Deesdae kan hy weer dit doen wat die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar. Hy kan op ’n bed slaap, in winkelsentrums rondloop en selfs ’n paar opsitte doen.

En dis alles te danke daaraan dat iemand sy noodkreet in Huisgenoot gehoor het.

Toe ons John Barnardt (37) van Krugersdorp net meer as drie maande gelede ontmoet, was hy raadop. (Huisgenoot, Ek wil nie meer so lyk!, 1 Mei 2014)

Hy het 302 kg geweeg en kon op die uiterste 20 minute op sy voete staan. Hy moes op ’n stoel in die sitkamer slaap, want sy rug het hom opgekeil wanneer hy plat lê. Hy het nie eens daaraan gedink om ’n opsit te doen nie, want net om uit ’n stoel op te staan, was ’n uitdaging.

Toe ’n vriend van Etienne du Bruyn (29), ’n transformasie-afrigter by die Sportcon-gimnasium op Krugersdorp, hom die artikel in Huisgenoot wys, het hy geweet hy moet John help. Etienne het self begin verlede jaar nog 168 kg geweeg, maar binne elf maande meer as 70 kg afgeskud.

Hy het John genader en ’n afspraak gereël. Nou volg Big John, soos sy vriende hom noem, al byna drie maande ’n nuwe eet-en-oefenprogram.

Oefen Hy oefen drie keer per week in die gim en op die ander dae gaan stap hy sommer kilometers op ’n slag. Op sy eerste dag in die gim was sy oefening om sowat 10 m ver te loop, op die naat van sy rug te gaan lê en met baie moeite en hulp homself weer op te stoot. Dan moes hy dit herhaal. “Ek moes kort-kort rus en ná 20 minute was ek kláár,” vertel John.

'Nou kan ek al 30 opsitte sonder enige hulp doen.'

“Nou kan ek al 30 opsitte sonder enige hulp doen en dis maar net ’n klein deel van my oefenprogram,” voeg hy trots by.

Hy kan skaars uitgepraat raak oor alles wat Etienne en sy ander afrigter, Stian Weideman (30), vir hom beteken.

“Hulle verstaan my. Hulle verstaan dat ek ’n groot ou is en sekere goed net nie kan doen nie. As hulle my gemoor het daai eerste dag, sou ek nie teruggekom het nie.”

Sy vrou, Cindy (34), se ondersteuning hou hom ook positief, voeg John by. Sy oefen elke dag saam met hom en het self al 16 kg verloor. “Dis lekker om daai kameraadskap te hê. Sy eet ook saam met my gesond,” vertel John, wat met ons vorige onderhoud gekla het dis te duur om te dieet.

“Stian-hulle se eetplan is juis nie duur nie. Dis baie dieselfde as wat ons voorheen geëet het, sonder enige duur aanvullings. In plaas van varktjops, eet ons nou net hoender en vis, ons gebruik glad nie meer olie nie en net sout, peper en suurlemoensap vir geurmiddels,” verduidelik Cindy.

Om sy gewigsverlies te versnel, spuit hy hom daagliks in met ’n middel wat die Ascot-dieetkliniek in Turffontein, in die suide van Johannesburg, verskaf en wat glo sy metabolisme versnel.

John se doelwit is om eendag 120 kg te weeg. Dan wil hy weer rugby speel. “Al speel ek net een wedstryd, sal dit vir my genoeg wees om te wys dat ek weer kan,” sê hy.

- Alet van Zyl