KOS is een van die mees basiese boustene van enige kultuur. As iemand my vra wat ek die meeste sal mis as ek Korea eendag verlaat, is my antwoord altyd: die kos. Ma se kos bly maar die beste, maar Koreaanse geregte het my hart gesteel.

Die algemeenste bestanddele van Koreaanse kos sluit in sesamsaadolie, brandrissiepasta, sojaboonpasta, gemmer en knoffel. Dit maak alles die kos geurig en lekker spicy.

Rys is die stapelvoedsel in Korea. Die meeste Koreane eet rys met elke maaltyd. Hul dieet lyk vir my baie gesonder omdat hulle baie groente en vrugte insluit en selde nagereg eet.

Niemand eet uit borde nie. Alles word in klein bakkies voorgesit en jy eet sommer reg uit die bakkie uit. Alles is ook kleiner gesny sodat dit maklik met eetstokkies opgetel kan word.

[caption id="attachment_55260" align="alignnone" width="640"]So lyk  ’n tipiese Koreaanse tafel  ’n Tipiese Koreaanse tafel.[/caption]

Geen tradisionele Koreaanse maaltyd is volledig sonder kimtji nie. Kimtji is geurige gegiste kool. Of jy nou by ’n restaurant eet, by die huis is, of aansit vir die middagete wat ons by die skool kry – kimtji maak altyd deel van die maaltyd uit.

As deel van my klasroetine vra ek my studente gereeld wat hulle vir ontbyt geëet het, en dikwels antwoord hulle kimtji en rys. Omdat Koreane dit so baie eet, maak gesinne gewoonlik in laat November, vroeg Desember genoeg kimtji om ’n jaar lank te hou.

[caption id="attachment_55259" align="alignnone" width="600"] Ek en my Kanadese vriendin Cindy maak kimtji saam met ’n Koreaanse familie. Ek en my Kanadese vriendin Cindy maak kimtji by ’n Koreaanse familie.[/caption]

My gunsteling- Koreaanse gereg is waarna die Amerikaners as Korean barbecue verwys. Dis ’n maaltyd waar jy klein stukkies vleis by jou tafel in ’n restaurant braai en dit in slaaiblare toedraai voor jy dit eet. My gunsteling-vleissnit vir die gereg is samgioepsal, wat soos spek lyk en proe.

[caption id="attachment_55258" align="alignnone" width="600"] Uit op ’n Vrydagaand vir samgioepsal Uit op ’n Vrydagaand vir samgioepsal[/caption]

Die tafel waar jy sit om jou vleis te braai het ’n ingeboude gasbraaier in die middel van die tafel. Uit die dak kom ’n lang suigwaaier in die vorm van ’n pyp wat sorg dat die rook nie die hele restaurant vol trek nie. Wat jy kry is die snit vleis van jou keuse, knoffel, jalapeño-rissies, sampioene, kimtji, rys, allerlei ander bykosse en doopsouse, en dan die blaarslaai.

Die eerste stap is om die vleis te braai en in klein stukkies op te sny. Jy moet die vleis gereeld omdraai om te sorg dat dit nie te droog braai nie. Terselfdertyd word die knoffel en sampioene ook gebraai.

As die vleis gaar is, is dit tyd om die pakkie aanmekaar te slaan. Jy doen dit deur rys op die slaaiblaar te plaas, gevolg deur ’n bietjie van die gebraaide sampioen en knoffel. Dan vou jy dit toe, doop die hele boksemdaais in ’n doopsous en steek dit in jou mond.

Die maaltyd is baie pret omdat jy self die kos berei. Ek eet dit amper elke Vrydagaand, hoewel ek probeer (met die klem op probeer) om nie te veel van die spek te eet nie.

Tot volgende keer,

Joe

Joe mug shot Joe Makka kom van Hopefield in die Wes-Kaap en gee tans Engels in Seoel, Suid-Korea.