Deesdae staan ek drie minute en staar na die grond wanneer ek iets laat val het (en dit gebeur gereeld).

Terwyl ek staar, oorweeg ek verskeie opsies voor ek dit waag om te buk om dit op te tel. Sal ek wag tot iemand verbykom en dit vir my optel, of sal ek dit net daar los? Sal ek dit met my voet wegskop en later lus wees om dit op te tel, of sal ek nou buk en dit optel?

As laasgenoemde die finale keuse is en ek wel buk om wat geval het op te tel, bly ek sommer ’n rukkie lank daar onder om te kyk of ek nie dalk nog iets sien wat ek moet optel nie. Hoekom?

Want dis ’n missie. Die buk en die opkom. Buiten dat my maag nou goed uitsit, maak progesteroon en relaksien nie juis my lewe maklik nie. Hierdie twee hormone span saam om die gladdespiere te beïnvloed en versag die kraakbeen, wat my gewrigte en ligamente los maak en allerhande heup-en bekkenpyne veroorsaak.

En liewe jimmel, dit veroorsaak aan die regterkant die seerste pyn in my lae rug wat ek nog ervaar het! Ek brul behoorlik soos ’n leeuwyfie wanneer daardie pyn begin!

Relaksien versag ook my serviks ter voorbereiding vir die geboorte, wat eintlik onnodig is omdat ek ’n keisersnee wil ondergaan, maar relaksien weet dit nie – so hy maak nes hy wil.

Ek het onlangs nuwe skoene gaan koop. Dit was ’n reuse-uitdaging, want ek het groot voete.

Lees ook: Leser vertel: ‘Swanger…en dit op 44!’

Ek dra ’n no. 8 skoen, maar moets soms ’n no. 9 dra, na gelang van die maak. Ek koop maar by Woolworths, want oor die algemeen hou hulle goeie groot skoene aan.

Dié keer het selfs die no. 9 het baie styf gesit. Eers agterna lees ek dit is ook relaksien se skuld. Die hormoon maak links en regs kraakbeen sag, so of dit nou my serviks, my gewrigte of my voete is, hy maak sag!

So lees ek toe vanweë hierdie hormoon raak sommige vroue voete tydens swangerskap groter. Boonop kan dit gebeur dat jou voete nie later weer krimp nie.

Genade! Wat as ek ’n no. 10-skoen moet dra? Waar kry ’n mens sulke groot skoene? Ek gaan soos ’n hobbit lyk wanneer ek aankom – mense gaan eerste my voete sien, dan my maag en dan vir my!

Die hormone beïnvloed ook my brein. Ek maak nie ’n grap nie. Ek doen regtig simpel goed, soos om in die middel van die nag op te staan om water te gaan drink.

Ek loop kombuis toe, gooi vir my ’n glas water in en gaan terug bed toe. Wanneer ek in die bed klim, is ek steeds dors en soek my water, maar dis nêrens. Ek loop terug kombuis toe en daar staan die vol glas net so in die wasbak.

Nou die dag koop ek vir my ’n baie mooi swart top oorkant by die Chinese winkel. Ek moes na ’n belangrike vergadering gaan en was baie in my skik met my nuwe top.

Dis soos ’n poncho gesny. Net ’n gat bo vir my kop en dan hang hy so lekker los.

Ek voel baie selfvoldaan met my nuwe swart top en groet almal by die vergadering vriendelik met drukkies en waai my arms en gaan tekere.

Lees ook: 44-jarige leser deel swangerskapreis met Huisgenoot – ‘ek is te sensitief’

Terwyl ek so in die vergadering sit, loer ek so af na my arm en daar sien ek toe dis glad nie ’n poncho nie. Die top het moue! Ek het net nooit die moue gesien of aangetrek nie.

Dink jou dit nou in. Hier stap ek ewe selfvoldaan met my nuwe swart top in en waai my arms en groet uitbundig en die mense rondom my sien seker net moue rondswaai!

Niemand het iets gesê nie. Ek het toe maar in die vergadering die moue rustig sit en aantrek – sonder dat iemand sien. Of dalk het hulle, maar hulle het niks gesê nie. Seker net gedink: “Ag, sies tog.”

Die laaste tyd was ons weer bedrywig. Om die waarheid te sê, meer as ooit!

Ons het Aardklop besoek en vasgeloop in die wonderlike Irma en Sampie van Vir die Voëls, Huisgenoot se eeufeesfliek waarvan ons die publisiteit behartig.Ons het by Emperors Palace die première van die fliek Eintlik Nogal Baie bygewoon. My wonderlike regterhand, Gizela Arndt, het dit met soveel kundigheid hanteer.

’n Dag voor my man se verjaardag het ons na Julio Iglesias gaan kyk, ons het weer ons ginekoloog besoek (en ’n nuwe foto gekry!) en op 15 Oktober ons huweliksherdenking gevier. Elf jaar getroud met die wonderlikste man op aarde!Gisteraand sê my man vir my die mooiste ding: “Liefie, weet jy hoekom ons so lief vir mekaar is en so ’n wonderlike verhouding het waarvan baie mense droom? Dis omdat albei van ons meer gee as wat ons verwag om te ontvang.”

En toe hy dit sê, besef ek ek het nog nooit so daaraan gedink nie, want ons doen dit net. Ons gee nie ons liefde, steun en vriendskap aan mekaar omdat ons iets wil terughê nie. Ons gee net en dan kom dit alles net hier in die middel bymekaar en sorg vir magic! En die klein nuweling se koms is natuurlik ’n uitvloeisel daarvan.