'n Huisgenoot-leser het onlangs in 'n brief aan ons vertel sy het enkele ure voor haar pa se dood 'n voorgevoel gehad hy gaan sterf. Lydia is duidelik nie al een nie, want nadat ons die brief geplaas het, het hordes lesers vertel hulle het soortgelyke ervarings gehad.

"In Mei 2013 is my ouma oorlede. Ek was die Sondag voor haar dood by haar en sy het my gevra om myself los te maak van haar," skryf ene Belodine per e-pos aan Huisgenoot.

"Ek het vir haar gesê: 'Ouma, hoe kan Ouma dit van my vra?' en is huis toe. Die volgende dag bel my ma om te vra of hul ouma hospitaal toe moet stuur, want sy verswak, en ek sê hulle moet self besluit. Ek was alleen by my werkplek en het in die gang afgeloop en gevoel hoe iets my vasdruk van agter af.

"Ek het geweet dit was ouma wat my verlaat het. Die volgende oomblik lui my selfoon en my pa sê ek moet huis toe kom. Ek vra nie hoekom nie, ry huis toe en by die huis vertel my pa my dat ouma oorlede is. Ek het vir hulle gesê ek weet."

Ook Maureen vertel sy het haar pa se dood voorspel en is spyt dat sy nie haar voorgevoel vertrou het nie.

"My liewe pa het nooit hartprobleme gehad nie. Maar een Sondagoggend kry hy 'n massiewe hartaanval.

"Hy is met die ambulans weg hospitaal toe en dadelik in die hoësorgeenheid opgeneem. Dit het gelyk asof hy ons gaan verlaat. Ek het nog nooit soveel gehuil soos daar langs sy bed nie.

"En ewe skielik word hy beter en word na 'n gewone saal oorgeplaas. Die volgende Vrydagaand sê hy ons moet nie die Saterdagaand vir hom kom kuier nie, want hy wil rus. Hy sê ons moet die Sondagoggend ná kerk kom.

"Die Saterdagaand voor ek in bed klim, gaan ek op my knieë voor die bed om te bid. Toe ek klaar is, sê ek vir my man ek moes vanaand na my pa toe gegaan het. Hy sê toe my pa het gesê ons moet môre ná kerk kom. En ek hou vol ek moes gegaan het.

"Daardie nag is my pa dood. Sy hart het gaan staan. Ek was in 'n toestand. Ek het myself lank verwyt omdat ek nie die Saterdag maar vir hom gaan kuier het nie. Ek wou nog vir oulaas vir hom gesê het hoe lief ek vir hom is."

Tog het lesers soos ene Viona haar kwaai uitgespreek teen dié voorbodes.

"As mense se geloof in God maar net so groot sal wees soos die snert waarin hulle glo, soos voorbodes en wie weet wat als, sal die wêreld 'n baie beter plek wees," het sy op ons Facebook-blad geskryf.

Ander lesers het die voorbodes as "heksery" afgemaak en geskryf dit is taboe.

"Ek het ook al voorbodes gehad, maar dit nie dadelik geweet nie," skryf Dot per e-pos aan Huisgenoot.

"Op Saterdag 7 Junie 1975 het ek elfuur die oggend verskriklik aan die huil gegaan sonder enige rede. Die volgende oggend het ek die tyding gekry dat my broer, sy meisie, haar ouers en haar suster almal op daardie presiese tydstip in 'n motorongeluk oorlede is.

"'n Swaarvoertuigbestuurder het aan die slaap geraak, voor hulle ingery en al vyf is op slag dood. Dit was op die Ogies-pad terwyl hul op pad was na die enigste oorlewende seun se troue."