DIT was ’n idee wat ’n maand gelede uit wanhoop gebore is, maar vandag is hy die Kersvader wat mense help om hul pakkies landwyd afgelewer te kry – Poskantoor- staking ofte nie. Ja, sy Facebook-blad, genaamd Die Poswa, is sommer baie besig.

[caption id="attachment_90218" align="aligncenter" width="600"]Toe iemand op Facebook kla , het Wikus Fourie besluit om met ’n koerierdiens te help en so vir homself werk te skep. Toe iemand op Facebook kla , het Wikus Fourie besluit om met ’n koerierdiens te help en so vir homself werk te skep.[/caption]

Toe Wikus Fourie (50) vier jaar gelede sy werk in ’n bestuurspos by ’n koerierdiens in Windhoek verloor, het hy en sy vrou, Dienkie, Suid-Afrika toe getrek.

Op hul kleinhoewe in die distrik Delmas het hulle die pot aan die kook gehou met peuselwerkies. Dienkie het naaldwerk en hekelwerk, soos lappies en tafeldoeke, gemaak en dan op Facebook- bladsye bemark. Haar handwerk het sy aan klante landwyd gepos.

Wikus het sweiswerk in die omgewing gedoen. Toe begin die Poskantoorstaking en skielik kan Dienkie nie haar handwerk afgelewer kry nie.

“In daardie tyd het ek baie gebid dat ons elkeen ’n vaste werk kan kry, maar niks het gebeur nie,” vertel sy.

“Toe skielik kry ek deur die Gees die boodskap dat ek nie vir ons vir werk moet bid nie, maar ’n geleentheid moet vra wat ook ander sal help.”

Wikus onthou daardie Woensdag, 15 Oktober, baie goed. “Ek het die aand aan die kombuistafel gesit. Ek was moedeloos gedink oor waar die volgende werk vandaan sal kom. So tussendeur loer ek op Facebook. Toe sien ek ’n vrou van Pretoria wat kla sy moet dringend ’n pakkie in Kaapstad kry, maar weens die staking weet sy nie hoe nie. “Sonder om te dink sê ek vir Dienkie ek is sommer lus om haar pakkie Kaap toe te vat, en terselfdertyd die handwerk af te aflewer.”

“Jy word op elke dorp met ope arms ontvang. Mense hanteer jou soos Kersvader wanneer jy hul pakkies vir hulle bring.”

Nou doen dit dan, het sy aangemoedig. Hulle het ’n Facebook-blad, Die Poswa, begin en gaan slaap. Die volgende oggend het die groep 250 volgelinge gehad. Die Sondagoggend ná kerk het Wikus met sy Isuzubakkie in die pad geval.

“Met ’n bak toebroodjies en ’n halwe tenk diesel; dis al wat ek kon bekostig.” Maar so ver soos hy gery het, het die oproepe ingestroom van mense wat wou hê hy moes by hulle stilhou om ’n pakkie op te laai. Die rit Kaap toe het ’n week geduur.

“Toe sneeubal dit. Ons kon nie meer voorbly nie,” vertel Wikus, wat nou elke week Port Elizabeth en Kaapstad toe ry. Sy vriend Hennie de Bruin ry nou die Noord-Kaapse roete.

Sowat 60 vrywilligers op die roetes het pospunte op hul dorpe gestig waar die pakkies op- en afgelaai word. Sodra die Poswa ’n wins begin toon, sal dié mense kommissie kry.

Tans dek Wikus darem al sy uitgawes, soos diesel en kos. Die koerierkoste word bepaal volgens die gewig van die pakkies, byvoorbeeld R50 vir 5 kg en R250 vir 25 kg. Vir Wikus is dit ’n emosiebelaaide ervaring.

“Jy word op elke dorp met ope arms ontvang. Mense hanteer jou soos Kersvader wanneer jy hul pakkies vir hulle bring.”

Wanneer dit donker word, trek hy sommer by ’n vulstasie af. “Dan gooi ek net my kop agteroor in die bakkie en slaap. Die volgende oggend borsel ek tande, dan is ek op pad.”

Hy is glad nie bang vir boewe langs die pad nie. “As ’n skurk my iets wil aandoen, moet hulle weet hier is ’n paar engele om die bakkie wat hulle hard gaan klap.”

  • Teen druktyd het van die stakende Poskantoor- werkers begin terugkeer werk toe ná ’n loonooreenkoms met die vakbonde Sapawu en Depacu. Die Kommunikasiewerkersvakbond het dit nie aanvaar nie en hul lede staak steeds. Dis onseker wanneer die Poskantoor weer op volle sterkte dienste kan lewer.

Met ons HG-planmakerveldtog nooi ons lesers om saam met ons te sê: Wees die verskil wat jy in Suid-Afrika wil sien.

As jy van iemand weet of self iemand is wat ’n plan maak met ons land se uitdagings, laat ons daarvan weet by planmaker@huisgenoot.co.za.

Dit hoef nie ’n groot projek te wees nie; al maak jy net ’n verskil in ’n paar mense se lewe, kan jy ander inspireer om dieselfde te doen en ’n opbouende bydrae tot ons land te lewer.

Jaco Hough-Coetzee