Is mans werklik emosioneel stompsinnig? Verstaan die Adamsgeslag regtig minder van gevoelens en liefde as hul vroue?

[caption id="attachment_132833" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixaby Foto ter illustrasie: Pixaby[/caption]

Wel, ons kry onlangs ’n brief van ’n leseres wat meen die lewe sou baie lekkerder gewees het as haar man net geweet het hoe om sy emosies te wys. Lees bietjie hier en sê of julle met haar situasie kan identifiseer:

Beste Huisgenoot,

My man en ek is al baie jare saam. Ons rook of drink nie, en gebruik nie skeltaal nie. Ons is baie rustig. Tot die beste van ons vermoë dien ons die Here. Ons breek eenkeer in jare weg vir ’n naweek.

Een ding pla my egter in ons lewe saam. Vandat ek hom leer ken het, toon hy geen emosies nie. My moeder was my beste vriendin. Toe ek die nuus kry dat sy oorlede is, het hy my huilend in die spaarkamer gekry.

Lees ook: Ek’t nooit gedink dit kon met ons gebeur nie,’ skryf vrou in doodeerlike brief aan haar man se minnares

Ek het hom vertel wat gebeur het, en hy het net die vertrek verlaat sonder om enigiets vir my te sê. Ek moes na hom loop en vra: “Hou my net ’n bietjie vas?”

Ons het eenkeer ’n maand seks. Ek noem dit net “seks”, eerder as “liefdemaak”, want ons vry en soen nie. Dit is so onromanties dat ek nie tot die punt kan kom nie. Ek wil graag begeer word, gesoen word, en aangeraak word.

“Ek is lief vir jou, lekker slaap,” is wat ek elke aand hoor, so vinnig as moontlik gesê en opgevolg deur ’n piksoentjie. Hy gee my geen drukkies nie. Al aanraking is as ek nou en dan aan hom vat.

Lees ook: Man skryf ope brief aan ander mans in die versoeking om te kul: ‘Moenie soos ek met spyt saamleef nie’

Laat ek hom gee wat hom toekom: Hy het beslis nie ’n minnares nie. Hy is altyd net by die werk of by my. Hy doen baie om vir my te sorg en hy kla nooit. Hy sê darem soms ek lyk mooi, al is ek effens oorgewig.

Maar ek wil meer hê!

Waarom is hy so emosieloos? Is daar asseblief iemand wat my kan vertel, wat fout is met hom? Of lê die probleem by my?

Hy is ’n paar jaar jonger as ek, maar dit voel vir my asof ek met ’n ou man getroud is.

Eensame groete,

LIEFDE ONTWYK

? Sukkel jy ook met ’n man wat nie sy gevoelens kan wys nie? Of wie weet, dalk is jy ’n man wie se vrou heeltemal bot is? Skryf ’n e-pos aan ons verslaggewer by marelize.potgieter@huisgenoot.com en vertel jou storie om deel te wees van ’n artikel oor die onderwerp. Jy kan anoniem bly.