Soos die lewe dit wil hê, sal ’n man NOOIT ervaar hoe moeilik swangerskap kan wees nie; daarom sal ’n man NOOIT ten volle kan begryp presies wat ons beleef nie. Ek meen vroue is ietwat van ’n onreg aangedoen, want ’n man sal NOOIT weet hoe swangerskap voel nie en dus NOOIT vir ons die volle eer kan gee wat ons toekom nie. Maar dis nie hulle skuld nie, dis danksy ’n Hoër Hand.

’n Eerste swangerskap kan moeilik wees. Ná daardie verwarrende jare as tiener en iets-in-die-20’s ken jy jouself deur en deur, in liggaam en gees. En dan kom neem ’n vreemdeling jou lyf oor en verander jou in ’n emosioneel gestremde ellendeling. Ek kan dit sê, want ek is nou een van vier vroue onder my hegte vriendinne wat swanger is. Almal ervaar soortgelyke gevoelens. Die een oomblik is jy opgewek, die volgende terneergedruk. Dan sit jy vieruur soggens op die toilet en slaap, want jou blaas het eindelik amptelik die gees gegee. En dan huil jy by jou man, want jou gunsteling-jeans wil ewe skielik nie meer verby jou knieë kom nie. En jy kan maar net nie van die soemo-stoeipak ontslae raak waarin jy elke keer moet vaskyk as jy in die spieël kyk nie.

Ek het baie emosies beleef met my eerste swangerskap met Cadence. Ons het ’n miskraam gehad voor ons haar verwek het. Ek was 11 weke ver toe ek die baba verloor het en tot in daardie stadium het ek eintlik die swangerskap as vanselfsprekend aanvaar. Ek het al die verwagte emosies beleef: hartseer, smart, blaam. En toe kom ek tot die gevolgtrekking dat ek dit nooit sal verwerk tensy ek weer swanger raak nie. Dit was ook in daardie stadium dat ek besef het ek is skielik BAIE broeis. Moeder Natuur het oorgeneem en ek wou REGTIG ’n baba hê. Ons was gelukkig dat ons elke keer vinnig swanger geraak het.

In elk geval, my swangerskappe het vele onsekerhede, vrese en gemoedskommelinge meegebring. Skielik wou ek nie meer elke naweek partytjie hou nie en my liewer afsonder. Ek het verskonings uitgedink vir elke ete waarna ons genooi is. Ek weet steeds nie of dit regtig die moegheid is wat dit veroorsaak of die geveol van liewe hemel ek kan nie al die skraal meisies hanteer terwyl ek soos ’n vark in ’n  duikpak lyk gevoel nie.

Dan is daar die vrese. Groot vrese. Jy dink dalk verloor ek nog ’n baba, dalk misluk ek as ’n ma wanneer die kind gebore is en dalk vat my man die pad en los my vir iemand wat nie so geswolle, knorrig en . . . winderig . . . soos ek is nie. O, die vrese!

Wel, toe ek eindelik al die lawwe, maar baie normale en natuurlike, vrese oorwin het, het ek gedink: Goed, kom ons doen dit. Kop vooroor, voete omhoog, kom ons pak die volgende nege maande aan.

Ek glo my man het die geduld van ’n heilige. Ek staar af en toe na hom en dink: “Die Here moes jou spesiaal vir my gemaak het, want niemand sou my en my gemoedskommelinge nou verdra het nie”. (In my oë is hy regtig die wonderlikste man ter wêreld!)

Tien minute nadat ek hom aangestaar en gesê het: O, hy is so dierbaar en wonderlik en malvalekkerig, kyk jy weer en dink: Kyk na hom, lekker gemaklik op sy stoel, geen boep wat hom soos die boggelrug van seekoeistad laat lyk nie. Hy kan soveel drank drink as wat hy wil en hy het die energie van ’n 14-jarige seun. Ek wil hom baie graag nou met hierdie koppie VOLROOM kruisementgeur (mmmm kruisement) warmsjokolade gooi.

Maar jy doen dit nie, want jy is gelukkig nog nie heeltemal die kluts kwyt nie. Dan beur jy maar vorentoe terwyl ’n miljoen hormone deur lou lyf swiep. Jy staar weer na jou almanak en tel hoeveel weke en dae jy nog oorhet. (Ek kyk letterlik ELKE ses uur van ELKE dag na my app. vir wat om te verwag wanneer jy verwag.)

Ek wou hê my man moes HEELTYD my gedagtes kan lees. Ek het hom vrae gevra terwyl ek weet net een antwoord is reg en hy sal dit waarskynlik nie gee nie en dat die duiwel dan deur die vloer sal opkom en hom TOT IN ALLE EWIGHEID tot in die dieptes van die HEL verdoem. Goed, ek oordryf, maar ek is seker daar word soms vergelykings getref tussen my en die duiwel iewers om ’n kroegtafel saam met sy pelle. Dis nie regverdig teenoor hulle nie. Ons moet vir hulle sê presies wat ons wil hê hulle moet doen. Dit kan alles so eenvoudig wees.

Ek het geleer dis nutteloos om jou oor iets te vererg as hulle nie eens weet daar is ’n probleem nie. Met hierdie swangerskap het ek die reguit pad gekies. As daar ’n probleem is, maak ons werk daarvan, kom met ’n oplossing vorendag en kry dit agter die rug.

Dis ’n absolute seën om ’n baba te dra. Die uiteinde is die grootse gawe wat God ons gegee het om te ervaar. Ek kyk elke dag na my dogter, sien haar pappa se oë na my terugkyk, en dink: “Ek sal swangerskap ’n honderd keer vir jou beleef”.

Ek dink ek probeer net sê, swangerskap is moeilik, vreesaanjaend en ’n toets vir enige verhouding. En, ja, ons almal ervaar dit soms, maar wanneer jy daardie engeltjie in jou arms vashou, laat dit werklik alles na kinderspeletjies lyk.

Ek het nog ’n paar weke van hierdie swangerskap oor (ses! jippie). En, soos vir die meeste vroue, was dit soms moeilik. Maar ek is opgewonde. Ek kan nie glo ek het deur twee swangerskappe gehou sonder ’n enkele senu-ineenstorting nie! WOOHOO!

Dis nie maklik om ’n vrou te wees nie, maar ons het ’n innerlike krag wat ons deur ENIGIETS kan dra. Ons is natuurlike vasbyters. Ons is!

- Deur Morgan Deane Smith

* Morgan Deane Smith is die vrou van die krieketster Graeme Smith

Lees haar ander blogs, hier: Blogs, Morgan Deane Smith