Narda Els (52) is die medestigter van die Mej. Dowe Suid-Afrika-skoonheidskompetisie. Hier deel sy haar inspirerende verhaal.

Ek is as hardhorende gebore en my gehoor het aanhou verswak. Nou is ek grootliks afhanklik van ’n gehoorapparaat en liplees. Ek het my skoolloopbaan aan die Transoranje-skool vir Dowes in Pretoria voltooi. Ek werk die afgelope 22 jaar as ’n tikster by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag op Wonderboom.

My man was destyds betrokke by die Somerspele vir Dowes en het in 2001 gevra ek moet betrokke raak by die Mej. Dowe Suid-Afrika-skoonheidswedstryd. Sedertdien het ons die kompetisie saam bestuur en aangebied.

Aanvanklik was dit net ’n skoonheidskompetisie, maar ná Candice Morgan (’n Suid-Afrikaner) in 2004 die Mej. Dowe Wêreld-titel gewen het, het ons besluit dit was tyd om ’n hele skouspel vir dowes aan te bied, ongeag hul ras, ouderdom of kultuur.

Ons hoop hierdie kompetisies breek die stereotipes oor dowes af. My eie betrokkenheid is gewortel in ’n diep trots om doof te wees en om deel van die dowe gemeenskap te wees.

Ek het al so baie geleer uit my betrokkenheid by die projek – ek groei as mens deur my interaksie met ander mense en deur my sosiale vaardighede te ontwikkel. Ek kry ook vergenoegdheid uit die wete dat ek dit moontlik maak vir jong dowe meisies om deur die skoonheidswedstryd hul doelwitte te bereik.

Ek het ook al die voorreg gehad om deur die Mej. Dowe SA-kompetisie oorsee te reis. Die eerste keer was in 2007 toe ek vir Terneil Oppel na Praag in die Tsjeggiese Republiek vergesel het. Ek moes seker maak Terneil is voorbereid om aan die Mej. Dowe Wêreld-kompetisie deel te neem en dat sy al haar afsprake en verpligtinge betyds nakom. Ek moes ook toesien dat sy reg aantrek, eet en oefen. Die moeilikste aspek van dié toer was om ons albei se bagasie heen en weer te karwei!

Om koerier te speel het my allermins ontstel, want ek het geglo ek lewer ’n bydrae tot Terneil se ervaring sodat sy haar onverstoord op haar aktiwiteite kon toespits. In 2011 het ek weer vir Mbali Knosi na Orlando, Florida vergesel en sommer vinnig met die organiseerders en ander deelnemers van die Mej. Dowe Wêreld-kompetisie bevriend geraak.

Vanjaar se Mej. Dowe SA word op die 25ste September by Carnival City Casino gekroon. Dis it harde werk om dié skouspel aan te bied! Dit verg groot toewyding en min slap om alles te laat vlot. Ons het aanvanklik die kompetisie self gereël, maar soos dit begin groei het, het dit te veel van ons tyd opgeëis. Ons het toe die hulp gevra van verskeie vriende en organisasies sodat die kompetisie op ’n hoë standaard aangebied kan word.

Ek put baie genoegdoening daaruit as die skouspel ’n sukses was en van die deelnemers vir ons dankie sê vir al die geleenthede wat ons vir hulle geskep het. Ek het onlangs by 2013 Tributes-prysuitdeling, wat die rol wat vroue met gestremdhede in die ontwikkeling van die gemeenskap lewer wil beklemtoon, ’n prys in die menslikehulpbronne-afdeling ontvang. Die prys was vir my bydrae om jong dowe meisies by te staan om selfversorgend en selfstandig te wees sodat hulle met selfvertroue die wêreld in die oë kan kyk.

Die grootste uitdaging wat ek in my lewe as dowe ervaar, is om ander mense (wat nie gestremd is nie) te oortuig dat ek ook by magte is om alles te kan doen wat hulle kan doen! Daarom is my raad aan ander dowes om uitdagings te skep en geleenthede aan te gryp. Moenie toelaat dat jou gehoorgestremdheid in jou pad staan nie.