Terwyl Jackie in ’n koma in intensiewe sorg lê en hul geld ál minder word, moet sy gesin se lewe op ’n manier voortgaan. Lees die aangrypende tweede aflewering van Michelle Fourie se blog oor haar lewe saam met haar breinbeseerde man.

[caption id="attachment_55083" align="alignnone" width="600"]    Die Fourie-gesin  op ’n plaasuitstappie enkele jare gelede. Van links is Michelle, Ruan, Jacques en Jackie. Die Fourie-gesin op ’n plaasuitstappie enkele jare gelede. Van links is Michelle, Ruan, Jacques en Jackie.[/caption]

DIE dae verloop soos ’n wipwa: een dag op, die volgende dag af.

Dis wanneer dit so donker is dat ’n mens bewus raak van die lig om jou: my ma, my familie, my vriende en die vreemdelinge verskyn soos engele om my om my regop te hou en kalmte te bring in ’n see wat nie ophou storm nie.

Jackie se oë is toegeplak, sy tong is vasgemaak om te keer dat hy dit insluk, en in sy keel is ’n pypie geplaas om sy longe te help werk, want dis vir hom ’n ontsettende inspanning net om asem te haal.

Masjiene tik . . . tik . . . bliep . . . bliep.

Jackie in ICU

Besoektye in die intensiewe sorgeenheid is beperk. En wanneer die deure oopswaai om besoekers binne te laat, is ek te bang om in te gaan.

As ek Jackie sien, weet ek nie wat om te doen nie. Hy is in ’n koma. Mag ek aan hom vat? Wat sê ek? Onwillekeurig dink ek aan elke sepie wat ek al gesien het en waar karakters dikwels in ’n koma beland. Wat ek nou met absolute sekerheid kan sê is dat dit glad nie, glad nie, soos in die movies is nie.

Die karakter maak nie skielik sy oë oop en alles gaan net normaal voort nie.

Die Saterdag ná die ongeluk speel my seun Jacques se Hoërskool Menlopark-rugbyspan in die halfeindronde vir die Beeld-trofee. Die span speel met swart armbande ter ondersteuning van Jacques, wat nou ’n moeilike tyd beleef. Vir sy pa, wat altyd langs die veld was wanneer Jacques rugby speel, word daar vooraf gebid.

Menlopark wen en dring deur na die eindronde. Jacques speel die beste rugby van sy lewe.

photo1

Ek kan die pad tussen Pretoria en die hospitaal in Alberton al met toe oë ry. Soms kos dit my ’n uur om daar uit te kom en ander kere drie uur, so tussen die padbouery, ongelukke, ysreën en selfs een dag sneeu deur.

Blydskap en ontreddering

Vier weke in intensiewe sorg!

Intussen is ons bankrekening ver oortrokke, al ons kredietkaarte is in die rooi en elke moontlike sent word by die hospitaalrekening inbetaal. My senuwees is gedaan.

Op ’n dag kry tref ek met besoektyd vir Jackie op ’n uitskopstoel aan. Dis die eerste teken van vooruitgang, maar vir my die eerste van vele nuwe traumas wat wag.

Ek het gewoond geraak daaraan dat hy net lê. Met elke stappie vorentoe tref die werklikheid my van voor af: Die man met wie ek 20 jaar getroud is, het baie, baie seer gekry.

Op die dag van die Beeld-eindronde verloor Jacques se span teen Hoërskool Waterkloof.

Ons ry daarna hospitaal toe. Toe Jacques sy pa sien, lê hy sy kop op Jackie se skoot en huil sy hart uit.

Maar steeds is daar geen beweging nie.

[caption id="attachment_55788" align="aligncenter" width="600"]Die finale wedstryd teen Waterkloof. Dis Jacques met die bal, en agter hom is sy spanmaat  Michael du Preez. Die finale wedstryd teen Waterkloof. Dis Jacques met die bal, en agter hom is sy spanmaat Michael du Preez.[/caption]

Om ’n knie te kan buig

Die ventilator word ontkoppel, die keelbuis kom uit. Jackie word gevoer, maar sy oë bly toe en bitter min verander verder. Die dokters praat van ’n rehabilitasiehospitaal waar heen hy oorgeplaas moet word. Ek kry kwotasies . . . en my keel trek weer toe oor die astronomiese kostes. Kan gesondheid so duur wees? ’n Wonderwerk moet gebeur.

Ek begin navorsing doen, en dink aan Pippie se ma, wat ook hierdie pad moes loop.

Die Tshwane-rehabilitasiehospitaal in Pretoria is ’n staatshospitaal met ’n neurologie-afdeling wat bereid is om Jackie te aanvaar, mits hy goed genoeg reageer. Hy moet byvoorbeeld op eenvoudige opdragte kan reageer, soos dat hy sy knie moet buig. Maar tot dusver het hy omtrent nie eens beweeg nie. Ek reël dat ’n ambulans hom Pretoria toe vervoer. Steeds bly lê hy roerloos daar. Ek bid soos ’n besetene – wat as hulle hom nie aanvaar nie?

Hy word getoets. Die fisioterapeut praat sag met hom: “Mr Fourie, bend your knee.” En daar buig my man sy knie!

Dis genoeg reaksie na die rehabilitasiehospitaal se sin en hy word aanvaar. Halleluja!

En toe sink die besef vir die eerste keer werklik in. My man het ’n breinbesering. Die pad gaan nie maklik wees nie.

- Michelle Fourie

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade opgedoen het. Lees haar volgende aflewering aanstaande Dinsdag.