KONINKLIKE troues in Europa is deesdae maar dun gesaai, maar vir mode- en koninklike slawe is dié geleenthede soos manna uit die hemel.

Want dit is die een ontwerpersuitrusting ná die ander, en natuurlik . . . tiaras, gewoonlik eeue oud met ’n interessante geskiedenis van vorige eienaars. Om alles te kroon is daar gewoonlik nie net ’n kerkplegtigheid nie, maar ook ’n gala-ete die aand voor die troue, die kerkdiens self, en dan natuurlik nog die opskop ná die godsdienstige plegtigheid. So dit is uitrustings, handskoene en ontwerperskoene by dosyne – lekker!

In Monaco is daar altyd ook eers die burgerlike plegtigheid vóór die godsdienstige geleentheid, en met dié dat Andrea Casiraghi tans die tweede aanspraakmaker op die Monaco-kroon is, vermoed ek sy troue sal beslis nie ’n stil affêre wees nie.

Wanneer Andrea en die Colombiaanse erfgenaam Tatiana Santo Domingo (albei 29) afhaak op 31 Augustus – dieselfde dag waarop ons Diana-aanhangers die Prinses van Harte se afsterwe sal herdenk – word hul seun, Sacha, wat in Maart gebore is, dus ook as troonopvolger gelegitimiseer. Hy neem posisie nommer 3 in ná sy pa.

[caption id="attachment_49432" align="aligncenter" width="600"]Andrea en Tatiana Foto: Pascal Le Segretain/Getty Images Andrea en Tatiana
Foto: Pascal Le Segretain/Getty Images[/caption]

Die eerste aanspraakmaker is natuurlik prinses Caroline. Indien sy prins Albert oorleef en hy en prinses Charlene nie kinders het nie, sal Caroline die spreekwoordelike septer in Monaco swaai. Albert se buite-egtelike kinders word glad nie op die troonopvolgerslys toegelaat nie.

In Monaco is kinders kry sonder om eers die kansel aan te doen, niks vreemds nie – Caroline was reeds swanger toe sy en Andrea se pa, die skoongesig-Italianer Stefano Casiraghi, in 1983 getroud is.

Caroline was vir my altyd die spreekwoordelike prinses van strokiesverhale. Hoewel sy as jong meisie die vrugte aan die wilde kant van die draad geproe het en haar eerste huwelik met die heelwat ouer Philippe Junot albei haar ouers, prins Rainier en prinses Grace, grys hare besorg het, het dit gelyk of sy uiteindelik blywende liefde by Stefano gevind het.

Maar toe Stefano in 1990 in ’n hoëspoed-bootvaart verongeluk terwyl al drie hul kinders jonger as ses was, het Caroline haar toevlug tot die Franse platteland geneem en was die Grimaldi’s vir jare nie paparazzi-kos nie (hoewel ons darem op hoogte gehou is toe Caroline se hare uitgeval en sy lank met ’n kopdoek gesien is).

Toe haar kinders groter word, het sy na Monaco teruggekeer en natuurlik het haar derde huwelik, dié keer met prins Ernst van Hanover, al die skindertonge laat klap (hy was nog getroud toe hy en Caroline vir mekaar ogies begin maak het), maar dié huwelik bestaan nog net in naam . . .

G’n mens weet hoe Caroline voel omdat haar pragtige dogter Charlotte (27) swanger is by die veel ouer Franse akteur Gad Elmaleh (41) nie en Franse skindertydskrifte het ook niks daaroor te verklap nie, maar die appel val inderdaad nie ver van die boom nie . . . Hoe dit ook al sy, Charlotte sal waarskynlik ’n paar maande ná haar ouboet ook voor die kansel staan.

Haar tante Stéphanie is ook vir jare nie te vriendelik in Monaco ontvang nie. Haar eerste twee kinders is albei gebore sonder ’n trouring aan die vinger, en sy en haar lyfwag Daniel Ducruet is eers ná Pauline se geboorte getroud. Ná hul egskeiding was Stéphanie betrokke by ’n getroude sirkus-arties, en haar jongste dogter, Camille, is nie op die opvolgerslys nie omdat sy buite die eg gebore is.

Maar kom ek wees nou eerlik, ongeag hul bedsake is die klomp Casiraghi’s aangenaam op die oog.

Prinses Caroline lyk byna altyd asof sy uit ’n bladsy van die modetydskrif Vogue gestap het, en Charlotte het haar ma se voorliefde vir Chanel geërf. Só word Charlotte gereeld in Chanel se advertensie-veldtogte ingespan en is Karl Lagerfeld, hoof-ontwerper en direkeur van Chanel, een van Caroline se beste vriende.

[caption id="attachment_49431" align="aligncenter" width="430"]Karl Lagerfeld, Caroline en Charlotte. Foto: Elite Karl Lagerfeld, Caroline en Charlotte. Foto: Elite[/caption]

Naas Catherine, hertogin van Cambridge, se swangerskapsdrag  is my geld nogal op Charlotte om kraamdrag tot ’n nuwe kuns te verhef. Sy en haar ma word gereeld in skeppings gesien wat kort tevore die loopplank versier het – en dan lyk hulle boonop treffender as die loopplank-model!

Dit was ook einste Charlotte wat haar broer aan Tatiana voorgestel het. Sy en Tatiana was saam op skool. Andrea en Tatiana is al meer as agt jaar lank saam, en hoewel Tatiana in die media as ’n sosiale vlinder en skatryk erfgenaam beskryf word (haar pa is op een na die rykste man in Columbia), is dié skoonheid bekend om haar boheemse kleresmaak. Sy is in 2010 deur die glanstydskrif Vanity Fair aangewys as die bes geklede persoon ter wêreld en het saam met ’n vriendin ’n modewinkel begin, Muzungu Sisters (gaan google gerus en vergaap jou aan die pryse, veral as jy ons rand-wisselkoers in ag neem).

Afgesien van die Casiraghi’s sal die Grimaldi-dame ons ook natuurlik ook nie teleurstel nie. Onse prinses Charlene staan nie ’n modieuse treetjie agteruit vir haar stylvolle skoonsusters nie en kan self ’n rooi tapyt laat bloos wanneer sy met haar kil Grace Kelly-skoonheid na die kameras staar.

En dan moet ons natuurlik nie vergeet van  Pauline Ducruet, prinses Stéphanie se oudste dogter, nie. Dié donkerkop-skoonheid kan sowel haar tante Caroline as niggie Charlotte sterk kompetisie in die skoonheidsafdeling gee. Pauline is 19 en begin nou maar eers die kollig betree, maar wat ’n welkome nuutjie is sy nie! Haar voorkoms herinner my baie aan die tydlose skoonheid van ouma Grace.

[caption id="attachment_49435" align="aligncenter" width="400"]Pauline Ducruet. Foto: Elite Pauline Ducruet. Foto: Elite[/caption]

Net die tyd sal leer of dié jong geslag Casiraghi’s die vloek van Monaco* sal kan vryspring. Ek hoop regtig so!

- Arlene Prinsloo

* Volgens die legende het prins Rainier I in die 13de eeu ’n jong meisie ontvoer en verkrag. Om haar te wreek het sy ’n heks geword en die prins en sy nageslag vir ewig vervloek: "Nooit sal ’n Grimaldi ware huweliksgeluk vind nie."

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Sy is ook Huisgenoot se koninklike blogger. Lees haar ander blogs by:

Die hartseer einde van prins Friso

Wat maak klein Gallie daar?

Welkom in die wêreld!

Is baba C stylvol laat?

Baba C gaan luid verwelkom word . . .

Harde werk tot Baba C opdaag!

Laaste sien van Catherine? 

Wie weet?

Dit is amptelik Julie, baba C se geboortemaand!