Andrew het gekies om die week tussen Kersfees en Nuwejaar te werk. Natey se wonderlike au pair, Melinda (Minda), is net vir die week met verlof, en ek ook.

Andrew het gevra of ek enige hulp wou hê in die drie dae dat hy sal werk terwyl ek met Natey by die huis is.

Ek het nee gesê. Ek sien eintlik gretig daarna uit om my kleinding vir myself te hê en die kans te kry om al die koel en prettige goed te doen wat ek nie kon doen terwyl ek werk nie – die goed wat hy en Minda die kans kry om te doen (terwyl ek benydenswaardig foto’s op WhatsApp kry).

Ons swem daardie dae, speel saam, verken, deel avonture en het pret om saam te wees.

Vrydag het ek ’n spinklas by die gim bespreek. Nathaniel werk opgewek saam en kort voor lank vertrek ons gim toe terwyl Andrew nog slaap. Agterna, sweterig en blosend van ’n goeie oefensessie, gaan haal ek Natey waar hy tevrede in Junior Care speel.

Op pad huis toe besluit ek om stil te hou vir koffie by my gunsteling plaaslike koffiekroeg. Hy sit op die stoel langs my terwyl ek my koffie geniet. Hy teug aan sy sap en roep trots uit: “Ek geniet my happie!”

Ek neem selfs ’n foto om vir Pappa te stuur sodat hy kan sien hoeveel pret ons het.

Hy raak aan die slaap tydens die rit huis toe. Terwyl hy dut, het ek baie tyd om te stort, sakke te pak en vir die res van die dag reg te maak.

Ons sou na The World of Birds gaan om my suster en haar kinders te sien. Dit is een van Natey se gunstelinguitstappies. Toe hy wakker word, is ons vort.

Ons het ’n heerlike tyd terwyl ons die wêreld saam verken. Natey se gunstelingdeel is om met al die vragmotors in die sandput te speel.

In ’n stadium stap ons deur een van die onderste hokke (ek dink dit was die reiers), toe ’n groot kraai skielik hard krys en in ons rigting na die heining pik. Ons gil verskrik. My suster sê: “Dis ’n slegte voorteken.”

“Ek weet nie hoekom ek dit gesê het nie,” merk sy agterna op. Ons dink nie toe veel daarvan nie en sit ons besoek voort.

Ons is eindelik weg en groet mekaar ’n hele ruk ná die amptelike toemaaktyd terwyl die laaste van die personeel loop.

Ek en Natey kronkel terug van Houtbaai na Seepunt, onversteur deur die vakansiegangers se verkeer. Ons is net gelukkig om in mekaar se geselskap te wees terwyl die dag tot ’n einde kom.

Terwyl ons deur Kampsbaai ry, sê Natey: “Mamma is nie kwaad nie. Mamma is nie hartseer nie. Mamma is gelukkig.”

Ek sê: “Ja, ek is baie gelukkig. Is Natey ook gelukkig?”

Hy antwoord: “Natey ook gelukkig.”

Ons ry in minlike stilte verder. Hy sê toe: “Mamma is pragtig.”

Ek is verstom. Ek het hom maar net een keer tevore die woord “pragtig” hoor sê. Ek wonder wie vir hom die woord geleer het. Ek besluit dit moes Minda gewees het. Ek straal steeds behoorlik van liefde en geluk. Kon die dag meer volmaak gewees het?

Toe ons Seepunt nader, vra ek: “Haai, Natey, wil jy strand toe gaan?”

Hy sê natuurlik ja. Toe draai ek met die eerste geleentheid in Bantry Bay af en gaan na ’n strand waar ek nog nie voorheen was nie.

Natey loop self by die trap af en tot op die strand. Ons sit op ’n rots en omhels mekaar. Ek neem sy laaste drie pragtige foto’s en laai almal net daar op Facebook.

Ons gesels, hy speel met klippe en skulpe, en ons baai net in die kalm, goue warmte van die aand.


Ná ’n ruk gaan ons huis toe. Ek kry ons uit die motor en uitgepak en stel toe voor ons swem. Hy is gretig. Toe gaan ons op die dek uit en trek uit. Ek tot in my onderklere en hy kaal.

Ons het ’n heerlike en ontspanne en liefderyke swem. Ná ’n rukkie sê ek vir hom ek kry koud en wil uitklim.

Hy sê: “Swem nog, Mamma.” Ek sê vir hom hy kan nog swem as hy wil en ek sal hom dophou. Hy sê nee en besluit om uit te klim. Ons vly ons teen mekaar aan in die groot handdoek in die laaste aandson.

Toe gaan ons binnetoe. (Waar ek seker is ek die babahek toegemaak het wat tot op die dek lei. Ek moes tog sekerlik? Ek het altyd. Ek het altyd by ander mense daaroor geneul!)

Ek begin aandete maak. Sit ’n lading wasgoed aan. Was skottelgoed. Laai ’n rolprent op ons hardeskyf af om later te kyk. Maak vir ons tee. Gee die hond en kat kos . . .

Ek dink ek het my in ’n stadium ophou verwonder oor hoe wonderlik die dag was en hoe alles net maklik en reg was. Ek dink ek het selfs selfvoldaan gedink: “Ek wen vandag met die lewe!”

Onnosele dwaas!

Natey stap saam met my rond terwyl ek doenig is, lewer kommentaar, gesels, help, vra wat ek doen, vra soos gewoonlik: “Wat maak jy?”, “Hoekom doen jy dit?”

Hy kom ook te voorskyn met ’n hand vol hondekos soos hy soms maak.

“Natey. Wat doen jy?” vra ek.

Waarop hy parmantig antwoord: “Ek mors die hondekos”.

Ek: “Hoekom doen jy dit?”

Hy: “Hoekom doen jy dit?” (Hy het nooit daardie vraag beantwoord met enigiets anders as om te herhaal “Hoekom doen jy dit?” nie.)

Ek is eerlikwaar nie gepla nie. Ek dink selfs: “Ag, wat ook al, die hond kan van die grond af eet.”

Maar ek vra hom halfhartig om dit skoon te maak. Hy verdwyn by die agterdeur uit, af na die hondebak toe en kom ’n kort rukkie later terug.

Ek vra of hy “skoongemaak” het en hy gee vir my een van daardie kyke met sy kop skuins gedraai asof hy wou sê: “Dame, wil jy nou regtig hê ek moet jou antwoord?” Ek dink ek het hom gekielie en gesê: “Jy is so stout!” en dit net daar gelaat.

Ek is nog besig om aandete te maak en rond te peuter toe ek sien ek het ’n klomp WhatsApp-boodskappe van Andrew deur die dag misgeloop.

Ek voel ’n bietjie sleg dat ek heeldag skaars met hom gekommunikeer het. En omdat ek bewus is daarvan om behoorlik met die belangrike mense in my lewe in aanraking te bly, wil ek reageer.

Natey vra vir speeldeeg en ek haal dit uit, maak dit oop en sit dit op sy tafel. Ek knie dit af en sit ’n vorm daarin om vir hom te wys wat om te doen.

Ek sê vir hom ek gaan net vinnig met Pappa praat.

Hy volg my. Hy vra my om met die deeg te speel. Hy wil ook kos hê. Toe gee ek hom ’n klein peuselhappie, want ons gaan binnekort aandete eet.

Ek het ’n taak op my skootrekenaar oop gehad. Ek sou later duidelik onthou ek het gedink: “Ek wil dit regtig doen, maar ek hoef nie nou dadelik nie. Dit kan wag. Nou bestee ek tyd saam met Natey. Ek kan dit doen wanneer hy slaap.”

Pleks daarvan skakel ek na WhatsApp oor en stuur sowat sewe reëls om op Andrew se boodskappe te reageer. Dit is om 19:57 tot 19:58. (Ek het nog die boodskappe met tydstempels.)

Toe hou ek op en luister. Dit is stil. Vreemd stil. Te stil. Ek roep amper uit. Pleks daarvan staan ek op en stap na die eetkamer, net ’n paar treë weg, om die hoek.

Natey is nie by sy tafel nie. Ek dink dadelik: “O, hy is terug ondertoe na die hondekos toe.”

Ek is op die punt om deur die kombuis na die agterdeur te stap om by die trap af te kyk toe my instink vir my sê “kyk in die swembad”.

Iets wat ek altyd doen. Elke keer wanneer ek nie seker is waar ’n kind is nie, kyk ek altyd eerste in die swembad. Sonder uitsondering en as ’n roetine. Geen deel van my dink hy is naby die swembad nie. Ek weet hy is nie. Ek draai amper terug, voel laf.

Toe sien ek die hond buite op die dek sit. Ek dink nie regtig daaroor nie. Maar hoe het hy daar buite gekom? Wat maak hy daar? Hoekom sit hy daar en staar net in die verte?

Toe stap ek op die dek uit. Kyk na die swembad en sien niks. Ek draai amper terug. Ek roep Natey se naam hierdie keer . . . Ek dink my onderbewuste besef dat as hy by die hondekos was, sou die hond mos by hom gewees het, of hoe?

Ek gee nog twee treë vorentoe tot waar ek reg af tot in die swembad kan sien – en is geskok om Natey daar op die bodem van die swembad te sien.

OP DIE BODEM!

Wat de f*k?! Hy het nou net langs my gestaan. Nie twee minute gelede nie. Ek het nou net gesê: “Laat ek net gou met Pappa praat.” Nie vererg of uit woede of afstotend nie. Op ’n ligte en vriendelike manier.

Ek spring by die water in, gryp hom aan die arm, en trek hom op.

Terwyl ek hom na bo bring, is my grootste bekommernis dat hy sal huil en ontsteld wees, en wat ’n jammerte dat ek hierdie hartseer bliep op ’n andersins volmaakte dag geskep het . . .

Maar toe besef ek dit is veel erger as dit. Hy hoes of proes of stik nie. Niks.

Ek haas met hom na binne, worstel met sy nat, glibberige, kaal lyf, val so te sê oor die babahek en probeer hom met sy kop na onder hou sodat die water uit hom sal loop. Ek lê hom op die eetkamermat neer en begin met mond-tot-mond en gee ’n paar borsdrukke . . .

Daardie f****n geluid van lug wat outomaties uitasem nadat jy mond-tot-mond gedoen het, sal altyd by my spook. Elke keer as dit gebeur, is ek oortuig die mens haal asem! (Ek het dit ook twee maande tevore aanskou toe ’n kollega by ons spanbou inmekaarsak en ek die ouens met KPR-pogings gehelp het voor die paramedici opgedaag het. Ongelukkig het ons ons kollega daardie dag sien sterf. Maar steeds is die KPR vars in my geheue. Ek ken die stappe.)

Ná ’n baie kort rukkie besef ek ek het nog hulp nodig. Ek moet bystand kry; ’n ambulans. Met die wete dat ons buurman in die pad af se volle span gewapende veiligheidswagte ’n paar 100 m weg wag staan, tel ek Natey op en hardloop met hom in my arms uit na die straat.

Op pad uit druk ek ons paniekknoppie. Ek skree vir die wagte: “Help! Ken julle KPR!”

Hulle sien my en hardloop op na ons toe. Ek sit Natey langs die oprit neer en gaan voort om self KPR te doen en suig slym en vomeersel uit sy mond.

Hulle kom aan en dui skynbaar aan hulle weet wat om te doen. Toe laat ek hulle oorneem. Ek sê vir hulle hy het in die swembad geval en haal nie asem nie. En hulle begin.

Ek vra hulle om ook ’n ambulans te bel en hardloop terug in die huis om ’n foon te gryp. Ek kry die huisfoon en my selfoon en hardloop weer uit om seker te maak hulle doen KPR behoorlik.

Ek sukkel met die fone en kan nie onthou watter nommer om te bel nie voor ek eindelik 107 bel en regkry om die oproep te plaas. Dit voel of eeue en eeue verbygaan.

Ek hardloop nog in en trek ’n kortbroek aan (ek was nog in my onderklere) en bel toe weer. Hulle sê vir my ek het nou net gebel. Ek vra hulle hoekom kom niemand dan nie.

Hulle sê vir my hulle kom; ek moet wag. Ek weet ek het wat ek gedink het die tweede oproep na 107 was, om 20:05 gemaak. Dis vyf tot ses minute nadat ek die WhatsApp-boodskappe gestuur het. (Die SMS-verwysing vir die eerste oproep het om 20:06 deurgekom, minder as sewe minute later.)

Dit was nadat ek hom gekry het, self KPR gedoen het, hom buitentoe gevat het, nog KPR gedoen het, aan die sekuriteitsouens oorhandig het, teruggegaan het in die huis, weer uitgekom het, en toe gebel en die oproep na die nooddienste gemaak het. Hy kon nie meer as ’n minuut of twee alleen gewees het nie.

Hoe kon hy in daardie tyd op die dek uitgegaan en in die swembad geklim het? Stil, met geen geraas van die hek nie? Geen praat nie. Geen hondeblaf nie. Geen plas nie. En belangriker nog: Hoekom? Hoekom het hy na buite gegaan? Wat het hy gedoen?!

Later daardie aand kry ons sy geliefde speelgoed-voorlaai-vragmotor waar dit in die swembad dryf. Dit was nie voorheen in die swembad nie.

Dit het net buite die deur droog geword van die vorige dag af. Hy moes daarmee ingeklim het. Tot op die tweede trap afgegaan het . . . en? Wat? Daarna uitgereik en ingegly het?

Hoe kon dit so vinnig gebeur het?! Hoe kon die kind wat heeldag aan my sy gebly het in salige, liefdevolle vriendskaplikheid, wat vir my elke gedagte en gevoel gesê het, net so weggedwaal het?

Ek kan nie, kan nie, kan nie daarvan sin maak of dit verstaan nie. My brein kan net nie die beeld van my pragtige, volmaakte baba uitvee nie. Andrew se pragtige, volmaakte baba. Wat daar onder in die swembad lê. Waarskynlik reeds dood toe ek op hom afgekom het.

Hoe de f*k kon dit gebeur as ek hom so liefgehad het en ek was daar saam met hom, as ek na hom gekyk en hom versorg het? Hom liefgehad en met hom gespeel het? Met my volle aandag op hom gefokus het.

Hoekom was ek so dom om Andrew nie toe te laat om iemand te kry om my te help om na hom te kyk nie? Hoekom was ek so selfsugtig om hom net vir myself te wil hê?

Ek het Natey in die steek gelaat. En vir Andrew. Vir my seuns en myself. Ek moes saam met hom met deeg gespeel het soos hy gevra het.

Ek het soos ’n besetene vir Andrew gebel, met die alarm wat nog lawaai maak. Hy was reeds op pad. Ek het vir hom gesê hy moet dadelik huis toe kom.

Ek raak ál angstiger omdat die ambulanse net nie opdaag nie.

Ek hardloop op en af, kry handdoeke, komberse, kussings, my handsak, trek droë klere aan. Hardloop op en af asof dit enigiets uitrig. Ek stap op en af, biddend. Hande ineengevleg. En vra myself af hoekom niemand opdaag nie?!

Eindelik sê die sekuriteitswagte: “Ons het ’n sirene. Wil jy gaan?”

Ek sê ja. Ons klim in hul gepantserde Mercedes. Hulle skakel die sirene aan en ry soos besetenes, druk die toeter, versnel en trap hard remme.

Gaan, gaan, gaan! Ná vier of vyf blokke ry ’n ambulans verby ons. Ons bestuurder gee pad na die kant van die pad. Die ambulans draai om en ry in ons rigting.

En toe daag nog een op en nog een en nog een en nog een en die polisie, wie weet wie nog? Daar was seker vier of ses ambulanse, paramedici en polisiemotors.

Ons staan langs die pad. Die paramedici begin werk. Eers vra hulle oor die litteken op sy bors. Ek verduidelik dis ’n vernouing van die aortaklep, dat dit reggestel is en dat hy oukei is. Red hom asseblief tog net. Hulle kry ’n suurstofpyp en kry die EKG aan die gang. Daar is geen hartklop.

Ek kyk terwyl hulle noodhulp toepas. Borskasdrukke, suurstof, adrenalien . . . Daar is beweging op die EKG, dan niks, dan weer iets.

Ek bid vir ’n God waarin ek nie glo nie, ek smeek, pleit.

Ek bel weer vir Andrew (om 20:19). Huilend. Smeek hom om net hier uit te kom. Ek glo sowaar sodra hy opdaag sal alles oukei wees. Dit is altyd oukei as hy hier is.

Ek stap op en af. Kyk. Wag. ’n Paar omstanders probeer my oorreed om te gaan sit, waar ek nie kan sien of “ontsteld” sal wees nie. F*k dit. Ek bly hier. Kyk. Ek wil hê dit moet oukei wees. Andrew daag eindelik op en hy haas hom na die toneel.

Ons hou mekaar vas. Ons kyk. Ek sê ek is jammer. Ek het amper flou geval. Ek het gedink ek gaan flou val, opgooi of sterf. Ek wou.

Ek sê: “Haal asem, my skat.”

Andrew sê: “Hy gaan dit nie maak nie.”

Ek sê net: “Nee, nee, nee.”

Hulle sê: “Kom ons gaan hospitaal toe.”

’n Teken van hoop?!

Ons klim almal in verskeie voertuie. Die sekuriteitswagte neem my en Andrew in die Mercedes daarheen. Ons ry weg met sirenes wat loei. Die hele Seepunt en Fresnaye het geweet hier skort iets.

Ons kom 21:00 by die hospitaal aan. Ons gaan na die noodeenheid. ’n Vrouedokter in swart (ek het nog nooit swart hospitaaldrag gesien nie?) gee een kyk en sê: “Hoekom het julle hierheen gekom?”

Hulle huiwer en loer na ons. Iemand draai na ons en sê: “Kan ons julle na die trooskamer neem?”

“Nee, ons bly hier,” sê Andrew.

Ek sê: “Ons sal nie inmeng nie, doen asseblief net wat julle moet doen.”

Hulle pas steeds noodhulp toe. Dis 21:05.

Die paramedikus kyk na die dokters en sê:

Daardie sin het vir my gesê wat ek moes weet. Dit was verby. Hy is weg. Die liefde van my lewe. Die liefde en lig van Andrew se lewe. Die lig in Quinn, Griffin, Melinda, en al ons familielede en almal wat hom geken het se lewe, was weg. Dood.

Hulle het daarna almal uitgestap. En die deur toegemaak. En Natey het daar op die draagbaar gelê. Ek en Andrew het net daar gestaan. Andrew het sy foon uitgehaal en foto’s begin neem.

Hy het ook ’n lok van Natey se hare met ’n skêr afgeknip. Hy het besef hy gaan nooit sy derde verjaardag vier en sy eerste haarsnit kry nie . . .

Ek stap dadelik oor na Natey en begin alles van hom afhaal. Andrew lyk bekommerd en kyk twee keer (ek dink hy’t gewonder of ek dit mag doen).

Ek het nie omgegee nie. Ek het die suurstofpyp versigtig uitgetrek, die elektrodes van die EKG afgehaal en die binneaarse drup uitgetrek. Ek tel my pragtige babaseun op, draai hom toe in ’n kombers en gaan sit met hom.

Ek sit daar met hom, hou hom vas teen my bors, ruik aan hom, asem hom in, soen hom oor en oor. Ek wag vir hom om daardie pragtige ogies oop te maak en oukei te wees. Hy lyk asof hy slaap. Hy is sag en warm, sy lippies vol en rosig. Dit voel asof hy daar is.

Hulle neem ons ná ’n ruk in die ambulans na die forensiese patologiedienste (oftewel die lykshuis). Ons moes daar vir hom tot siens sê en hom oorhandig. Ons moes met beamptes, polisiemanne, paramedici praat. Niks het sin gemaak nie. Ek het geen idee wat daar gebeur het nie.

’n Gawe polisiekonstabel het ons agterna huis toe geneem. Waar ons nie kon slaap nie. Die volgende oggend moes ons teruggaan en hom weer by die lykshuis sien om “die liggaam te identifiseer”. Dit was die ergste f****n ervaring ooit.

Ons pragtige baba. Pragtige, pragtige, pragtige seuntjie. Ons volmaakte sprokie.

Die einde.

Die artikel het oorspronklik op janefraser.blogspot.co.za verskyn. Lees die volledige storie hier .

Jane en Andrew samel geld in ter ere van hul seun met die (Nathaniel Leonidas Thor Canter) for the Children’s Hospital Trust ten bate van kinders met hartsiektes. Indien jy ’n skenking wil maak, besoek hul Facebook-blad hier.