Hy kon dit nie beter beplan het nie. Hy ry tot by die parkeerterrein van sy vrou se geliefde winkelsentrum. Haar tweede huis, soos sy dit al self genoem het, nie heeltemal spottend nie. Die plek lyk triestig, verlate op hierdie aand wanneer almal tuis wil wees. Almal behalwe hy.

Hy skakel die radio aan en trek sy gesig asof hy seerkry toe hy vir die hoeveelste keer die afgelope week die idiotiese lirieke van Jingle Bells hoor. Oh what fun it is to ride / in a one-horse open sleigh! Sit dit af, sit dit af. Maar hy bedink hom toe die stilte in die motor te onheilspellend word. Dan maar eerder die klingelende Kersklokkies. Hy skakel die radio weer aan, klim oor na die agtersitplek, strek hom uit tussen die leë Coke-blikkies en oorblyfsels van die McDonald’s- wegneemetes en skroef die bottel brandewyn met bewende hande oop.

Drie diep en dorstige slukke later ontplof alles in sy kop. Hy het sy vrou stilgemaak. Hy het dit eindelik reggekry. Sy is doodstil. Morsdoodstil. En hy is in ’n dodelike gemors. Daar’s g’n manier waarop hy hiermee gaan wegkom nie. Die inbraak wat skeefgeloop het, die telefoonoproep wat as ’n alibi moes dien, die drinkery in die kar – niks oortuig hom meer nie. Die polisie wat die saak ondersoek, sal óf buitengewoon dom óf buitengewoon lui moet wees, anders . . .

Terwyl hy sy benarde situasie bestudeer, drink hy verbete verder aan die brandewyn. En hoe meer hy drink, hoe minder onwaarskynlik begin sy storie vir hom klink. As hy dit kan regkry om homself te glo, sal die polisie hom mos ook kan glo?

Kort voor middernag bars hy uit in trane van dronkverdriet en herhaal sy vrou se naam snikkend terwyl Bing Crosby I’m Dreaming of a White Christmas oor die radio sing. Dit was altyd die arme Lientjie se mees geliefde Kersliedjie. Hy sal die moordenaar laat boet, neem hy hom voor, die gewetenlose skurk wat die liefde van sy lewe doodgemaak het.

Of in elk geval die eertydse liefde van sy lewe.