Ons internetafspraak-blogger ontvang ’n foto van ’n aspirant-vryer wat haar vir ’n verandering nie uit haar skoene skok nie, en dan is die ou nog aantreklik en romanties ook.

DIS die aand voor my afspraak met Varkie Nommer Drie – die prokureur. Ek sit juis en wonder waarom hy my nog nie gebel het om die afspraak te bevestig nie toe ’n man met die naam Francois my op die ontmoetingswebtuiste kontak. Hy het nie ’n profielfoto nie en ek stuur dadelik vir hom ’n boodskap terug. Dis kort en kragtig:

“Stuur ’n foto na my e-posadres!”

E-pos-foto’s het mos hierdie vuil manier om verskriklik stadig en so bietjie vir bietjie oop te maak – juis wanneer ’n mens angstig is om ’n foto te sien. Dikwels kom die foto so stuk vir stuk deur - gewoonlik van onder af boontoe . . . Dit het al gesorg vir vele hartaanvalle as die vreemdste goed skielik hier van onder af begin opkruip oor my rekenaarskerm, want soms stuur mans die allervreeslikste foto’s.

Soos die een wat vir my ’n foto gestuur het van homself en sy troeteldiere. Eers het groot, bruin pilare op my skerm verskyn waarop die vreemdste klein pootjies gerus het. Toe ek die foto verder oopmaak, het ek met skok gesien dit was – klein worshondjies wat angstig op sementpilare probeer geposeer het! Die ergste is dat ek nou nog nie seker is of die honde opgestop of lewendig was nie. Kyk en oordeel maar self . . .

erla foto 2

Troeteldiere is natuurlik nie al wat mans stuur nie. O, nee. Hul geliefkoosde troetelslang word dikwels afgeneem en gepos – en hier praat ek van die familiejuwele, susters. Ek weet nie wat die ergste is nie – die feit dat ek glad nie vir so ’n foto gevra het nie, of die feit dat die familiejuwele soms maar ’n klein ou pinkiering is (if you know what I mean!).

Dit is dus met groot spanning dat ek wag dat die foto wat Francois stuur, deurkom. Eers sien ek net glas. Wat de . . .? Die glas word ’n bottel, die bottel kry ’n etiket en ’n kurkprop op, dit word ’n wynbottel en dan begin ’n hemp verskyn. Nuuskierig hou ek die hemp dop. Die hemp word ál groter en ek kan sien dat die lyf binne-in die hemp glad nie sleg is nie. Dis ’n wit hemp en ’n bruingebrande lyf. My hart begin opgewonde klop. Dan skielik, net so, verskyn sy gesig lewensgroot op my rekenaarskerm.

Francois.

Wow.

Ek haal diep asem en skryf terug: “Niks is so ’n goeie kombinasie as ’n mooi man en ’n goeie bottel wyn nie.”

Binne sekondes kry ek ’n boodskap van hom terug.

“Ek stem nie saam met jou nie . . .” skryf hy.

My hart gaan staan. Dan verskyn die volgende boodskap.

“Die beste kombinasie is ’n mooi man, ’n mooi vrou en ’n goeie bottel wyn.”

Hm . . . Meneer flankeer terug! En Meneer dink óók hy is mooi. Oukei, dit was ’n bietjie verwaand, maar . . . hy het terugflankeer. En genade, die man ís mooi. Binne sekondes is ons aan die praat, binne minute is ons op die selfoonboodskapdiens WhatsApp en dan kom die boerpot-vraag.

“So was jy getroud?” vra ek.

’n Skielike stilte begroet my.

“Soortvan,” antwoord hy.

Watter antwoord is soortvan? Hoe is ’n mens soortvan geskei? Of soortvan getroud? Of is dit ’n geval van vroulief dink sy is getroud, maar hy nie?

“Ek dink jy moet verduidelik,” skryf ek.

“Ons gaan skei. Dis complicated. Kan ons nie eerder ontmoet dan vertel ek jou als nie?”

Ek is huiwerig. Getroud is getroud is getroud. Maar hy oorreed my. Hulle is al vir jare nie gelukkig nie. Die skrif is aan die muur. Die huwelik werk nie. Die beraders is al afgedank en die egskeidingsprokureurs aangestel. Ons reël om te ontmoet. Vrydag. In ’n koffiewinkel.

Dan begin ons verder gesels. Oor liefde. Oor sielsgenote. Oor huwelike.

“Ek het geen romanse gehad in my huwelik nie,” bieg ek.

“Regtig? Maar wat is vir jou romanties?” vra hy,

“Die gewone. Bosse blomme. Nie net een bos nie, maar twee, sommer hope. Sommer net. Liefdesbriewe. Om te gaan sit langs die strand en sjampanje te drink teen sonsondergang.”

“Moenie vir my sê jy het dit nog nooit gedoen nie.”

Ek dink terug. Ja, daar was blomme. Daar was wandelinge langs die see. Daar was selfs ’n parfuumdeurdrenkte liefdesbriefie  toe ek in standerd sewe was, maar . . . niks daarvan was soos dit in my kop was nie. Hoe ek gedroom het dit sou wees nie . . .

“Ek het altyd vir my eks gevra om vir my ’n liefdesbrief te skryf,” antwoord ek.

“En . . .?”

“In die sewe jaar dat ons saam was, het hy dit nooit gedoen nie. Maar hy kan wel goeie skelbriewe skryf.”

Ons lag. Half bitter. Later meld ons af. Dis tyd om te gaan slaap.

Dis eers die volgende oggend wanneer ek wakker word met ’n maag vol skoenlappers dat ek besef  ek het ook vandag ’n afspraak met die derde varkie, meneer Prokureur! Ek sit nog so en peins oor wat om te doen toe ek ’n boodskap op my foon kry.

Dis van Francois.

“As ek lief is vir jou, sal ek elke dag vir jou ’n liefdesbrief skryf. Al is dit net een reël. Ek sien uit daarna om jou vandag te ontmoet.”

En net daar kanselleer ek die afspraak met die prokureur.

– Erla-Mari Diedericks

Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor haar lewe as enkellopende in die era van internet-afsprake. Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com.

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/

Lees Erla-Mari se vorige blogs:

En hier word ek ’n vampier

Ek en die blommeverkoper

Die stories wat geskeide mans vertel!

Deur dagbreek toe – met Melkskommel-man

Ek verbeel my ek’s ’n cougar

Ek soek na liefde – aanlyn