[caption id="attachment_56782" align="alignnone" width="600"]Jackie nadat hy uit die koma gekom het (links) en twee weke voor die ongeluk (regs) Jackie nadat hy uit die koma gekom het (links) en twee weke voor die ongeluk (regs)[/caption]

DIS dalk ’n goeie idee om jou nou voor te stel aan Sophie. Sophie Flennie Sibanyoni, wat kort ná ons troue by ons begin werk het. Dis dus nou byna 20 jaar gelede.

In die loop van 20 jaar word ’n hegte verhouding gevorm met die mense wat elke dag in jou huis werk. Hulle weet immers watter onderklere jy die vorige dag aangehad het. Hulle weet van die vibes in die huis terwyl jy vir die wêreld daar buite ’n front kan voorhou.

Sophie was die een wat my seuns as babas geabba het en ons deur dik en dun bygestaan het. Sy is deel van die familie, een van die mense naaste aan my.

Die dag nadat Jackie by die rehabilitasiehospitaal in Pretoria aanvaar is, is ons vroegoggend soontoe om te gaan kyk hoe dit gaan. Ons was daar nog voor hy in die ambulans van die hospitaal in Alberton af opgedaag het.

[caption id="attachment_56785" align="alignnone" width="500"]Hier wag Sophie vroegoggend by Jack se leë bed in die rehabilitasiesentrum. Hier wag Sophie vroegoggend by Jack se leë bed in die rehabilitasiesentrum.[/caption]

Nadat hy opgedaag het en gemaklik gemaak is, kyk hy na Sophie en groet haar . . . saggies, maar duidelik hoorbaar.

Dit van ’n man wat die afgelope ses weke sedert die motorongeluk nog geen woord geuiter het nie en skaars laat blyk het dat hy verstaan wat om hom gebeur.

Natuurlik gee sy groet toe ’n tranedal af – en ’n getoitoi soos ek nog nie eens op TV gesien het nie.

Toe kyk Jackie na die seuns, en groet hulle ook. Hulle klouter dadelik op die bed, uitgehonger vir hul pa se stem, sy aandag, sy teenwoordigheid.

Ons hoor vir die eerste keer werklik sy stem. Maar dit klink anders die toonhoogte is hoër en dit klink soos iemand anders se stem.

[caption id="attachment_56779" align="alignnone" width="450"]Jackie en Jacques 'n paar dae later. Jackie praat onduidelik en sag en Jacques moet fyn luister om hom te volg. Jackie en Jacques 'n paar dae later. Jackie praat onduidelik en sag en Jacques moet fyn luister om hom te volg.[/caption]

Ons sien dat hy gou weer insluimer. Hy’s nog aan ’n drup en ’n kateter gekoppel.

Later word dit ook vir ons duidelik dat ons nie elke keer dieselfde reaksie gaan kry as ons hom sien nie.

Partykeer wanneer ons by hom aankom, is sy oë oop, maar dit lyk soos popoë. Groot en wasig en dood. Daar word aan ons verduidelik dat hy in die “grys area” is. Tussen slaap – die koma – en wakker.

[caption id="attachment_56780" align="alignnone" width="600"]Ek en die kinders by Jack in rehab. Hier het hy so pas uit die diep koma gekom, maar hy is duidelik in die 'grys gebied': Hy wys geen emosie nie en staar met popoë. Ek en die kinders by Jackie (Ruan links en Jacques regs) in rehab. Hier het hy so pas uit die diep koma gekom, maar hy is duidelik in die 'grys gebied': Hy wys geen emosie nie en staar met popoë na die kamera.[/caption]

By die rehab gaan Jackie intensiewe multidissiplinêre terapie kry. Fisio-, spraak- en arbeidsterapie. Hy moet byna alles van voor af leer doen. Hy kan nog loop nie, en sal dus vir eers op ’n rolstoel aangewese wees.

Dis ’n staat-rehabilitasiesentrum. Die gordyne is vaal, die badkamervenster stukkend . . . maar die vloere blink en ek kry ’n ongelooflike gevoel van berusting.

Dis waar ek besef het ons is gestroop van alles wat wêrelds is.

Dat ras, geld en kultuur nie saak maak nie.

Hier is ons net mense . . . almal in dieselfde bootjie.

- Michelle Fourie

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het. Lees haar volgende aflewering aanstaande Dinsdag.