Hooffoto

HOE ver sal jy gaan om ware liefde te vind? Hoe ver? Ek luister vanoggend na ’n advertensie oor tweedehandse motors. “Waarom,” vra die adverteerder, “sal jy ’n tweedehandse motor inruil vir ’n ander tweedehandse nommertjie? Waarom nie net nuut koop nie?” Dit is soos om (sê die adverteerder) jou eks in te ruil vir dieselfde eks.

Dis hoe dit soms vir my voel. Ek is besig om in die mark van tweedehandse mans rond te woeker. Niemand is meer nuut nie. Almal is al deur ’n paar bestuurders of huwelike en as die enjin nie meer so vinnig trek nie, dan is die wiele pap. Maar fout is daar altyd. Met party mense is daar ’n goeie rede waarom hulle geskei is. Hulle was bloot net nie padvaardig of dan verhoudingsvaardig nie.

Dis in hierdie gemoedstoestand dat ek die afgeloop week Dullstroom toe is vir ’n week van rustigheid, rivierwaters en om my boek, Die Muse, klaar te skryf.

[caption id="attachment_57889" align="alignnone" width="600"]My lieflike uitsig terwyl ek sit en skryf het. My lieflike uitsig terwyl ek sit en skryf het.[/caption]

Ironies genoeg het ek die boek begin skryf toe ek nog in ’n verhouding van sewe jaar was, maar tans bevind ek my in dieselfde situasie as die karakter in my boek: Sy is ’n skrywer op soek na inspirasie – ’n manlike muse wat haar kan help om weer haar skryfwoema terug te kry.

En ek . . . ek is woemaloos. Daarom dalk dat ek die volgende boek van die rak afgehaal het He Loves Me, He Loves Me Not – a Memoir of Finding Faith, Hope and Happily Ever After. Glo my, ek is tans werkloos met ’n elfjarige seun en ek het al hierdie bogenoemdes nodig. Die boek het nogal baie by my geresoneer. Dis geskryf deur Trish Ryan, ’n aantreklike vrou, wat beskryf hoe sy enigiets probeer het om liefde te vind.

Erla met boek

Soos ek het sy op die ou einde uit pure desperaatheid besluit om te trou, en soos ek het sy by ’n gewelddadige man beland. Gelukkig het ek en sy daarin geslaag om uit die huwelike te kom, maar waar ek my geluk op liefdeswebwerwe soek, het Trish alles anders onder die son probeer. Sy het sterretekens geraadpleeg, joga gedoen en selfs haar woonstel gefeng shui – alles om die regte man in haar lewe te bring.

Uiteindelik het sy haar na – in haar geval – die enigste uitweg gewend: God en godsdiens. Eers het sy verskriklik sleg gevoel om God vir iets so lafs soos ’n lewensmaat te vra, maar later het dit vir haar ál duideliker geword dat God nie net die huwelik ingestel het nie, maar ook die liefde. Volgens haar was God alte verheug om haar te help liefde vind.

En het sy dit gevind? O ja. Met ’n Christenman wat haar binne ’n paar maande gevra het om te trou. Is sy nog gelukkig getroud? Sy het ’n webwerf, so ek wou eers gaan kyk het – die siniese sadis in my was vas oortuig hulle is al lankal geskei, maar toe dink ek: Nee, ek gaan vertrou dat hulle nog saam is.

Want dis wat ek ook nodig het – Faith, Hope and Happily Ever After . . . - Erla-Mari Diedericks Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor verhoudings, liefde  en die ervarings van ’n volwasse enkellopende die era van internet-afsrake.  Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com. As jy ook ’n storie in jou onderste laai het, skryf gerus in vir Erla se aanlyn-skryfkursus by http://www.learninggroup.co.za/online-creative-writing-course.php

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/