Woensdag is Wêreldonderwysersdag. Huisgenoot-joernalis Charlea Sieberhagen se ma, Andrea, is al vir so lank as wat sy kan onthou 'n Engelse onderwyser. Hier deel sy haar herinneringe van hoe dit was om die dogter van 'n toegewyde onderwyseres te wees:

Rooi penne is nie in ons huis skaars nie. Jy sal in elke laai ’n rooi kliek-pen kry. Jy sal na ’n swart of blou pen soek, maar al wat jy sal vind, is ’n rooi een.

Ek ken van kleins af die stapels merkwerk in kartonbokse op die eetkamertafel. Stapels wat soms in vakansies afgehandel moes word. Ek is gewoond daaraan dat my ma op atletiek-Vrydae lank ná Binnelanders eers by die huis kom. Of dat sy iewers deur die loop van ’n wintersport-Saterdag hekdiens moet doen. Ek weet van die laatmiddagvergaderings ná skool. En die terreindiens in snerpende koue en hittegolwe. Ek weet ook van die lang dae as sy vroeg moet opstaan om aan die anderkant van die stad matriekvraestelle te gaan merk.

My hele lewe lank is ek ’n “juffrou se dogter”.

Ek was in gr. 1 en het elke oggend saam met my ma in haar ligblou Datsun Bluebird (beter bekend as die blou karretjie) skool toe gery. Die reguit pad tussen die pastorie en die Laerskool Delareyville was seker nie eens ’n kilometer lank nie. Ons het onder ’n boom naby die skoolkoshuis parkeer en oor die gruis in die rigting van die skoolgeboue gestap, my swart skooltas op my rug en my ma met ’n mandjie vol boeke in haar hand.

Ek onthou hoe sy daardie tyd, sommige middae vir die standerd dries (deesdae gr.5) uit The Fox and the Hound voorgelees het terwyl ek moes wag dat die skoolklok vir die ouer kinders lui. Ek onthou nie baie nie. Maar hierdie is een van my vroegste herinnerings van my ma: Voor in die klas, besig om Engels te gee. Besig om vir die “groot kinders” te lees, terwyl hulle doodstil sit.

Ek weet dat my ma, die geduldigste mens wat ek ken, kinders maklik jammer kry en eintlik net wil help. Veral vir dié wat soms so uitdagend kan wees, en die enkeles wat dink hulle kan met haar praat nes hulle wil.

Sy sien raak as ’n leerder dalk ’n boek kort, afgeknou word of net nodig het om te praat oor ’n baie blou Maandag. Sy sal verduidelik. Oor en oor, papiere en boeke vol. Voor elke Engels-vraestel van my hoërskoolloopbaan sou sy haar op my bed tuismaak en wéér vir my verduidelik: “The boy kicked the ball. The ball was kicked.”

En ja, dit was natuurlik later jare lekker as sy vinnig tussen klasse ’n toets kon teken, ’n vergete skeurstrokie kon invul of snoepiegeld gee.

Maar in my matriekjaar, nadat ons soggens onder die boom parkeer het en voor ek met my tas en sy met haar aktetas ons eie rigting sou inslaan, het sy my gereeld laat weet: Ek kan sien jy het maskara aan!