TOE hulle die swaarkry op hul dorp sien, het twee vriendinne besluit om ’n plan te maak. Maar dit help nie om iemand vir net een dag te help nie, het Eulogia de Wet en Estelle Diedericks van Mokopane (voorheen Potgietersrus) gemeen.

[caption id="attachment_90005" align="aligncenter" width="600"]Eulogia de Wet en Estelle Diedericks skep werk en gee mense nuwe hoop. Eulogia de Wet en Estelle Diedericks skep werk en gee mense nuwe hoop.[/caption]

“Gee mense liewer die geleentheid om vir hulself werk te skep, en hulle kan hulleself die res van hul lewe help,” verduidelik Eulogia. Toe kom hulle met die plan vorendag om vier klein bedrywe te ontwikkel waarin werkloses hul talente en arbeid kan benut: naaldwerk, groenteverbouing, staal- en houtwerk, en handgemaakte kunsprodukte.

Uit hul gemeenskapsprojek, Noodforum, is produkte met die handelsnaam Cre8ing Lives gebore, ’n gepaste naam, want daardeur het hulle ’n nuwe lewe vir baie van Mokopane se inwoners geskep.

Eers kom die werkloosheid en dan die armoede, beskryf Eulogia die maatskaplike omstandighede op die pragtige dorp in die Limpopo- provinsie waar sy die afgelope 17 jaar woon. “Maar dis veral die laaste vyf jaar of wat dat die mense swaar trek,” vertel sy.

[caption id="attachment_90004" align="aligncenter" width="600"]Werkloses kan hul talente en arbeid in naaldwerk, groenteverbouing, staal- en houtwerk, en handgemaakte kunsprodukte benut. Werkloses kan hul talente en arbeid in naaldwerk, groenteverbouing, staal- en houtwerk, en handgemaakte kunsprodukte benut.[/caption]

“Soos dit maar op baie plattelandse dorpe gaan, is die ekonomie hier net nie groot genoeg om werk aan almal te verskaf nie.

“Mense verloor hul werk en sukkel dan om weer op die been te kom.”

Dis hoekom sy en Estelle vroeër vanjaar besluit het om iets daadwerkliks te doen. In Julie het hul gemeenskapsprojek begin met ’n skenking van R33 700 van die organisasie Solidariteit Helpende Hand.

Elk van die vier bedrywe het sy eie hoof wat werkloses oplei. Die produkte wat hulle maak, word in die gemeenskap verkoop en die werkers kry die opbrengs wat oorbly ná al die uitgawes.

Hul eerste groot uitstalling was in Augustus by die Kierieklapper-kunstefees wat op die dorp gehou is. Daarna het hulle veral die kunsprodukte en naaldwerk ook op ander vlooimarkte in die omgewing te koop aangebied.

“Die groentetuinprojek begin ook nou sy eieoeste oplewer. Die groente word dan verwerk, verpak en teen R20 per kilogram verkoop,” vertel Eulogia. Die staal- en houtwerkafdeling is volstoom besig om veral diefwering en veiligheidshekke te vervaardig en by woonplekke op die dorp te installeer. “Klein dorpies, soos ons s’n, was mos jare lank taamlik veilig, maar deesdae het die misdaad uit die stad ook hier by ons aangekom,” sê Eulogia.

Die produkte wat hulle maak, word in die gemeenskap verkoop en die werkers kry die opbrengs wat oorbly ná al die uitgawes.

Neels de Vos woon in die ouetehuis en moet van sy maandelikse pensioen oorleef. Maar dié afgetrede elektrisiën wat van ’n rolstoel afhanklik is, het nou ook sy kragte by Noodforum  ingegooi.

’n Plaaslike supermark skenk al hul stukkende elektriese ware, soos ketels, stowe en strykysters, aan die projek. Neels herstel dit dan en verkoop dit. Anna Bronkhorst het kanker, maar wanneer sy nie met behandeling besig is nie, is sy in die naaldwerkafdeling doenig. Hier maak hulle onder meer denimhandsakke uit ou jeans.

Dit word teen R80 elk verkoop. Hettie Woehler is blind, maar dit het haar nie gekeer om vir ander mosaïekskinkborde te leer maak nie.

Die afgelope vier maande het sowat 40 mense al danksy Noodforum nuwe vaardighede aangeleer. Bemarking en die skep van nuwe afsetpunte is een van die groot uitdagings waarvoor die projek nou te staan kom.

“Die mense wil werk, maar ons kan nie hul produkte net hier op die dorp verkoop nie. Die gemeenskap is te klein.

“ ’n Mens kan ook net soveel handsakke en skinkborde hier verkoop. Ons moet uitbrei stad toe, maar ons het nog nie die infrastruktuur nie,” skets Eulogia hul grootste struikelblok.

“Ons moet dringend ’n bemarker kry.” Die belangrikste bydrae wat die projek tot mense se lewe maak, is om hulle weer menswaardigheid te gee. “Van die mense wat lank sonder werk was, vertel hul lewe maak nou weer sin omdat hulle iets kan doen en ’n inkomste daaruit verdien.”

Eulogia se naam kom uit Grieks en beteken “loflied”. En as dit van haar afhang, sal almal wat by Noodforum betrokke is, se lewe ook ’n loflied wees.

RAAK BETROKKE

Hier is Eulogia de Wet en EstelleDiedericks se wenke vir mense wat werk wil help skep:

1. Bepaal die werkloosheidsyfer in jou gemeenskap.

2. Stel vas wat die behoefte onder werkloses is.

3. Identifiseer die soort vaardighede wat die werkloses het.

4. Vind uit na watter soort produkte, soos kos of diefwering, daar ’n groot vraag is in die gemeenskap.

5. Kry ’n volledige CV by alle werkloses wat hulp soek.

- Jaco Hough-Coetzee

Met ons HG-planmakerveldtog nooi ons lesers om saam met ons te sê: Wees die verskil wat jy in Suid-Afrika wil sien.

As jy van iemand weet of self iemand is wat ’n plan maak met ons land se uitdagings, laat ons daarvan weet by planmaker@huisgenoot.co.za.

Dit hoef nie ’n groot projek te wees nie; al maak jy net ’n verskil in ’n paar mense se lewe, kan jy ander inspireer om dieselfde te doen en ’n opbouende bydrae tot ons land te lewer.