Vervreemding, dink ek, is baie soos ’n ongelukkige huwelik. Nie almal praat daaroor nie.

Ek bedoel, jy maak nie ’n inskrywing op Facebook en sê “Ek so ongelukkig getroud” en sluit jou maat daarby in nie. Verbeel jou dit. Dit sal darem rimpelings in jou eenvoudige lewe veroorsaak.

Mense praat nie daaroor nie. Jy hou jou mond en hoop vir die beste.

Maar ek is moeg. Ek is moeg om alleen te weet van ’n misdaad wat elke dag gepleeg word. Niemand word gevang nie en niemand word daaroor aangespreek nie. Terwyl ek weet ek is nie alleen nie.

Ek is van my kinders vervreem.

Vervreemding van jou kinders. Ek weet nie of dit in die ou dae gebeur het nie. Miskien het dit. Dit is seker hoekom daar soveel kinderhuise is. Want wat is die verskil tussen twee ouers wat besluit ons kan nie na hierdie kind of kinders kyk nie, kom ons vat hulle kinderhuis toe. En een ouer wat besluit ons is geskei en omdat ek kwaad is vir jou, sal jy nooit weer jou kinders sien nie. Tata!

Ek is sewe jaar gelede geskei. Die rimpeleffek het nog nie opgehou nie.

Sommige mense skei en gaan met hul lewe aan. Sien die kinders dan en wan. Trou en pas aan by die nuwe saamgestelde gesin. Soms gaan dit moeilik. Soms plaas dit baie spanning op die tweede huwelik en werk dit nie. Soms werk dit.

En soms sien die pa nooit weer sy kinders nie. Dit bring my by my storie. Ek is van my kinders vervreem; al ’n goeie drie jaar. En dit is moeilik, so moeilik.

Ek stap in ’n winkel en sien hoe ’n pa sy seun vashou. Soms loop ek net verby, maar soms, soos gisteraand toe ek Pick n Pay toe ry, sien ek ’n seun wat saam met sy ouers in ’n kar ry. Hy kyk stip uit na buite. My kleinste seun se grootte, skat ek. Ek kyk en wonder of my seun ook soms so by die venster uitkyk en wonder waar sy pa is.

Ons ry verby, ek sluk ’n traan weg. Ek kan nie nou aan die huil raak op pad Pick n Pay toe nie. Ek loop saam met my vrou deur die rakke en kan nie daardie seun se gesig uit my kop kry nie.

Ek wonder wat my seuns vanaand doen. Dink hulle aan my? Of het hulle maar afgesny en aangegaan? Ek dink nie ’n kind kan hom afsny van sy pa of ma nie, al wil jy. Ek dink nie so nie. Ek hoop nie so nie.

Dit is ’n geveg. Elke dag. Maar ’n mens raak gewoond daaraan. Jy raak gewoond daaraan om te cope. Om nie hartseer flieks met kinders in te kyk nie en nie te veel aandag aan die familie se kinders te gee nie, want ek kan in ’n oomblik meegee en die deur van verlange oopmaak. Dan kom die trane en ek moet dit sluk.

Tot ek vanaand by my vrou in die donker in die bed lê. Dan loop die trane en sy hou my vas. Daar kan ek huil. Die hele nag deur.

So ’n jaar of wat gelede word ek met ’n beskermingsbevel bedien.

Eers was dit ’n tydelike bevel. Blykbaar omdat ek so aggressief en ongeduldig is met die kinders en dit nie lekker is saam met my nie. Al het ek die afgelope sewe jaar al meer as ’n miljoen rand in onderhoud betaal, is dit nie regtig lekker saam met my nie. Hulle voel ongemaklik saam met my en my nuwe vrou en hulle hou nie meer van my nie.

Ek is vervreem.

Die dag van die hofsaak waar ek die beskermingsbevel moet verdedig, breek aan.

Ek kom by die hof aan en my prokureur laat weet my kinders is in ’n ander lokaal, gereed om teen my te getuig. Ek sak op die hof se vloer neer. My prokureur stap uit. Sy gee my ’n bietjie ruimte. Ek snik soos ’n baba. My eie kinders is gereed om teen my te getuig. Hoe gebeur dit?

My prokureur kom terug en vra of ek gereed is. Regtig!? My seuns, wat elke aand by my geslaap het, wie se voete ek elke aand gevryf het omdat hulle soveel pyn gehad het. My dogter, wat soveel briefies vir my geskryf het oor hoe mal sy oor my is. Hulle is gereed. Maar ek, nee ek is nie. Geen kind in die lewe leef daarvoor om eendag in die hof te gaan staan en teen sy of haar ouers te getuig nie. Kinders is nie daarvoor gemaak nie. Kinders moet speel en skool toe gaan.

Ek besluit toe net daar om nie die beskermingbevel teen te staan nie. Ek laat weet my prokureur en sy bring die dokumente. Ons teken. Ek mag nie dit en dat doen nie, ek mag nie naby die skool gaan nie, ek mag hulle nie bel nie, ek mag nie, ek mag nie, ek mag nie. En ek moet ’n berader gaan sien, en sy sal my evalueer en besluit wanneer ek weer my kinders kan sien.

Ek stap uit die hof, so leeg soos wat ek nog nooit in my lewe was nie. Dis asof die kragdraad in my uitgetrek is. My liggaam beweeg, maar my gees is dood. Ek is sonder woorde.

Ek is vervreem. 

Die lewe gaan aan.

’n Jaar later kry ek dit met groot moeite reg om my kinders in die teenwoordigheid van die sielkundige te sien. Ek is so opgewonde. Ek sien al hoe ek hulle styf teen my gaan vasdruk.

My senuwees is op hol. Waaroor gaan ons praat? Ek stap by die sielkundige se spreekkamer in en sweet.

Sy kom uitgestap. Hulle is daar, maar daar is een versoek: “Hulle wil nie hê jy mot hulle druk of vashou nie; nie eens ’n handdruk gee nie.”

Ek wil in duie stort, maar ek bly beheers. Kan jy dit glo?

Ek stap by die kantoor in. Daar sit my drie kinders. Wow, hulle lyk so mooi in hul skooldrag. Hulle lyk goed, maar hulle glimlag nie. Ek gee vir elkeen ’n klein ietsie, biltong en ’n sjokolade, in ’n geskenkpakkie. “Dankie, Pa.”

Dit is ’n moeilike 30 minute. Soms kyk hulle by die venster uit, nie juis geïnteresseer nie. Ek maak grappies, maar hulle lag nie regtig nie. ’n Halfuur is verby. Ek groet en stap uit. Soos ek uitstap, sak my gemoed en wil ek net huil en huil en huil. Maar ek kan nie.

Ek gaan sit in die wagkamer terwyl sy ook opdaag. Die ma van my kinders. Dit is ’n baie stywe oomblik.

Die kinders kom uit en stap saam met haar na die motor. Ek stap alleen na my motor.

Dit was die laaste keer. Intussen was daar weer ’n onderhoudsaak wat met bloed en haat geveg is.

Hulle soek al my pensioengeld. Hulle soek my ouers se bankstate, my broers se bankstate, hulle soek alles.

Ek skik. Ek betaal die onderhoud ’n jaar vooruit plus die beweerde agterstallige onderhoud. Daar is nie regtig feite nie, maar ek wil dit oor en verby kry.

Die landdros teken die bevel. Hy huiwer so ’n bietjie, want dit gebeur selde dat ’n pa vooruit betaal. Ek sê ek wil seker maak my kinders is versorg, ek is afgelê en miskien kry ek nie werk nie en kan nie die onderhoud betaal nie.

Hy teken en ons stap uit die hofsaal. Ek stap in die straat af. Daar waar die lewe nog aangaan, elkeen sy eie geveg veg. Ek klim in my kar en ry huis toe, na die vrou van my lewe. Die wonderlikste mens op aarde. Die een wat my steun. Die een wat my snags vashou. Die een wat nie vrae stel as ek in die middel van die nag snik en my kussing vol nat kolle huil nie. Die een wat my aanvaar soos ek is en die een wat ek nie hoef te betaal nie.

Hoe gebeur dit? Wel, dit het met my gebeur. Wie se skuld is dit? Jan van Riebeeck, apartheid, die Nasionale Party of is dit Zuma se skuld? Is dit haar skuld, of is dit my skuld? Ek weet nie meer nie.

Dit maak ’n mens lam van moedeloosheid.

Intussen het ek en my vrou besluit ons wil 'n baba hê. Iemand wat ons s ’n is. ’n Kind wat ek elke dag kan vashou. ’n Kind waarmee ek elke aand kan speel en gesels.

Die onderhoudsaak kom weer een van die dae in die hof voor. My geld is op.

Ek hoop regtig die hof sien my saak raak. Ek kan nie meer geld gee nie. Ek het alles verloor die afgelope jaar. Miskien sal ek weer oor ’n jaar of wat onderhoud kan betaal, maar nou kan ek nie meer nie. Ek hoop hulle verstaan.

Vandag klim ek uit die kas.