwelinge” – of dit nou stiliste of voornemende skrywers is – te help.

’n Uitgewer het nou die dag opgemerk hoe ongewoon dit is dat skrywers boeke bemark wat met hul eie boeke in ’n taamlike klein mark meeding. Ons uitgangspunt is dat as ons die koskring kan laat groei, skep ons ruimte vir onsself om ook te groei. SA kookboeke is van so ’n uitstekende gehalte dat ons eintlik net vir jou wil noop om meer daarvan te koop!

Vandeesweek gesels ons dus oor Aletta Lintvelt se boek Weg! Naweekkos. Aletta is die baie vrygewige kosredakteur van die tydskrif Weg, ’n regte towerfeetjie wat deure oopmaak en geleenthede vir ander skep oral waar sy vrolik deur die lewe gaan.

WEG Naweekkos

Haar boek is een van daardie wat later krulhoeke het van baie gebruik. Ek bak chronies haar ouma se melkpoeding wanneer my man op sy vaarte oorsee gaan – trooskos in sy beste vorm.

Soos Aletta sê: “Vir my is ’n resep bloot ’n vertrekpunt – ek laat my ook lei deur wat ek byderhand het en waar ek is . . . amper soos ’n goeie vakansie. Daarom is hierdie resepte vol wenke sodat selfs groentjiekokke met selfvertroue kan improviseer”.

As jy een van dié is wat resepte van die internet aflaai en iPad in die hand kook, is hierdie ’n boek waarvan jy liewer die harde kopie sal moet aanskaf, want daar waar jy dit die meeste gebruik gaan daar hopelik geen elektrisiteit of internet wees nie.

Heuningmosterdvarkworsies

Genoeg vir 8 stokkies

WEG KOOKBOEK Hoofstuk 3 B.indd

24 klein varkworsies (chippolatas)

8 dikkerige, reguit roosmaryntakkies of gewone sosatiestokkies

2 e (30 ml) Dijon-heelkorrelmosterd

4 e (60 ml) heuning

4 e (60 ml) olyfolie

1 Ryg die varkworsies op die takkies of stokkies – 3 per stokkie – en plaas dit in ’n bak. (Jy kan ook enige gewone wors in korter stukkies knyp.)

2 Meng die mosterd, heuning en olyfolie en giet dit oor die kebabs.

3 Skud die stokkies effens sodat die meeste marinade in die bak agterbly.Braai op warm kole tot die wors sappig en gaar is.

4 Bedruip dit met die orige marinade en eet dit sommerso staan-staan langs die vuur.

Ouma Hannie se melkpoeding

Genoeg vir 6 mense

WEG KOOKBOEK Hoofstuk 6 B.indd

botter vir smeer

2 eiers, geklits

1¼ L (5 k) melk

300 ml suiker

300 ml koekmeel

1 e (15 ml) bakpoeier

2 e (30 ml) botter

Voorverhit die oond tot 170 °C en smeer ’n 2 liter-oondbak met botter.

1 Meng die eiers, melk en suiker. Meng die meel en bakpoeier en giet  die melkmengsel bietjie vir bietjie by. Klits goed na elke byvoeging.

2 Giet die beslag in die gesmeerde bak, plaas klontjies botter bo-op en bak dit 30 minute. 3 Skakel die oond af en laat die poeding 30-45 minute met die deur toe afkoel tot gestol. Jy kan die poeding teen kamertemperatuur eet, maar koud uit die yskas is dit ewe lekker en smaak dit amper soos ’n korslose melktert. WEN! NB Boeke gee 2 eksemplare van Weg! Naweekkos weg. SMS WEG, jou naam, adres en die antwoord op ons vraag  na 34922 om vir die boek in aanmerking te kom. Die sluitingstyd is 17:00 op 20 November. Elke SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer SMS as wat jy wil. Die borg is verantwoordelik vir die aflewering van die produk. Vraag Wat is die voornaam van die skrywer van Naweekkos? SPIER SECRET FESTIVAL

Verlede naweek was ek en Callie verantwoordelik vir die openingsontbyt by die Spier Secret Festival. Spier en Hannerie Visser het dit werklik ’n uitsonderlike kosgeleentheid gemaak.

Callie het ’n paar dae voor die tyd begin werk aan sy ongegeurde Labneh-kaas wat hy toe in sulke lang lengtes moeselienlap gehang het.

Kaas

Langsaan was daar ’n geurstasie met 40 eksotiese geurmiddels soos gedroogde bloubessies, za’aatar, gegeurde soute, sumak, swartuiesade, gedroogde blomme en nog baie meer.

Ek bak toe heerlike mosbolle in kolwyntjiehouers, kook Farmer Angus van Spier se eiers in sagte kleure, vermom botter as Fizzer-lekkers en garneer alles met hope vars frambose en mikrokruie.

[caption id="attachment_58006" align="alignnone" width="500"]Links: Die gekleurde eiers. Regs bo: Callie met die 'Fizzers'. Regs onder: Mosbol-kolwyntjies. Links: Die gekleurde eiers. Regs bo: Callie met die 'Fizzers'. Regs onder: Mosbol-kolwyntjies.[/caption]

Die meesterlike keramiekkunstenaar Mervyn Gers het elke gas verras met ’n bordjie wat kon saamgaan huis toe, Gansbaai Heuning het die twee grootste, drupperigste heuningkoeke vir ons geskenk en JuiceBox het spesiaal vir ons vars nartjie-en-peersap uitgedruk. Ons vriende by Hirt & Carter het tamaai eksemplare van ons werk saam met die fotograaf Melody Deas as agtergrond gedruk.

Ons wou hê gaste moes rustig tussen al die stasies kon drentel, maar die Kaapse weer praat mos altyd die hardste. Gelukkig vir ons beteken dit toe ’n baie meer intieme affêre.

Ons het heerlik gekuier saam met van ons koshelde wat oral opgeduik het. ’n Vroeë oggenddrukkie deur die veelbekroonde kos- en dekorredakteur Sumien Brink is glad nie te versmaai nie. Sam Woulidge van Confessions of a Hungry Woman-faam het haar pragtige bondeltjie liefde, Sebastian, kom wys.

[caption id="attachment_58011" align="alignnone" width="600"]Skeppings uit ons boeke teen die muur (links), ek en Sam (regs bo) en ek en Sumien (regs onder). Skeppings uit ons boeke teen die muur (links), ek en Sam (regs bo) en ek en Sumien (regs onder).[/caption]

Uiteindelik het ek ook die vleisman Andy Fenner ontmoet, hoewel Callie al jare lank spesiale snitte by hom laat sny vir gebruik in TV-advertensies. Rudi Liebenberg van die Mount Nelson het oudergewoonte van oor tot oor geglimlag (stres die man dan nooit nie?). Tiaan en Mynhardt vir wie ons laas jaar op die stel van Kokkedoor leer ken het, was daar aan die werk en ons ou vriendin en nuut bekroonde MasterChef Kamini Pather het soos altyd geskitter. Die lof wat die bekroonde internasionale kosontwerper Marije Vogelzang ons stilering en ontbyt toegeswaai het, het ’n perfekte oggend afgerond.

[caption id="attachment_58012" align="alignnone" width="500"]Ek, Marije en Callie Ek, Marije en Callie[/caption]

- Mari-Louis Guy

 Mari-Louis Guy is ’n vryskut-kosstilis en kosboekskrywer wat saam met haar broer, Callie Maritz, onder die naam Cakebread werk. Deel jou ervarings en resepte met haar by cakebreadct@gmail.com of vind haar op Facebook. Gaan loer gerus ook na voorbeelde van haar en Callie se werk vir Checkers: kaas-en-aartappelgebak en kaas-en-kruie-omelet.