Main

ONDERWYS was nooit deel van my plan nie. Toe ek jonger was, is ek gevra of ek ’n onderwyser soos my pa of ’n bankier soos my ma sou word. Maar die idee om vraestelle te merk en te skree en ’n klas vol kinders te hanteer wat waarskynlik minstens vyf maniere probeer uitdink waarop hulle die juffrou kan irriteer, het my glad nie aangestaan nie.

Nee, onderwys was nie vir my bedoel nie, want ek het ander planne gehad. Ná skool het ek vir ’n diploma in boukunde gestudeer en ’n jaar siviele ingenieurswese bygevoeg, maar opgeskop toe ek die geleentheid kry om tyd in Engeland deur te bring. Met my terugkoms het ek ’n jaar van ’n BA-graad in omgewingstudie voltooi en toe ’n kort rukkie in die boubedryf gewerk. En dit was waar ek agtergekom het ek is nie vir kantoorwerk uitgeknip nie.

Die besef het tot my deurgedring dat ek nie geniet wat ek doen nie. Ek was gefrustreerd dat my werk geen invloed het op die wêreld waarin ek woon nie. Ek het gevoel ek het geen doelwit nie en dit het my gedwing om weer oor my toekomskeuses te besin. Moes ek in die boubedryf bly, my BA klaarmaak of met iets heeltemal nuuts begin?

Ek weet my keuses laat my dalk selfsugtig en bedorwe klink omdat daar so baie mense is wat sukkel om dit te bekostig om in net een veld te studeer. Al wat ek kan sê is dat my ouers in hul oneindige wysheid geduldig was en my beter geken het as wat ek myself geken het.

Nadat ek besef het ek moet ’n verandering maak, het my pa my onder vier oë gespreek en voorgestel dat ek die onderwys oorweeg. My reaksie was ’n taamlik onsubtiele “Wáát?” Regtig, ná al die energie wat ek daaraan bestee het om die onderwys te ontwyk en daarvan weg te kom – hoe kon dit die ideale loopbaan wees? Dit het glad nie sin gemaak nie.

Pa, rustig en kalm soos altyd (wat my net meer onstel het), het versigtig gevra wat ek met my lewe wou doen. My antwoord: “Om ’n verskil te maak!” Hy het kalmpies gevra hoe ek hierdie verskil sou maak en belangriker, waar ek in ’n posisie sou wees om hierdie vreeslik belangrike verskil te maak? En waar sou ek elke dag iets anders doen en nie ’n enkele dag van verveling beleef nie?

Skielik het ligte bo my kop geflits en neon-uithangborde uitgespring: Onderwyser? Onderwyser!

Wel, hulle het elke dag met verskillende situasies en kontekste te doen, hulle kan nooit verveeld wees nie (tensy hulle dit verkeerd doen) en die wet gee hulle ’n platform om heeldag lank jong mense te beïnvloed en te help en hulle soveel meer te leer! Hoekom het ek dit nie voorheen ingesien nie?

Ek is nou in my vierde jaar as onderwyseres van ’n graad 7-klas by ’n Kaapstadse laerskool en ek is mal daaroor. Ek is ook mal oor my studies. Ek het my honneursgraad in spesiale onderwys voltooi en is besig met my meesters.

Dink die kinders in my klas aan maniere om my elke vyf minute te irriteer? Absoluut! Om die waarheid te sê, ek moedig hulle aan om my en hulleself op ’n opvoedkundige vlak uit te daag. Skree ek heeldag en merk ek vraestelle tot laat in die nag? Wel, kom ons sê maar net dat ek partykeer my buitelugstem binnekant gebruik en dat 30 tieners ’n handvol is! Is ek verveeld? Nooit. Om ’n opvoeder te wees, is ’n wonderlike beroep waar ’n mens elke dag meer kan leer en ervaar.

Ek sê dankie vir my ouers wat my toegelaat het om al daardie eksperimente uit te voer wat my tot hierdie groot avontuur gelei het. En ek maak op honderde klein maniertjies ’n verskil.

Ek kan nie wag om in hierdie blog met julle oor opvoedkundige dinge te gesels nie.

-Reyanah Manuel

Reyanah Reyana Manuel is ’n graad 7-onderwyseres van Kaapstad en een van ons twee onderwysbloggers.