Watter hoogtepunte kies jy as jy net ’n naweek het om een van die wêreld se gewildste toeristebestemmings vir mense te wys? Ons blogger André Brink het sy Kanadese vriende op ’n warrelwindtoer van Kaapstad en omgewing geneem, en nou kyk hy met heeltemal nuwe oë na sy tuisstad.

[caption id="attachment_64866" align="alignnone" width="600"]Foto van 4 vriende voor kaartjieskantoor van Tafelberg Die vriende net voor hulle Tafelberg bestyg het. Van links is Chris Mapp, ons blogger André Brink, Marge Mapp en André se vrou, Rina.[/caption]

SOMS moet 'n mens 'n toeris in jou eie stad/dorp en omgewing wees. Dit laat jou met nuwe oë na jou blyplek kyk.

Soos dit twee weke gelede die geval met my en Rina was toe Marge en Chris Mapp van Montreal, Kanada, 'n paar dae vir ons kom kuier het. Ons het hulle twee jaar gelede op 'n toer in Turkye ontmoet. Hulle was wonderlike toermaats, goeie geselskap en ons het baie goed oor die weg gekom. Ná die toer het ons per e-pos kontak behou en het ek hulle verskeie kere genooi om 'n draai in die Kaap te kom maak – die twee reis graag – en dan by ons te kom bly.  En net toe ek begin dink dit sal nooit gebeur nie, vra Marge my uit die bloute: “How would you guys feel about a couple of house guests?'' Natuurlik het ek dadelik laat weet hulle moet kom. En toe begin wonder – wat gaan ons hulle in drie of vier dae wys? Want toe ek gaan sit en 'n lysie begin maak van wat die Kaap toeriste bied, het ek gou besef ons sal hulle maar net 'n paar plekke kan wys. Uiteindelik het die keuse – Marge het ywerig van haar kan af ge-Google – geval op Tafelberg, Robbeneiland, 'n staptoer deur Langa, wynproe by Stellenbosch en 'n sirkelroete wat Kaappunt insluit. Saterdag Vrydagaand het ek die twee op die lughawe gaan haal en Saterdagoggend vroeg is ons weg Tafelberg toe. Ek en Rina was seker 10 jaar laas op die beroemde berg en ek het in my onkunde gedink dat as ons teen 09h00 daar is, is dit vroeg genoeg, aangesien ek vooraf  die kaartjies gekoop het.

Ek het al vergeet hoe verruklik die uitsig van Tafelberg af is

Wel, ons was teen 09h00 daar en toe het ek besef dis effens te laat! Want Tafelberg het sedert ons laas daar was 'n uiters gewilde toeristebestemming geword. 'n Plek wat mense van oor die hele wêreld lok want om jou hoor jy Engels, Duits, Nederlands, Frans, Spaans, Portugees, Chinees, Japans, Hebreeus, Russies en talle ander tale wat ek glad nie kan uitpluis nie.

Dit het ons 'n uur gekos om bo te kom, maar dis die moeite werd. Want ek het ook al vergeet watter absoluut verruklike uitsigte jy van daar bo af het.  En toe daar boonop 'n ligte suidooster begin waai en die miswolke oor die kranse rol, het dit gevoel of ons in 'n heel ander wêreld is.

Chris, Marge en Rian bo-op Tafelberg

Van daar is ons Stellenbosch toe, via die N2 waar die Mapps 'n heel ander kant van die Kaap gesien het ­– Khyaelitsha se derduisende woonplekke van blik en hout. Ek kon natuurlik met die N1 Stellenbosch toe gery het en dan sou Chris en Marge nie die skreiende bewyse gesien het van die groot gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie. Maar dit sou oneerlik gewees het. Hulle moet die Kaap met vratte en al sien, het ek besluit. Ons het draai gemaak deur Stellenbosch, hulle die universiteit gewys, stilgehou by Oom Samie se Winkel in Dorpstraat, uitgery na die Mooiberge-padstal met sy veelkleurige voëlverskrikkers, hulle 'n paar mooi wynplase gewys en toe gaan eet en wyn proe op Delheim. Rina, Chris en Marge aan tafel by Delheim Die aandete was seekos reg op die strand by Melkbos in Cafe Orca. Daarna was die Kanadese se gô behoorlik uit en op pad huis toe het dit baie stil in die kar geraak! Albei in droomland. Sondag Die Sondagoggend  het ek hulle by die Waterfront gaan aflaai vir hul besoek aan Robbeneiland en daarna is die twee Langa toe. Dié keer is ek en Rina nie saam nie, want ons wou voorberei vir 'n regte Suid-Afrikaanse braai die aand by ons huis saam met vriende en ons kinders.

Hulle was lugtig vir die skilpadjies en wou hul mond nie aan bokkoms sit nie

Robbeneiland was “interessant'”,  het die twee na die tyd gesê, maar dit was duidelik die besoek aan Langa wat die grootste indruk op hulle gemaak het. Vooraf het ek hulle geterg en gesê hulle moenie skrik as hulle 'n smiley (skaapkop) vir middagete kry nie, maar dis hulle toe gespaar. Die beesbredie wat hulle gekry het, was egter wonderlik, het albei gesê.

Die haglike omstandighede waarin mense in 'n hostel bly, het Chris hewig ontstel. Hy kon eenvoudig nie glo dat mense in sulke omstandighede kan bly nie. Die braai was 'n sukses. Die twee het weggelê aan die tjops, wors en gebraaide groenmielies, maar was effe lugtig vir die skilpadjies en vir die bokkoms het hulle glad nie kans gesien nie. Maar die melktert en koeksisters het goed afgegaan. Rina, Marge en chris by Andre se huis Maandag

Maandagoggend voeg is ons weg Kaappunt toe. Via Kalkbaai, Vishoek, Simonstad en die pikkewyne by die Boulders.

Marge, Chris, Rina by die Boulders in Kaapstad

En by elke stilhouplek langs die pad het ek opnuut besef -- die Kaap het die laaste klompie jare behoorlik 'n wêreldstad geword. Hier is net soveel buitelandse toeriste as by die meeste van die plekke waar ons al oorsee was.

En toe ek en Chris uitasem by Kaappunt by die vuurtoring staan nadat ons 123 trappies uitgeklim het en uitkyk oor die see en kranse,  het ek finaal besluit -- daar is nie veel mooier plekke op aarde as die Kaap nie.

Marge, Rina en Chris by Kaappunt Ons het nog 'n paar draaie, onder meer deur die Bo-Kaap, met hulle gery, en toe op pad huis toe het ek begin dink aan al die plekke wat ek hulle nog sou kon wys: die Kompanjiestuin, Kirstenbosch, Groot Constantia, Franschhoek, die kuspad tussen Gordonsbaai en Kleinmond, die Paarl en vele, vele meer. My raad aan elkeeen wat hierdie blog lees, is net dit: Wees 'n slag 'n toeris in jou eie stad of dorp, verkieslik in die geselskap van iemand wat nog nooit daar was nie. Dan eers besef jy werklik hoe besonders elke woonplek is en bevooreg jy is om daar te bly. Naskrif

“That is insane,” het ek Chris 'n hele paar keer hoor sê. En wat was vir hom so insane?  Ons motoriste. Elke keer as iemand voor my ingesny het, het Chris verstyf. Wanneer 'n taxi sommer in 'n straatkruising gestop of jou aan die linkerkant verbygesteek het, was dit insane. So ook toe die bakkie met ’n tiental mense agterop by ons verbygery het. Dis totaal verbode in Kanada. Maar nou ja, dis als deel van die Kaap!

Joan and Andre André Brink het verlede jaar afgetree as assistent-redakteur van Huisgenoot.