1069982_696971726995533_738409455_n

Ons glanskok-blogger Sarah Graham maak verruklike wintersop wat net so mooi lyk as wat dit lekker smaak. SOMS moet ons die eenvoudige dinge in die lewe vier. Die sagte, stil oomblikke. Ek vind dat die winter dit regtig in ons almal uitbring. Ek dink dis omdat ons soveel meer tyd binnenshuis deurbring, stil opgekrul, en meer tyd het om na te dink. Ek hou van vele winterdinge: die wollerige sokkies, meer koppies stomende tee as gewoonlik en natuurlik stadige kos wat liggies en saggies prut. Kos wat pretensieloos is, maar tyd kos om in iets wonderlik te verander. En vir my is sop een van die winter se groot wonders. Dit hoef nie ’n somber gemors in ’n pot te wees nie, dit kan ’n wondermooi ding wees, voortreflik in sy eenvoud, maar onmeetbaar bevredigend. Hier is twee van my gunsteling- heilsame sop-aandetes. Ek hoop jy hou net so baie daarvan soos ek. Ertjie-en-kruisementsop met spekvleis-croûtons

Genoeg vir 4 mense | Bereiding 5-10 minute | Gaarmaaktyd 20 minute

pea and mint soup

Ek is gek oor hierdie sop. Dis vars en funky en kan binne 25 minute op die tafel wees. Ek weet dit klink (en lyk!) vreeslik groen, maar wanneer jy eers dáárby verbykyk, sal jy iets absoluut betowerends ontdek.

JY HET NODIG

1 e olyfolie

4 sprietuie

4 preie, die groenste punte verwyder en in growwe skywe gesny

2 middelslag-patats, geskil en in blokkies gesny (jy kan aartappels gebruik indien jy dit verkies)

1 knoffelhuisie, fyn gekap

800 ml groente- of hoenderaftreksel

3 k bevrore ertjies

4 e gekapte vars kruisement

1-2 e vars suurlemoensap

½ k vetvrye natuurlike jogurt (opsioneel)

’n groot knippie sout en vars gemaalde swartpeper

suiker na smaak

SPEKVLEIS-CROÛTONS

125 g spekvleis, in blokkies gesny en tot goudkleurig en bros gebraai

MAAK SO

1 Verhit die olyfolie in ’n groot pot, voeg die sprietuie en preie by en braai 2-3 minute tot sag. Voeg dan die patat en knoffel by en braai nog 3 minute.

2 Voeg die aftreksel by en bring tot kookpunt. Verlaag dan die hitte en laat 10-15 minute prut tot die patat deurgaar is en maklik met ’n mes geprik kan word. 3 Voeg die ertjies by, laat 3 minute prut en verwyder van die hitte. Roer die kruisement, suurlemoensap en die meeste van die jogurt by. Laat ’n paar minute afkoel en meng in die voedselverwerker of met ’n stokmenger terwyl jy sout, peper en suiker na smaak byvoeg. 4 Herverhit om voor te sit of eet koud as ’n al fresco-opsie. Garneer met ’n blerts van die oorblywende jogurt, ’n paar heel ertjies, ’n bietjie gekapte kruisement en die spekvleis-croûtons. Geroosterde tamatie-en-tiemiesop met gruyère-vingers

Genoeg vir 4-6 mense | Bereiding 5 minute | Gaarmaaktyd 1 uur (Moeiteloos)

 tomato and thyme soup

JY HET NODIG

SOP

1 kg gemengde tamaties, grof gekap (ek gebruik ’n mengsel van gewone slaai- en rosa-tamaties)

3-4 takkies vars tiemie of ’n plat teelepel droë tiemie

1 rooi soetrissie, sade verwyder en grof gekap (opsioneel)

6-8 knoffelhuisies

½ t droë brandrissievlokkies

2 e olyfolie

2 e balsemieke asyn

1 t suiker

’n groot knippie sout en peper

2 k aftreksel (ek gebruik graag lam)

GRUYÈRE-VINGERS

4 snye suurdeegbrood

1-2 e olyfolie

¼ k gerasperde gruyère-kaas, of enige harde kaas van jou keuse

’n groot knippie sout en vars gemaalde swartpeper

MAAK SO

SOP

1 Voorverhit die oond tot 180 ºC. Plaas al die bestanddele behalwe die aftreksel saam in ’n bakpan. Bak 20 minute bedek en dan 15 minute, of tot die tamaties gerooster is en begin karameliseer, onbedek.

2 Haal die bakpan uit die oond en sit eenkant om tot kamertemperatuur af te koel. Verwyder die tiemietakkies as jy vars tiemie gebruik het. Skep die mengsel in ’n voedselverwerker en meng tot die verlangde dikte.

3 Net voor jy die sop voorsit: Skep dit in ’n groot pot op die stoof, bring tot kookpunt, voeg die aftreksel by en laat 2-3 minute liggies prut. Verwyder van die hitte en sit dadelik voor saam met gruyère-vingers.

GRUYÈRE-VINGERS

4 Bedruip die snye suurdeegbrood met olyfolie, bestrooi met sout en peper en dan die gerasperdegruyère-skaafsels.

5 Plaas 3-4 minute of tot goudbruin op ’n bakplaat onder ’n voorverhitte rooster. Sny die vingers en sit dadelik voor.

* Sarah Graham is ’n kosblogger, kookboekskrywer en kookprogramaanbieder. Lees gerus meer op haar blog afoodieliveshere.co.za. Haar kookboek, bitten, is by boekwinkels landwyd en aanlyn by haar webtuiste, http://afoodieliveshere.co.za/bitten-cookbook/, te koop. Kyk ook na haar TV-program, bitten – Sarah Graham Cooks Cape Town, Sondae om 16:00 op SABC3.

Lees Sarah se ander blogs:

Die pad vorentoe

Kosnostalgie