Morgan1

Morgan Deane Smith is amptelik op bedrus met net ’n paar dae oor voor haar baba opdaag. Nou moet sy net ophou bang wees haar vorige keisersnee-litteken skeur en sy moet beslis ophou om dr. Google te raadpleeg.

DAAR'S nog net een week oor van wat soos ’n ewigheid gevoel het. Dis natuurlik omdat ek twee jaar lank eintlik heeltyd swanger was, met ’n blaaskansie van net 10 weke tussenin. Ek het ’n bottel sjampanje gereed en jy kan maar die marsorkes instuur . . . klink dit ’n bietjie vroeg? Hoekom nie?

Ek is vir eers amptelik op bedrus. My ginekoloog, Paula, is vir ’n week met vakansie en ek bid net dat ek nie begin kraam voor sy terug is nie – my serviks het juis verlede week begin verkort. Dit beteken tegnies dat my baba enige oomblik kan kom, of dat ek glad nie sal begin kraam voor die tyd vir my keisersnee aanbreek nie. O, die onsekerheid! Ek is heel angstig. Ek het regtig nodig om uit te hou tot Paula Maandag terug is. Die ginekoloog wat vir haar waarneem is heeltemal wonderlik, maar ek sou liewer wou wag. Paula het my eerste keiser gedoen en ek wil nie nou begin krap waar dit nie jeuk nie.

Ek is dié week skielik heel ongemaklik. My lyf het byna oornag sy deuntjie verander van “moenie bekommerd wees nie, ek is volkome in beheer van hierdie swangerskap” na  “genade, genoeg is genoeg Morgs, gee my nou ’n blaaskans”. My keiser-litteken kramp en is onder druk. Slaap is ’n nagmerrie want my maag is heel teer. Elke keer as ek omdraai, word ek wakker. In ’n neutedop, ek is nou al taamlik moeg en seer!

Ek is nie bang vir nog ’n keisersnee so kort ná my eerste een nie, maar ek is tog effens bang my baarmoeder skeur weens die gewig van my baba, want hy het nie baie tyd gehad om gesond te word ná die vorige keiser nie en ek het al ’n paar kwaai steekpyne gevoel.

Een van my gewoontes – en my man vertel my gedurig om daarmee op te hou – is om my self te diagnoseer deur my simptome op Google in te tik. Ek wens ek kan stop want ek het al ’n hele spul rillers raakgelees oor die gevolge van twee keisers binne 11 maande. Dis regtig iets waarvoor ek die laaste maand baie bang is, dat my baarmoeder sal skeur. O. Hemel. Waarom skryf niemand oor hulle goeie ervarings op die internet nie sodat ’n mens gerusgestel en ontspanne oor die saak kan voel? Dis altyd net die negatiewe belewenisse. Teen die tyd dat ek die rekenaar afskakel, bewe ek van kop tot toon en klop my hart in my keel.

Omtrent ses maande gelede het ek dr. Google gevra waarom ek pyne in my sy het terwyl ek swanger is. Ek het ’n paar simptome ingetik en Google het my vertel ek het blindedermontsteking. Ek het dit dadelik geglo. Die paniek! Ek het vir Graeme gesê ek moet dadelik hospitaal toe voor my blindederm bars . . . enorme probleem! . . . ’n bietjie melodramaties, ja, want Google het die pot heeltemal misgesit. Dit was net die ligamente in my maag wat weens die swangerskap gerek het . . . piepklein probleem!

Morgan2

Dis moeilik om swanger te wees terwyl jy ’n ander klein baba het. Cadence wil heeltyd opgetel word en die afgelope week kan ek net nie meer buk nie. Ek voel skuldig en dis waarom dit so ’n seëning is dat my ouers op die oomblik uit Ierland hier kuier. Graeme se enkel is ook aan die herstel en hy behoort binnekort weer mobiel te wees, wat eintlik volmaakte tydsberekening is vir wanneer die nuwe baba opdaag.

As ek terugkyk was dit ’n lang swangerskap, maar nie regtig ’n moeilike een nie. Ek het 16 kg aangesit, maar dis darem 4 kg minder as met Cadence. Daar lê baie werk in die gim vir my voor. Die hoeveelheid sjokolade wat ek eet is genoeg om Willy Wonka na sy asem te laat snak, maar ek is gereed om te hervorm. Ek kan nie wag om weer te draf nie, ek is gek oor draf.

Ek het nou minder as 10 dae oor en hoop maar as ek bene in die lug lê en rus sal ek tot die einde uithou. Ons is baie opgewonde!

* Morgan Deane Smith is getroud met die krieketster Graeme Smith.