In ons gereelde agter-die-skerms-blog gesels joernalis Almari Wessels oor die storie wat sy vir Huisgenoot moes skryf oor Rosemary Theron, ’n hanswors en steltloper van  Kaapstad wat vermoor is – na bewering deur haar dogter, Phoenix Racing Cloud.

[caption id="attachment_55499" align="aligncenter" width="600"]Phoenix (links) en haar ma, Rosemary Phoenix (links) en haar ma, Rosemary[/caption]

AS EK by die stofpad kom, ervaar ek ’n sterk gevoel van onheilspellendheid. Ons is hier in Clovelly naby Vishoek, op soek na die huis waar die vermoorde Rosemary Theron (39), ’n nar en steltloper, gebly het.

Is dit die groot groteske masker wat op die stoep staan van die bouvallige huis teen die heuwel wat my ongemaklik stem, die klere en motorfiets wat soos vergete goedere onder die bosse links van ons lê, of die vervalle huis langs die bosse wat ooglopend geen voordeur het nie? Op dié erf is daar vyf honde wat nie kan ophou blaf nie.

Ek klop aan by die netjiese aangrensende huis. Ja, sê die buurvrou, die huis langsaan sonder die deur en met die vyf honde is inderdaad waar Rosemary gewoon het.

[caption id="attachment_55500" align="aligncenter" width="600"]Rosemary se huis Rosemary se huis[/caption]

Dit verklaar die makabere gevoel, want Rosemary is hier naby begrawe, na bewering deur haar dogter, Phoenix Racing Cloud Theron (19), en dié se kêrel, Kyle Maspere (18), nadat Kyle vir Rosemary  na bewering met ’n tou verwurg het.

[caption id="attachment_55600" align="aligncenter" width="213"]Phoenix Phoenix[/caption]

Phoenix en Kyle het nog vier maande ná Rosemary se verdwyning hier gebly en mense was onder die indruk dat hulle onverpoos na haar soek. Maar intussen was Rosemary, wat bekend was in vermaaklikheidskringe, reeds dood.

Ons ry weg van die verlate huis en terug by die kantoor probeer ek mense vind wat vir Rosemary geken het. In my soektog gesels ek met ’n hele klop kleurryke karakters terwyl ek ’n eksklusiewe hoek vir Huisgenoot probeer vind. Uiteindelik stem haar halfbroer, Stephen Theron, ook ’n vrydenker en vermaaklikheidskunstenaar, in om ons te ontmoet.

Hy is ’n innemende, aangename man – ’n deurwinterde hippie wat baie na aan sy suster was. Stephen is maar 43, maar ’n mens kan sien dié voormalige anti-apartheidsaktivis en somtydse boer het al baie in sy lewe deurgemaak.

[caption id="attachment_55511" align="aligncenter" width="331"]Stephen Theron Stephen Theron[/caption]

En nou nog dít ook – sy suster is moontlik deur haar eie dogter vermoor. Sy lewendige stemtoon en geselsritme verander wanneer ’n mens hom oor Rosemary uitvra. Hy bly eers stil en dink voor die woorde weer begin uitstroom.

“Dis vir my te veel om te verwerk,” bieg hy.

Dit wat hy vertel, is aangrypend en hartverskeurend. En dit lig die ironie van dié misdaad uit: Hier was ’n vrou wat haar lewe in kommunes en ander plekke met vrydenkers gedeel en ’n leefstyl van openheid en liefde wou leef.  En toe word sy glo  in ’n klein, huislike omgewing na bewering deur ’n geliefde verwurg, haar dood word versluier en haar liggaam lê vir maande onder die grond voor dit ontdek word.

Onheilspellend is nie die woord nie . . .

[caption id="attachment_55508" align="alignnone" width="600"]Rosemary Theron: nar, steltloper, vermaakkunstenaar, vrye siel Rosemary Theron: nar, steltloper, vermaakkunstenaar, vrye siel[/caption]

- Almari Wessels

Credit Lees Almari Wessels se onderhoud met Stephen Theron in die Huisgenoot van 17 Oktober wat tans op die rakke is..