In ons agter-die-Huisgenoot-skerms-rubriek vertel een van ons joernaliste van haar blaps vroeër vanjaar tydens ’n onderhoud met die gevierde diva Amanda Strydom  . . .

OM ’N onderhoud met een van die grootste ikone in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te voer is een ding. Om per ongeluk te laat glip dat jy dink sy is  heelwat  ouer as wat sy werklik is, is ’n groot verleentheid en kan baie maklik die onderhoud voor jou oë in duie laat stort. Daardie was seker een van die ergste rooigesig-oomblikke wat ek al in my professionele loopbaan moes verwerk.

Om as ’n joernalis by ’n kunstefees (in dié geval die KKNK vroeër vanjaar) te werk is uitputtend, maar ook opwindend en baie bevredigend. Dit is ’n week van kunste, kuier, laat nagte en spertye, en ek vermoed die kombinasie van al dié dinge het tot my faux pas bygedra.

Dit was die laaste uitgawe wat die redaksie van Krit (die feeskoerant) aanmekaar moes slaan en my opdrag was om ’n diepte-onderhoud met Amanda Strydom te voer. Sy was by die fees met haar produksie Ek Loop die Pad, wat terugkyk oor die hoogte- en laagtepunte van haar 20 jaar in die musiekbedryf.

Tot my verdediging: Ek was moeg, oorgestimuleer en baie op my senuwees om langs die indrukwekkende vrou te sit. Sy was vriendeliker en warmer as van die ander bekendes wat ek vroeër die week ontmoet het en sy het nes dit ’n kunstenaar betaam, tee gedrink in die tuin van die hotel waar sy gebly het.

Ek dink die gesprek was êrens tussen haar herinneringe aan Johannes Kerkorrel en die hoë mate van konsentrasie wat sy gebruik wanneer sy op die verhoog is toe sy noem dat dit sy tol eis, veral omdat sy nie meer vandag se kind is nie. “Jy weet – ek is darem al 56,” sê sy toe.

Tot vandag probeer ek vir mense verduidelik wat in my brein gebeur het. Dit gaan oor my onvermoë om aandag te gee aan onbenullighede soos syfers wanneer ek ’n gesprek van waarde voer. Of so iets . .  Om die een of ander rede hoor ek:  “Jy weet – ek is darem al 65.” Heeltemal oorbluf dat sy so goed lyk vir iemand wat in my kop “bejaard” moet wees sê ek: “Wat? Nee regtig. Jy lyk GLAD nie so oud nie.” Sy was baie verbaas dat ek haar ouderdom met soveel opregtheid in twyfel trek. As ek maar my skok en ongeloof daar gelos het, maar toe moet ek sê: “Ek het jou op minstens 59 geskat.”

Ja, beslis nie my beste oomblik nie. Dit het ook nie gehelp dat ek drie keer om verskoning gepleit het nie. Ek vermoed ek het dit dalk erger gemaak. Nietemin glo ek daar is altyd ’n les te leer. As daar ouderdom en divas betrokke is: Bly liewer tjoepstil en google dit . . .

- Marelize Potgieter

298642_2309004198779_1664919118_n  Marelize Potgieter het haar onlangs as joernalis by Huisgenoot se Kaapstadse redaksie aangesluit. Voorheen was sy Die Burger se onderwysverslaggewer.

Lees ons ander agter-die-Huisgenoot-skerms-blogs:

Hille hou voute yt Hysgenoot

Welkom by Huisgenoot!