[caption id="attachment_58846" align="alignnone" width="600"]Ons kuier by Jackie in die rehab. Van links is Ruan, Jackie, ek en Jacques. Ons kuier by Jackie in die rehab. Van links is Ruan, Jackie, ek en Jacques.[/caption]

NÁ ’N paar sulke ontstellende besoektye by die rehab besluit ek om ’n blaaskans te neem. Só gaan ek dit nie maak nie. Ek moet tot verhaal kom. En ek moet probeer verstaan.

Inligting is skraps, en kom nie juis vanself aangestap nie. Ek moet dit gaan soek.

So begin my navorsing oor traumatiese breinbeserings. Maar dis ingewikkeld en die mediese terme maak my nog meer deurmekaar. Ek besef dat só ’n besering so kompleks is dat selfs die slimmes dit moeilik verwoord.

Dan kom ek te hore van Susan Larney se boek Nuwe Lewe Na ’n Breinbesering. Dis vol inligting vir die familie en vriende van iemand met ’n breinbesering. Uiteindelik ’n taal wat ek kan verstaan! Sy skryf oor hul ervaring nadat hul dogter breinbeserings in ’n motorongeluk opgedoen opgedoen het.

boek

Ek gryp na hierdie strooihalm en bel die nommer op die webtuiste Ek moet die boek in die hande kry.

Sy antwoord en wonder bo wonder woon sy hier naby in Pretoria! Vir die eerste keer ná die ongeluk voel dit of ek met iemand praat wat verstaan.

Toe ek verduidelik wat ons met Jackie beleef, is sy skoon opgewonde. “Hys in fase 4!”sê sy.

Ek en my seun Jacques spring in die kar en jaag soos besetenes na haar toe. Ons soek antwoorde.

In 1999 is Susan se dogter, Lindie , ernstig in ’n motorongeluk beseer, vertel sy toe ons daar opdaag. Sy was ’n tweedejaar-student aan Tukkies. Negentien jaar oud.

[caption id="attachment_58830" align="alignnone" width="541"]Lindie twee weke voor haar ongeluk (links) en ses maande daarna. Lindie twee weke voor haar ongeluk (links) en ses maande daarna.[/caption]

Sy het self die navorsing oor haar dogter se toestand begin doen omdat die antwoorde van dokters maar skraps was.

En so gaan daar vir ons ’n liggie aan . . .

Die herstel van ’n breinbesering vind op verskeie vlakke plaas. Breinbeseerdes vorder normaalweg nie vinnig van een vlak  na die volgende nie, maar toon dikwels tegelykertyd die eienskappe van meer as een vlak.

  •  Vlak 1 Geen reaksie: Dit lyk of hy baie diep slaap.

[caption id="attachment_58827" align="alignnone" width="333"]Jackie in die diep slaap in ICU. Jackie in die diep slaap in ICU.[/caption]

  • Vlak 2 Veralgemeende reaksie: Sy reaksies is nie konsekwent nie en doelgerig. Hy trek byvoorbeeld sy gesig as hy afgespons word.

  • Vlak 3 Daar is ’n “gelokaliseerde”reaksie: Selfs al is sy oë oop, sien hy nog nie. Skielik maak die popoë en sy irritasie met die kateter vir my sin.

[caption id="attachment_58831" align="alignnone" width="179"]Jackie met sy onsiende "popoë". Jackie met sy onsiende "popoë".[/caption]

  •   Vlak 4 Hy is deurmekaar-rusteloos en/of aggressief. Hy verander skielik van onderaktief na ooraktief. Hy kan gil, skree of aggressief optree. Hy kan sy aandig vir kort rukkies op een ding vestig. Hoe “wakkerder” hy mettertyd word, hoe meer bewus word hy van die stimulasie uit sy omgewing, maar sy brein werk nog nie goed genoeg om die sin van alles te sien nie en dit kan hom verwar. Ja, vlak 4 is duidelik waar ons op die oomblik is . . .

  • Vlak 5 Deurmekaar-ontoepaslik: Hy is nie rusteloos of aggressief nie en reageer konsekwent op eenvoudige enkelopdragte.

  • Vlak 6 Deurmekaar-toepaslik: Hy kan roetinetake uitvoer soos om te eet, aan te trek en te bad. Sy geheue oor onlangse gebeure is steeds swak.

  • Vlak 7 Outomaties-toepaslik: Hy kom bolangs normaal voor. Hy kan roetinetakies outomaties uitvoer sonder om te verward te raak. Hy sal egter nie veel onthou van wat hy gedoen het nie. Sy oordeel is swak, sy probleemoplossingsvaardighede is geknou en hy kan nie realisties vir die toekoms beplan nie omdat sy insig nog baie beperk is.

  • Vlak 8 Doelgerig- toepaslik: Sy geheue oor die verlede is goed, maar oor onlangse gebeure kan dit vaag wees. Ná so ’n besering het die beseerde dikwels ’n kleiner vermoë om te redeneer, stres te hanteer of goeie oordeel aan die dag te lê. Sosiale, emosionele en intellektuele vermoëns keer dikwels nie heeltemal terug na waar dit voor die besering was nie.

    [caption id="attachment_58868" align="alignnone" width="500"]Lindie aan die herstel. Links onder is sy en ma Sandy saam gaste op die kykNet-program 'n Lewe Met. Foto: Medihelp Lindie aan die herstel. Links onder is sy en ma Sandy saam gaste op die kykNet-program ’n Lewe Met. Foto: Medihelp[/caption]

Ek besef hierdie pad gaan swaar wees, maar ten minste weet ek nou wat ek te wagte kan wees.

En dat dit ’n pad is wat wel iewers op ’n padkaart aangedui is.

- Michelle Fourie

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het. Lees haar volgende aflewering aanstaande Dinsdag.

* Gaan gerus ook na Susan se webtuiste.