Jackie kom vir die eerste keer sedert die ongeluk ’n naweek huis toe. Hy weier om te glo dis sy huis en val sy gesin aan . . . Lees die volgende aflewering in Michelle Fourie se aangrypende blog oor haar lewe saam met haar breinbeseerde man.

[caption id="attachment_61065" align="alignnone" width="600"]Jackie Ons stoot vir Jackie buitentoe by die rehab. Ruben sit graag op sy skoot.[/caption]

Ná 8 weke in rehab word daar aanbeveel dat Jackie naweekpas kry om huis toe te kom.

Dit is die eerste stap in die rigting van tuiskoms.

Die doel is om hom stelselmatig te oriënteer ten opsigte van sy huislike omgewing en om ons gewoond te maak aan dit wat wag wanneer hy permanent tuis kom.

Ek en ons huiswerker, Sophie, word opgelei in die gebruik van die rolstoel. Tuis herrangskik ons die dekor om dit gemakliker vir Jackie te maak. Hy kan nog nie trappe klim nie en die eetkamer word dus in ’n slaapvertrek omskep.

[caption id="attachment_61068" align="alignnone" width="136"]Sophie Sophie[/caption]

Ons is opgewonde en bang as ons hom die Vrydagmiddag gaan haal. Ek wil net so gou as moontlik tuis kom. Ek is seker as hy die huis sien, die honde, die bekende, gaan iets kliek.

Groot is die ontnugtering.

Hy weet nie waar ons is nie en niks lyk vir hom bekend nie. Hy glo nie dis ons huis nie en alles wat ons vir hom vertel, beleef hy as leuens en dat ons hom om die bos probeer lei.

Die eerste aand besef ek al dat dit ’n moeilike naweek gaan wees. Hy loop soos ’n kindjie wat pas leer loop het. Sy balans is nog sleg en dus hardloop hy van muur tot muur om nie om te val nie. Die rolstoel is ook onprakties in die klein ruimte van ons huisie.

Ek moet vir die eerste keer sy doeke ruil en dan lê hy soet soos ’n babatjie dat ek dit doen.

Hy wil die hele tyd by ons weet wat met hom gebeur het. En as ons hom vertel, glo hy ons nie. Hy skree op ons oudste, Jacques (15). Ons wys hom foto’s van die ongelukstoneel en sy reaksie is om ons te beskuldig dat ons die foto’s gedokter het.

[caption id="attachment_61069" align="alignnone" width="142"]Jacques Jacques[/caption]

Hy eet asof hy nog nooit kos gesien het nie. Ná drie minute vra hy nog kos omdat hy honger is. Hy kan glad nie onthou dat hy ’n paar minute tevore ’n hele bord kos verorber het nie.

Ons is bang hy sit goed in sy mond en verstik, so alle klein voorwerpe word verwyder.

Ek slaap op ’n matras voor sy bed . . . of eerder, ek is wakker op die matras voor sy bed. Ek is so bang hy staan in die nag op en kies die hasepad.

Hy praat nou aaneen, vreeslik onsamehangend, en is paranoïes oor alles. Sy brein skakel nie vir ’n oomblik af nie. Ek besef skielik dat hy nie goed gaan reageer as ek hom Sondagaand terug moet neem rehab toe nie. Teen Sondag is ons wrakke. Jacques en Ruben (7) is ontnugter, ek is stokflou, en Jackie is meer as ’n handvol.

Ons word met bottels gegooi en die arme Jacques word uitgeskel

Sophie bly by my, want sonder haar gaan ek dit nie maak nie. Dit besef ek al daardie eerste naweek.

Dis moeilik om Jackie gebad te kry, maar uiteindelik is hy skoon aangetrek sodat ons hom kan terugneem rehab toe.

Hy is vas oortuig ek neem hom terug oorlog toe en weier om in die kar te klim.

Ons word met bottels gegooi en die arme Jacques word uitgeskel as hy Jackie probeer inhelp. Hy takel Jacques met ’n krag wat ek nie kan beskryf nie. Ek voel so jammer vir my kind wat dit alles moet beleef. Ruben is bang en sê nie ’n woord nie.

Uiteindelik kry ons hom in die bakkie en hou skaars by verkeersligte en stopstrate stil. Die kinderslot is aan die deure ingeval hy probeer uitspring.

By die rehab aangekom wil hy nie uitklim nie, en raas kwaai met ons. Ek voel so verlig dat ons in een stuk daar aangekom het dat ek terugraas, soos ’n ma wat met haar seuntjie raas.

Uiteindelik is hy terug in sy bed, nou kalm en rustig – asof hy weer veilig voel in sy ruimte.

Terug in die motor sit ek net en huil verlig dat hy terug is. Ons is ontnugter en getraumatiseer deur die naweekbesoek.

As dit is hoe ons lewe vorentoe lyk, begin ek nou al weghardloop. Maar waarheen . . . en wat van my kinders?

Here, help ons asseblief!

[caption id="attachment_61066" align="alignnone" width="600"]Ruben Intussen gaan die lewe aan te midde van die chaos waarin ons ons bevind. Ruben speel sy eerste Bulletjie-rugbywedstryd en my hart wil breek omdat Jackie – wat altyd langs die veld was as Jacques gespeel het – dit nie met ons kan deel nie. Hier is Ruben, op pad doellyn toe.[/caption]

- Michelle

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog weekliks vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het.