Klasse by van die beste onderwysers ter wêreld? ’n Kans om Suid-Afrika se slimste en beste te ontmoet? Wat ’n geleentheid. Ons Dream School-blogger was eers jaloers toe sy die leerders ontmoet. 

Toe ek die 15 Dream School-kinders ontmoet, was ek jaloers. Nee, regtig. Ek erken: Ek was jaloers.

Toe leer ek hulle ken, en net daar verander my jaloesie in skuldgevoelens.

Kyk byvoorbeeld na Natasha – oulike, dramatiese, liewe Natasha van Mitchells Plain in die Wes-Kaap. Binne minute het sy haar pad na my hart toe oopgegiggel. Sy is amper altyd aan die glimlag, en haar helder okkerneut-oë skyn wanneer sy in die kollig is. Het jy al agter gekom hoe sy uit haar pad uit gaan om Trevor, die eenkantkind, deel van die groep te maak en hom saggies uit sy dop laat kruip?

[caption id="attachment_42204" align="aligncenter" width="599"] Natasha[/caption]

Goedhartige Natasha is 17 en in gr. 10. Sy is ’n slim tiener wat al aaklige dinge in haar huislewe moes aanskou (meer hieroor in ’n latere blog) en het tot onlangs sleg gevaar op skool omdat sy sukkel om te fokus. Sy sê die onderwysers by haar skool het nog nooit by haar kom sit om die ondersteuning te bied wat sy nodig het om deur matriek te kom nie. Dit is frustrerend, want Natasha kán dit doen – sy is ’n slim kind, en ’n vegtertjie. Sy kort net dat iemand weer daai blink in haar oog terugsit. Dis die blink wat ek elke dag by Dream School gesien het. Toe ek Natasha ontmoet het ek gedink: Sy verdien hierdie kans.

Dan is daar die skaam, effens onhandige Trevor, van Durban. Natasha, wat in elke moontlike opsig Trevor se teenoorgestelde is, het hom byna uit die staanspoor as haar eie aanvaar. Trevor (16), wat ophou skoolgaan het ná hy gr. 10 oorgedoen het, verduidelik dat sy skooldae meestal gekenmerk is deur onderwysers wat vingers na hom wys en dat hy van die een skool na die ander gestuur is. Dit lyk of die stelsel hom eenvoudig agtergelaat het; iets wat dikwels gebeur met kinders wat nie daarvan hou om aandag te trek of op te staan vir hulself nie. Weereens dink ek toe ek hom ontmoet: Hy verdien hierdie kans.

[caption id="attachment_42207" align="aligncenter" width="600"] Johan Volsteedt en Trevor[/caption]

Bygesê, Trevor en Natasha en die res van die kinders is ook nie engeltjies nie. Baie van hulle was deels self verantwoordelik vir hul omstandighede, verduidelik die Dream School-hoof en oudskoolhoof van Grey-kollege in Bloemfontein, Johan Volsteedt.

Tog, hulle elkeen verdien hierdie geleentheid. Gaan hulle dit aangryp? Hou aan kyk en sien hoe hulle vaar. -         Kirstin Buick

Kyk vanaf 13 October elke Sondag om 17:00 na MySchool Dream School op M-Net, M-Net HD, Mzanzi Magic and M-Net Series.

Huisgenoot-skrywer Kirstin Buick was op die stel van Dream School en kon op ’n afstand kyk na alles wat gebeur. Bly op die hoogte met haar weeklikse blog vir eksklusiewe agter-die-skerms-inligting.