Collage

EK WEET nie of jy ook soos ek is as dit by uiteet kom nie, maar ek hou daarvan om na sekere eetplekke terug te gaan net om ’n spesifieke gereg daar te gaan eet. Vir my is dit die suksesresep vir lekker uiteet.  Soms is die kos nie ewe lekker as die vorige keer nie, maar as die plek ’n goeie hoofsjef het behoort elke gereg volgens ’n standaard-resep voorberei te word en dieselfde te smaak as jy weer teruggaan.

Net gou iets oor standaard-resepte: In ’n professionele kombuis is dit nogal iets om te sien. ’n Standaard-resep beskryf elke bestanddeel in detail, bv. “5 ml (handelsnaam) sout”. Elke metode word in die kleinste besonderhede beskryf sodat dit elke keer vir jou dieselfde moet smaak. Dis ook die rede waarom jou maaksel van Ta’Lettie se resep vir gebakte geelvink anders proe as Ta’ Lettie s’n; Sy’t nie vir jou ? standaardresep gegee nie.

Maar soms, al volg die kok die standaardresep letter vir letter, smaak ’n gereg vir jou skielik lekkerder as voorheen. Ek het ? teorie oor hoekom daai gebeur:

Partykeer, heel per ongeluk, maak ’n mens net die perfekte keuse as dit by jou drinkding kom. Maak gou jou oë toe en speel saam (oukei, lees eers hier  en dan maak jy hulle toe vir die proeslag):  Skink in jou verbeelding ’n glas van jou keuse (myne is ’n lekker rooie), bring hom na jou lippe en proe . . . skommel-skommel . . . proe . . . sluk stadig. Wat gebeur? Die heerlike smaak wat oor jou tong rol laat jou mond skoon water van lekkerkry. Net so ’n oomblik, ek wil gou iets gaan skink voor ons verder praat.

Hier’s ek weer.

Die alkohol in die wyn (of bier) wat oor jou tong vloei (of die gas in gaskoeldrank) prikkel die smaakknoppies op jou tong en maak hulle oop en meer toeganklik vir smake. Rissies is ook skuldig daaraan en het baie dieselfde utiwerking op jou tong, behalwe vir ? paar ander lekker goete wat gebeur danksy die pyn en vrygestelde endorfiene.

Danksy hierdie oop knoppies, goeie kos en die regte dop vir die tjop, het jy nou net vir jou siel nirvana geskep. As jy in ? goeie eetplek is, vra gerus wat hulle aanbeveel saam met  ? spesifieke gereg. Dit is gewoonlik ? baie goeie kombinasie, maar moenie verplig voel om te drink wat hulle voorstel nie. Smaak verskil en so ook die keuse en smaak van wyn en bier. As jy soos die res van ons nie die gekaramelliseerde piesang in pinotage proe nie, ontspan. Drink wat jou plesier verskaf en as jy per ongeluk ? wonderkombinasie raakloop, onthou hom, klop jouself op die skouer en deel dit met mense, veral met my by vetsjef@gmail.com Hier gaan ons met die varklies-wiele (in Kiwi-taal: pork belly wheels). BEWERK DIE VARKLIES SO

1 Lê die pens op ’n snybord neer (rooi is altyd vir rou vleis).

Lies stap 1

2 Rol hom in die lengte vir kleiner wieletjies of in die breedte vir . . . groter wiele. Steek met sosatietokkies vas. Dit hou die rol in posisie gedurende die snyproses.

Lies stap 2

3 Sny daai wiele!

Lies stap 3 4 Pak hulle plat in ’n oondpan (vlekvrye staal of glas, gietyster kan met die suur in die sous reageer en dan proe die lies meer pot as pens). Lies stap 4 MAAK EERS DIE VARKLIES

Liesbestanddele

  • 1 e (15 ml) fyn koljander
  • 1 e (15 ml) fyn droë gemmer
  • ½-1 t (2,5-5 ml) cayennepeper (hang af hoe braaf jy voel)
  • 1 t (5 ml) vars knoffel, fyn gemaak
  • sout en peper na smaak
  • ½ k (125 ml) lemoensap
  • ½ k (125 ml) tamatiesous
  • ½ k (125 ml) gekoopte of tuisgemaakte braaisous
  • ¼ k (50 ml) soetrissiesous
  • 1,5-2 kg varklies, vel en bene verwyder en soos bo berei

So maak mens

Voorverhit die oond tot 160 °C.

1 Plaas al die bestanddele behalwe die varklies (hy moet nou al klaar in sy oondbak lê en wag) in ’n meng bak en klits goed. Dis jou smeersous.

BAklies 1

2 Smeer die smeersous oor die varkvleis. BAklies 23 Bedek met foelie en bak 1½ uur in die voorverhitte oond. Verwyder die foelie en hou die smeersous eenkant. 4 Verhoog die oondtemperatuur na 180 °C. Plaas die wiele onbedek terug in die oond en bak nog  15 minute. MAAK INTUSSEN DIE SOUS

  • oorskiet-smeersous (sien bo)
  • ½  k lemoensap
  • ½  k tamatiesous
  • ½  k gekoopte of tuisgemaakte braaisous
  • ¼ k soetrissiesous
  • 5-10 ml mielieblom, in ’n bietjie water opgelos (opsioneel as jy die sous dikker wil hê)

So maak mens

1  Giet al die bestanddele behalwe die mielieblom in ’n pot.

2 Bring tot kookpunt en roer die mieliblom by indien jy die sous dikker verlang.

En dis hoe maklik dit is. Jy kan dit saam met kapokaartappels, rys, pap of samp eet. In die restaurant sit ons dit voor soos op die foto met die groente op die kant. Dis een van die geregte wat ons nooit van ons spyskaart sal kan afhaal sonder om ’n revolusie te veroorsaak nie, maar as jy dit proe sal jy verstaan. Dis heerlik!

Tot volgende keer – en loop haal solank daai geroeste gietysterpotte van jou uit. Ek sal jou meer vertel oor hoe om hulle te gebruik en behandel. Die resep gaan ’n verrassing in daai selle pot wees.

Net weer my e-pos adres vir enige vrae of sommer net gesels: vetsjef@gmail.com

Groetnis

Die Vet Sjef

 Die Vet Sjef, oftewel Albert Buitenhuis, beoefen sy nering by ’n eetplek in Christchurch, Nieu-Seeland en die Kiwi’s staan tou op die dae wanneer hy boerewors of sosaties voorsit. As jy enigiets oor kos wil weet (al is dit die Dros se resep vir skaapnek), vra gerus. Gaan loer ook op sy eie blog.