Die beeldskone Hollywood-aktrise, Hale Berry, het op 46 bekendgemaak sy verwag haar tweede kind.

Dit is haar en haar verloofde, Oliver Martinez, se eersteling saam.

Nadat die nuus aangekondig is, het Huisgenoot ’n gelukwensingsboodskap op Facebook geplaas met die vraag: “Dink jy vroue bo 40 moet dit steeds oorweeg om kinders te hê?”

Ons het omtrent ’n hewige reaksie gekry met meer 300 aanhangers wat hul mening gelug het.

Lesers wat dit ondersteun:

Jolene Cordier: Natuurlik! As jy gesond is, hoekom nie? Go for it!

Melanie-ann Diesel: Ja, hoekom nie? As jy gesond is dan sal daar nie ’n probleem wees nie.

Anna-marie Kumm: Ek glo as die Here dit vir jou wil moontlik maak, is daar geen ouderdom wat jou kan keer nie.

Anet Van Wyk: Ek het my laatlam op 43 gehad en sy is die kosbaarste geskenk ooit. Ja, as jy beplan om gesond te bly, is daar niks fout nie. Downsindroom is op alle ouderdomme moontlik.

Katinka Nel: Ek is nou 43 en sal wat wil gee vir nog ’n baba!

Lesers wat daarteen is:

Elaine Schoeman: Dit is ’n individuele keuse, maar ek sal nie graag bo 40 kinders wou hê nie.

Suzette du Plessis Robinson: Nee, o genade, wanneer die arme kind 21 is, is die ma 67!

Mariana Snip Vermeulen: Net om op 60 ’n tiener van 14 te hê?! Nee wat, ek dink nie dit is so gaaf nie.

Natalie Klynsmith: Nee, dis glad nie regverdig teenoor die kinders nie.

Lionette Steyn: Nee asseblief nie. My ma was 45 en pa 50. Ek het saam met ’n ouma en oupa grootgeword, want toe ek 16 was, was hulle reeds 60 en 65 en het nie meer die krag vir ’n tiener gehad nie.

Voordele

Liggaamlik:

Danksy vrugbaarheidsbehandeling is dit tog moontlik om op hierdie ouderdom kinders te hê.

Geldelik:

Wat jou geldsake betref, is jy waarskynlik beter daaraan toe as in jou 20’s en 30’s. Jou skuld, wat gewoonlik in jou 20’s en 30’s aangegaan word, behoort grootliks afbetaal te wees.

As jy al spaargeld het, kan dit help om jou deur te dra as jy dalk ter wille van jou baba tuis moet bly.

Emosioneel en sosiaal:

Jou loopbaan is waarskynlik gevestig en veilig en dit sal bes moontlik vir jou makliker wees om kraamverlof te neem. Jy is emosioneel meer gereed vir ouerskap.

’n Ondersoek deur Brittanje se Universiteit van Leicester se ouerskapsnavorsingsgroep toon ouer vroue is sielkundig beter voorberei op swangerskap en in staat om die stres te bowe te kom danksy lewenservaring. Daar is ook bevind dat ’n kind hulle nuwe lewenslus gee.

Nadele:

Liggaamlik:

Jy sal jou dalk tot vrugbaarheidsbehandeling moet wend, wat duur en liggaamlik en emosioneel uitputtend is. Jy sal ’n groter kans hê om swangerskapskomplikasies soos preëklampsie (hoë bloeddruk tydens swangerskap) en swangerskapsdiabetes te ervaar.

Jy het ook ’n groter kans op ’n keisersnee of tangverlossing en miskrame. Die risiko vir ’n baba met Downsindroom is sowat 1 uit 28 vir ’n ma van 45. Dis drie keer hoër as in jou 20’s.

’n Vrou van 40 se risiko vir ’n kind met outisme is die helfte meer as dié van ’n vrou wat in haar laat 20’s ma word. Jy kan minder energie hê vir die versorging van ’n pasgebore baba.

Geldelik:

Jou aftrede sal waarskynlik met jou kind se universiteitsjare saamval. Jy sal nougeset moet beplan en verwoed spaar.

“Vroue wat later in hul lewe kinders het, het dalk wel al hul loopbaan gevestig, maar hulle loop ook die gevaar om die toebroodjiegeslag te word: om na bejaarde ouers of ander familielede om te sien terwyl hulle kinders grootmaak,” sê Les Mayhew, ’n professor van statistiek aan die Cass-sakeskool in Londen.

Die mediese gevare van ’n baba hê, is veel meer en die mediese uitgawes is hoër.

Emosioneel:

Jy sal jou oor jou en jou baba se gesondheid bekommer, want die kans om ’n baba met ’n geboorte-afwyking te hê, verhoog saam met ’n vrou se ouderdom.

Vroue wat ouer is as 40 wanneer hulle die eerste keer ma word, het dalk op die ou end minder kinders as wat hulle wou hê. Jy sal ’n korter deel van jou lewe saam met jou kind kan deurbring.