’n Leser het haar hart teenoor huisgenoot.com oopgemaak oor haar huwelik van 45 jaar. Sy en haar man het bloot “huisgenote” geword wat ’n bed deel. Stilstuipe en kortaf antwoorde is die orde van die dag. Lees haar aangrypende brief oor die verval van haar huwelik.

[caption id="attachment_135386" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixabay Foto ter illustrasie: Pixabay[/caption]

BEGRAFNIS VIR MY HUWELIK

Ek lê langs hom in die bed, maar ek kan nie vanaand slaap nie. Dis amper middernag. My gedagtes soek na sin en rede. ’n Rede om te lewe? Is ons vyande? Soms voel dit so! Nee, ons is huisgenote wat ’n bed deel. Elkeen op sy eie kant . . . sonder aanraking . . . sonder woorde.

Hoe lank is dit nou al vandat hy hom in sy glaskas toegesluit het? Agt maande. Om my te straf. Eintlik straf hy homself, want ek is by seerkry verby. Ek het lank reeds, gebrei deur herhaalde verwerping en stilstuipe, ’n muur van ongevoeligheid teenoor sy pak slae opgebou. Dit is my behoud, beskerming. “Skud dit af, vat dit van wie dit kom. Sê wat jy wil; dit raak my nie.”

Lees ook: ‘Ons laaste wanhopige poging om ons huwelik te red het inderdaad gewerk’

Die stilstuipe pas my eintlik. Dan is daar geen afkraking of vernedering nie. (Net bevele wat geblaf word, soms selfs met ’n “asseblief” by. “Jy moet.” Wat het geword van: “Sal jy asseblief?”) Saam praat en saam besluit lê so ver in die verlede.

Waar in hierdie 45 jaar van saamleef het die verandering gekom? Kan dit saam met die tyd wees toe ons ná die vernuwing uit die susterskerk is?

“Die vrou moet aan haar man onderdanig wees,” het deur die lering bo in sy kop kom staan! Skielik was ek in sy oë nie onderdanig nie. In sy woorde moes ek aan hom onderdanig wees soos wat ek aan die Here was. Ek moes hom soos ’n kind gehoorsaam (ek het sy kind geword!). Ek het nie meer die reg gehad tot ’n eie opinie nie. ’n Opinie van my eie was opstand teen sy gesag – en is steeds!

Ken jy die pyn van Totius? “Die pyngedagte . . . my kind is dood.” Dit is ’n hartseer met ’n fisieke pyn in jou bors. Ek weet. My kind is ook dood. Vanaand ervaar ek dieselfde pyn wat ek jare gelede, toe my kind dood is, ervaar het.

Ek ervaar hier is dood in die huis. Ons liefde, ons huwelik is dood. Dit is verby. Daar was nog elke keer weer ’n terugkeer na mekaar. Hierdie keer is anders. So asof nie een van ons die begeerte het nie. Hoekom bly ons nog bymekaar? Klou ons vas aan wat was? Gewoonte? Vir die kinders en kleinkinders?

Lees ook:  ’n Leser se hulpkreet: ‘My liewe man is so romanties soos ’n klip’

Sy sus moes eendag in my teenwoordigheid hoor: “Dit is net die belofte wat ons voor die Here gemaak het wat my by haar hou, anders het ek hierdie vroutjie lankal gelos!”

Om op ’n harde stem se uitbarstings te reageer, werk nie. ’n Sagte antwoord word doodgebore. Skud jou kop in ongeloof?!

“Ja, skud jou kop; dit is vol pampoenpitte! Dalk hoor jy dit!” Liggeraak. Tel jou woorde! Trap op eiers – heeldag, aldag! Minderwaardigheid maak jou fyngevoelig!

Here, waarheen tog? U en my kleinkinders is al wat nog vir my belangrik is. Wat my sin vir die lewe gee. U sê ek moet Jesus vir hom wees? Ek kan nie meer nie. Ek dink ek wil nie meer nie! Ek is moeg. Hoekom bly ek nog? Ek is waaragtig nog jammer vir hom! En bang. Sê nou hy neem sy lewe as ek loop?

Lees ook: Hoe kan ek van die romanse in my huwelik terugkry?

Dankie tog vir ’n radio. Die omroepers sê ten minste vir my môre en tot siens. My enigste geselskap, my “huisgenoot”, sê darem elke oggend vir die hond môre! Ek moet eendag sy woorde aan my tel. Dalk op twee hande se vingers.

Hoe begrawe ’n mens ’n huwelik as hy nog heeldag om jou beweeg? Dit is soos ’n spook wat nie tot rus wil kom nie. Hy is daar, maar hy leef nie meer nie.

Nou het ek my weer in ’n negatiewe wrewelrigheid ingedink, maar dit maak my sterk vir die dag van môre. Pyngedagtes maak jou broos. Vatbaar vir seerkry. Die muur moet op!

Moet ek wag tot die dood ons skei? Dalk leef ek, dalk leef hy. Is dit verkeerd om daarna uit te sien? Hierdie lewe het net ’n gister met mooi herinneringe en ’n môre. Vandag is nie belangrik nie.

Lees ook: ‘Ek’t nooit gedink dit kon met ons gebeur nie,’ skryf vrou in doodeerlike brief aan haar man se minnares

Wag, wag, wag. Op wat? Hou jou solank besig met huiswerk, naaldwerk, tuinwerk, inlê . . . Vandag moet om sodat môre kan kom. Nooi vriende. Maak kos. Dit gee tog sin aan vandag.

Dankie vir die kinders en kleinkinders se bedrywighede wat sommige dae vul. Daardie dae het sin. Hul liefde dra my . . . As hulle net besef het, maar dit is my geheim. Die skyn . . . die valsheid van voorgee. Witgepleisterde grafte! Eintlik is daar nie voorgee nie; net nie uitblaker en erken nie. Swyg, swyg, swyg.

Dalk weet die kinders tog. Hulle het tog in hierdie huis grootgeword toe daar drukkies en soentjies en hande vashou was. Dalk dink hulle dit verdwyn maar met die ouderdom.

Nou moet ek weer probeer slaap. In die bed kom. Dit is al twee-uur in die oggend. Here, help my asseblief deur môre se vandag.