37 vrou

“Die trane sit vlak. Dis ’n paar dae voor my 37ste verjaardag. Ek dink terug aan my lewe. Hartseer was daar baie.

“Die grootste seker oor ek nooit my eie baba sal kan vashou nie. Mense verstaan nie, dis so maklik om te vra: ‘Wanneer begin julle met ’n gesin?’ Of om te sê: ‘Julle moet gou maak. Jul biologiese horlosie tik.’

“Mense kan baie onsensitief hieroor wees. Ek weet hulle bedoel dit seker goed. Maar dit was weer sulke woorde wat my vandag laat huil het. My kamstige goeie vriendin se woorde: ‘Geen vrou kan ’n vrou vir haar man wees as sy nie vir hom kan kinders gee nie.’

“En sy weet waardeur ons al alles was in ons strewe om ’n babatjie te hê. Tussen die trane deur hoor ek gelukkig dan weer my man se woorde voor ons troue: ‘My Engelmens, ek trou met jou oor jou as mens. Nie net om kinders te moet hê nie. Ek trou met jou as vrou. Kinders is net ’n bonus.’

“Dan weet ek: Met hom aan my sy sal ek altyd die trane weer kan weg lag. Hy is immers my beste vriend.

“Dankie, my man.”

? Hoe voel jy oor hierdie brief? Of is daar iets anders wat jou na aan die hart lê? Stuur ’n e-pos na web@huisgenoot.com en jou brief word dalk gepubliseer.