DEUR MARITA VAN DER VYVER

HY MAAK nooit eintlik meer sy mond oop nie. Sy maak nooit meer hare toe nie. Hy praat net wanneer hy iets vir haar wil sê. Wat ál minder word. Terwyl sy aanhoudend praat, skel en kla – net om haar eie stem te hoor.

Maar vanaand is anders. Dit besef hy dadelik. Wat hy voor hom sien, is ’n vrou op die rand van waansin. Nie ’n mooi gesig nie. Veral nie op Oukersaand nie. Sy gil met gebalde vuiste, haar elmboë teen haar dye vasgeplak, haar hele lyf wiegend van woede. Vorentoe, agtertoe, met ’n wyd oopgesperde mond en ’n onophoudelike kreet wat glas aan skerwe kan laat spat.

Hy gryp die kitsch standbeeldjie wat die koffietafel versier, die laaste strooi wat hierdie kameel se rug gebreek het, en lig dit hoog bo sy kop. Die Kersvader, wat “ho-ho-ho-ho” lag wanneer jy ’n knoppie op sy rug druk, is veel swaarder as wat hy verwag het. Haar mond rek selfs wyer, heeltemal onmenslik wyd, toe sy sien wat hy met die beeld wil doen. Hy hoor haar nie meer gil nie. Met al die krag wat in sy arms oor is, moker hy haar teen die kant van haar kop.

Eensklaps is albei kalm. ’n Verrassende kalmte vir hom, ’n noodlottige kalmte vir haar. Wat hom die meeste verbaas, is dat hy onmiddellik begin optree asof hy alles lankal presies so beplan het. Gaan haal ’n paar plastiekhandskoene langs die wasbak in die kombuis en trek dit oor sy hande. Stap doelgerig deur die huis, ruk oral laaie oop en keer die inhoud daarvan op die vloer om; pluk kasdeure oop en smyt klere in bondels neer; strooi die CD’s in die sitkamer oor die mat.

Met ’n laaste kyk na die lewelose liggaam en die bloedplas langs die koffietafel, stamp hy die plastiek-Kersboompie met die flikkerende, gekleurde liggies ook om. Net nog iets wat hy al jare lank droom om te doen. Toe tel hy die Kersvader op (moet nooit die moordwapen vergeet nie, soos hy geleer het in die speurromans wat hy snags lees terwyl sy salig langs hom lê en slaap) en prop dit in sy rugsak, saam met ’n bottel 10 jaar oue KWV-brandewyn. Dis sy enigste bydrae tot môre se Kersmaal, wat nou sekerlik nie meer sal plaasvind nie. Net voor hy die voordeur agter hom toetrek, skakel hy hul huisnommer op sy selfoon en los ’n boodskap op die antwoordmasjien.

“Hallo, Lientjie,” sê hy stadig, sy tong effens slepend. Nie oordryf nie, vermaan hy homself. “Ek het . . . um . . . ’n bietjie gedrink. ’n Bietjie baie gedrink. Jy weet Kersfees maak my . . . um . . . jammer . . . moet nou eers ’n rukkie in my kar rus. Sien jou later.”