[caption id="attachment_62377" align="alignnone" width="600"]Joe Makka staan voor sy klas in Suid-Korea Joe Makka[/caption]

 EK HET op ’n klein plattelandse dorpie grootgeword waar gesproke Engels byna ongehoord en beperk tot my Engelse klasse by die skool was. Natuurlik het ek Engels verstaan, maar ek het begeer om dit beter te praat omdat ek al van jongs af geweet het ek wil eendag reis. Daarom het ek soveel moontlik Engels probeer praat, soms met die snaaksste gevolge.

Daar is ’n handvol mense in die wêreld wat die volgende storie ken, maar ek het besluit om dit met Huisgenoot se bloglesers te deel. Dis een van my mees embarrassing stories, maar een van die lesse wat my die meeste te hulp kom as ek empatie moet hê met hoe moeilik gesproke Engels vir my studente is.

Terwyl ek en my ma eendag Kaapstad toe is om inkopies te doen, het ons gou stilgehou om by Juicy Lucy vrugtesap te drink (bestaan dit nog?). Omdat ek so gretig was om my Engels te oefen, sê ek toe vir my ma om te gaan sit en te ontspan terwyl ek die sap bestel. Nadat ek by haar geld gekry en ons al twee besluit het ons wil lemoensap hê, stap ek toe na die toonbank om die bestelling te plaas.

Ek: “Can I have two lemon juices please?”

Toonbankdame: “Two lemon juices will be . . .

Ek kan nie onthou hoeveel dit gekos het nie, maar nadat ek betaal het, is ek terug tafel toe om vir my lemoensap te wag.

’n Paar minute later kom die kelnerin aangestap met twee glase sap wat meer vaal as oranje lyk. My ma het hardop gewonder hoekom haar lemoensap vaal pleks van oranje is. Dit was nie tot ek die strooitjie in my mond gesit het dat ek agtergekom het watter fout ek begaan het nie. Pleks van lemoensap het ek suurlemoensap bestel!

My ma, wat ek vermoed presies geweet wat gebeur het, het genadiglik niks gesê nie en die suur konkoksie met baie grasie gedrink om my die verleentheid te bespaar. Ons het nooit weer daaroor gepraat nie.

Jare later kan ek as gevolg van daai storie baie empatie hê met die foute wat my studente elke dag maak. Een van daai foute sluip in as ek vir my kiddies, soos ek hulle noem, vra of hulle weet waar ek vandaan kom. Ná amper 18 maande by my huidige skool lui die gesprek nog amper elke keer so.

[caption id="attachment_62379" align="alignnone" width="600"]Joe Makka in Suid-Korea se kinders aan die werk in sy Engelse klas Kinders hard aan die werk in die Engelse klas.[/caption]

Ek: “Do you guys know where I am from?”

Klas: “America!”

Ek: “No, think carefully. I’ve told you before.”

Leerder 1: “America!”

Die hele klas murmureer – dis duidelik nie die antwoord nie want Joe Teacher het dan nou net gesê hy is nié van Amerika nie. Dan probeer ’n ander leerder weer.

Leerder 2: “Saudi Arabia!” (want Saudi Arabia klink om die een of ander rede vir Koreane baie soos South Africa)

Ek: “No, it’s not Saudi Arabia. That’s in the Middle East.”

In hierdie stadium kan ek dalk selfs ’n wêreldkaart uithaal.

Ek: “I am from Africa.”

Klas: “Teacher, you are from Ghana!”

Hulle ken Ghana omdat ’n soort sjokolade met die naam Ghana baie gewild in Korea is.

Ghana-sjokolade in Suid-Korea

Ek: “Okay, I will give you a hint. Think about the soccer world cup of 2010 . . ..”

Die sin is nog nie eens klaar nie dan skree een van die seuns wat mal is oor sokker:

Leerder 3: “Namagong!” (Dis wat Suid-Afrika in Koreaans genoem word.)

Ek: “What is that in English?”

Leerder 4: “Saudi Africa!”

’n Ander leerder sien op my gesig dat dit nie die antwoord is nie, maar sy het klaar die antwoord en steek half teensinnig haar hand op.

Leerder 5: “South Africa.

Exactly, right! Well done,” sê ek.

Wat ek eintlik wil doen is om bollemakiesie te slaan en vir haar ’n high-five te gee omdat dit seker die 10de keer is dat ons hierdie gesprek het.

Daar is natuurlik allerlei redes vir die foute. Een daarvan is dat die klanke van die Koreaanse fonetiese alfabet dit nie altyd toelaat dat hulle al die klanke wat hulle in Engels nodig het, kan uitspreek nie. Nog ’n rede is dat hulle nie juis aan Afrika-lande blootgestel word nie.

Ek moet die leerplan baie nougeset volg, maar as ek die geleentheid kry om vir my kiddies iets te leer oor ander lande en veral Suid Afrika, gryp ek dit aan. Net nou die dag het ek ’n les oor die weer vir my graad 3’tjies aangebied. Ek het besluit om die les te verander sodat ons kan praat oor weersomstandighede in verskillende lande.

[caption id="attachment_62378" align="alignnone" width="600"]Weerkaart in Joe Makka se klas in Suid-Korea Die kinders leer oor die weer in ander lande.[/caption]

Die idee is om my kiddies bloot te stel aan die wêreld buite Korea en om hulle van soveel kulture moontlik bewus te maak. Die blote feit dat ek daar is, stel hulle klaar bloot aan die Suid Afrikaanse kultuur. Ek stel hulle bloot omdat ek glo as ’n onderwyser dit my plig is om meer as net boekkennis oor te dra.

[caption id="attachment_62376" align="alignnone" width="600"]Groepwerk in Joe Makka se klas in Suid-Korea. Die kinders werk in groepe in die klas.[/caption]

In Korea weet kinders meer van Westerse lande as van Afrika- of Suid-Amerikaanse lande. Dit was baie duidelik toe ek in 2008 hier aangeland het. Op een van my eerste dae in die land moes ek my aan ’n gr.1-klas voorstel. Hulle kon glad nie Engels praat nie en ek het dus besluit om die juffrou as tolk te gebruik en vir hulle foto’s van my, my lewe by die huis en my familie en vriende te wys. Toe ek klaar is, was dit tyd vir hulle om deur hul juffrou vrae te vra. Die gesprek het as volg verloop:

Ek: “Do you have any questions?”

Nadat die juffrou iets in Koreaans sê wat ek glad nie verstaan nie en haar klas geesdriftig almal gelyk begin vrae vra, bars sy uit van die lag en sê: “They want to know if you have a pet dinosaur at home.” Nadat ek baie lekker gelag het, besluit ek om die doodonskuldige en baie opregte vraag te beantwoord met ’n wit leuentjie. Toe ek ja sê, en my pet dinosaur by die huis beskryf, rek van die oë in die klas so groot soos ’n ou eenrand-muntstuk.

Ek moes die volgende week teruggaan net om seker te maak die klas weet ek het ’n grap gemaak en hulle gerus te stel dat ons nes hulle ook katte, honde en papegaaie as troeteldiere aanhou.

En so, baie stadig, dag vir dag, met baie geduld en hope inligting, help ek aan ander se Engelse vermoë en wêreldblootstelling bou sodat hulle nie eendag in Juicy Lucy lemon juice bestel nie.

 Tot volgende keer,

 Juicy Joe

Joe

Joe mug shot Joe Makka kom van Hopefield in die Wes-Kaap en gee tans Engels in Seoel, Suid-Korea.