MY LIEWE vrou Nicole is mal daaroor om met idees vorendag te kom wat die huis meer huislik laat voel. Ek hou daarvan en ek dink ook dat dit die klein dingetjies is wat ’n plek gemaklik en gesellig maak. Maar haar slim planne beteken natuurlik . . . dat ék dit moet uitvoer.

Ek is die eerste om te erken dat ek allesbehalwe Bob die Bouer is (selfs al het ek my eie gereedskapbelt) en ek is ’n groot voorstander daarvan om liewer kenners te betaal om die dinge in en om die huis reg te maak. Dis waarom ek die elektrisiën en loodgieter se nommers op my selfoon het (hulle is toevallig broers). Maar as dit by selfdoen-takies kom, is daar niks soos ’n YouTube-video om jou in die regte rigting te stuur nie.

Toe Nicole dus by die huis aankom met drie gietysterwoorde wat sy teen die kombuismuur wil hang, was ek eers oorbluf. Hoe op aarde moet ek die goed teen die muur vaskry? Maar twee minute later vind ek dat die YouTube-raad nie gom of dubbelkantige kleeflint aanbeveel nie, maar silikoon. Dit was vir my nuus – ek dag silikoon is net bedoel om ’n lekkende pyp toe te stop.

Ek gebruik toe maar in elk geval die silikoon en kry twee van die drie woorde (‘laugh’ en ‘joy’) teen die muur vas. Maar net toe ek dink ek gedra my nou soos ’n ervare nutsman, wil die derde woord glad nie bly sit nie. Ironies genoeg is dit die woord ‘relax’.

Ná ’n uur van sukkel met die woord wat soos iemand op ’n foefieslaaid aanhou om teen die muur af te gly, plak ek toe die f***er met kleefband vas – en ek kan julle sê teen daardie tyd was ek ver van ‘relaxed’.

Indien jy gewonder het: Die rooi kruis in die foto is my laserlig-gelykmaker, ’n moet as dit kom by dinge teen die muur ophang (nog een van my katoeters).

’n Uur later haal ek die kleefband af. Die woord sit nog.

Maar as jy ooit na my huis toe kom en dalk die rooster wil gebruik, wees gewaarsku: Jy doen dit op eie risiko. Ek aanvaar glad nie verantwoordelik as daai woord van die muur affoeter en dalk ’n vinger afkap nie.

- Mark Pilgrim

Mark Pilgrim  Mark Pilgrim is ’n vryskutradio- en TV-aanbieder en is ’n omroeper op 94.7 Highveld Stereo en 94.5 Kfm. Volg hom by @MarkPilgrimZA of gaan na sy webtuiste.

Lees sy vorige Huisgenoot-blogs:

Ma, verklap jy te veel aan kapers?

Ek vier Nasionale Dag vir Kankeroorlewendes

11 topwenke vir nuwe ouers

Hier kom die manne in swart

Mark Pilgrim: Sjoe, maar die tyd vlieg!

Mark Pilgrim blog vir ons