En tog is dit die moeilikste tyd om nuwe uitdagings aan te pak, want Januarie stel op sy eie reeds genoeg eise.

’n Goeie plan is om die Nuwejaarsgees tot jou voordeel aan te wend terwyl jy ’n bietjie vakansie het. Op dié manier kweek jy goeie gewoontes waarop jy in die nuwe jaar net kan voortbou.

Hier is my vyf topwenke om 2017 suksesvol in te lui:

1. Skakel jou digitale instrumente in Desember soveel moontlik af. Behalwe dat dit nodig is om behoorlik te ontspan, is dit goed om gewoond te raak daaraan dat jy nie heeltyd verbind is nie. Dit blyk een van die grootste voornemens op hedendaagse lysies te wees, maar dis moeilik om daarmee te begin wanneer jy reeds terug is by die werk. Een middag en een oggend per week, asook ’n volle dag elke naweek sal reeds die wêreld se verskil maak.

2. Die meeste mense gaan die een vorm of ander van fisieke doelwit hê vir die nuwe jaar. Verhoog in jou vakansie solank jou aktiwiteitsvlak. Probeer byvoorbeeld om elke dag te gaan stap. Wanneer jy fikser is, kan jy fietsry, draf of swem. Doen dit saam met jou gesin en hou die pas baie gemaklik. Die doel is net om jou lyf voor te berei vir die aanslae waaraan jy hom in die komende maande wil onderwerp. Met dié goeie begin het jy ’n baie beter kans om vol te hou met die nuwe gewoontes.

3. Baie mense besef hierdie tyd van die jaar hoe min tyd hulle saam hul geliefdes deurgebring het. Tel tydens die vakansie daardie drade op en kom op die hoogte van mekaar se sake. Doen iets lekkers wat julle weer nader aan mekaar sal bring. En as jou geliefdes dieselfde behoefte het, probeer ’n vaste reëling vir die toekoms tref, soos ’n koffieafspraak elke tweede Donderdag of ’n familiebraai elke maand. Die kans dat julle dit sal nakom, is baie beter as julle onlangs gesellig gekuier het.

4. ’n Goeie regpak doen wonders vir die siel. Skep ’n bietjie orde en gooi alles weg wat onnodig is. Dalk ontdek jy selfs vergete aankope. As dit afgehandel is wanneer Januarie aanbreek, sal jy beslis meer in beheer voel. Lees boeke wat jy êrens gekoop maar van vergeet het. Dieselfde met tydskrifte. Skenk goed waarvoor jy nie nut het nie. Jy kan selfs ’n paar goed verkoop en sakgeld vir die vakansie bymekaarmaak. Elke keer dat jy van onnodige goed ontslae raak, skep jy ruimte in jou lewe vir dit wat werklik belangrik is.

5. Tussen die kuier, ontspan, fisiek aktief raak en skoonmaak deur gaan jy geleidelik begin sin maak van die jaar wat verby is. Dit is ’n heerlike geleentheid om jou lewe in oënskou te neem en jou vir die jaar wag in te stel. So begin jy die jaar met ’n beter begrip van dit wat jy wil bereik.

  • Gielie Hoffmann werk as ’n geestesbreier met topsportmanne, leiers, kunstenaars en entrepreneurs. Besoek sy webtuiste om nog hieroor te lees. Sy eerste boek, #TheToughAthlete – 10 Tools to Improve Your Mental Toughness, is van 15 Desember af op amazon.com beskikbaar.