Ek het vandag ’n baaikostuum strand toe gedra, vier jaar sedert ek die lewe aan Kian geskenk het. My maag is sag en oortrek van die rekmerke. Volgens ons samelewing is ek die soort vrou wat nie ’n bikini of monkini behoort te dra nie.

Maar ek het in elk geval een gedra, want ek hou van hoe dit sit en hoe dit lyk aan my lyf. Ek geniet die son teen my vel en ek glo my rekmerke is kragtig en pragtig. Dit getuig daarvan dat ek ’n mensie binne-in my gedra het.

Ons samelewing sal ons laat glo ons moet alle bewyse van ons moederskap versteek en verafsku, dat swangerskap ons lyf verrinneweer het. Die teenoorgestelde is waar – ons lyf is mooi juis omdat dit nie perfek is nie. Juis omdat dit nie sonbruin, maer, vaal of vol kurwes is nie. Omdat ons nié kort of lank of bloot ‘perfek’ is nie, omdat ons ’n bobeengaping het of nie het nie, of omdat ons nie sterk maagspiere of ’n sagte magie het nie.

Ten spyte van wat mense dalk glo, bestaan ons lyf nie net om na gestaar te word nie. Ons waarde kan nie bepaal word deur ’n eensydige opvatting van skoonheid nie. Ons lyf is mooi in eie reg bloot omdat dit bestaan. Belangriker nog as skoonheid – ons lyf werk! Dit is funksioneel. Dit baar kinders en vervaardig vir hulle die beste moontlike kos.

Ons het arms om ons kinders mee te dra, lippe om hul wonde te soen en sterk bene sodat ons kan afbuk om hul doeke om te ruil. En ons bloed, brein en hart hou dit alles in stand.

Sien om na jou lyf en koester dit. Moet dit nie haat omdat die samelewing glo dis nie goed genoeg nie. Jy is goed genoeg! Wees lief vir jou lyf!

Stem jy saam met Stacey? Laat weet ons wat jy dink en stuur jou bydrae na web@huisgenoot.com.