Stadig maar seker word die Fouries gewoond aan hul lewe saam met hul breinbeseerde pa en eggenoot, en die abnormale word die nuwe normale, skryf ons blogger Michelle Fourie in die laaste aflewering van haar aangrypende weeklikse blog.

[caption id="attachment_62764" align="alignnone" width="600"]Michelle Fourie, Jackie Fourie en gesin kort voor Kersfees 2014. Die Fourie-gesin vandag. Van links is Jacques (15), Sophie Sibanyoni, Michelle, Jackie en Ruben (7). Foto:  Rowyn Lombard[/caption]

DIT voel of ons ook tuis ’n plato bereik het wat betref ’n gesonde gesinslewe. Die abnormale word deel van ons normale bestaan.

Jackie se onsamehangende gedrag wat wissel van onaktief (wanneer hy net op sy bed sit en voor hom uitstaar) tot ’n oorreaksie op ’n onbenulligheid, lei tot konflik – veral met Jacques, nou ’n tienerseun met veel meer verantwoordelikhede as wat hy op sy ouderdom behoort te dra. Ek kom ook agter dat ek my nou na hóm wend vir raad en leiding.

En dan gebeur ’n wonderwerk. Jacques kry ’n beurs deur die Atterbury-trust om koshuis toe te gaan. My kind kan weer net kind wees.

Vir my voel dit of ek weer deur ’n verlies moet worstel, en Ruben mis sy broer, maar stelselmatig besef ek dat hierdie trust waarskynlik my kind se lewe gered het. Hy lag weer!

Ruben, wat nie wou skool toe gaan nie, het skielik ’n beste maatjie. Klein Steve word ’n antwoord op gebed, en skool toe gaan word weer lekker vir Rubie.

My vriendinne dra my en die Danville-hulpprojek sorg dat ons nooit honger gaan slaap nie.

Maar ek sal plan moet maak wat terapie en stimulering vir Jackie betref.

[caption id="attachment_62775" align="alignnone" width="600"]Jackie Fourie, Ruben Fourie, Jacques Fourie Jackie en die seuns by ’n onlangse sportbyeenkoms.Voorheen het hy nooit ’n wedstryd misgeloop waaraan hulle deelgeneem het nie.[/caption]

En dan hoor ek van Headway, ’n nieregeringsorganisasie wat terapie en steun gee aan mense met breinbeserings.

Sophie, eens ons huiswerker, is nou Jackie se versorger en sal saam met hom klas toe gaan terwyl ek werk. (My grasdakbesigheid klou nog vas aan oorlewing.)

En so word Headway Tshwane deel van Jackie se nuwe lewe. Die terapiesessies, wat wissel van spel, fisio-oefeninge, musiek en kuns tot geheue-oefeninge, is uitputtend en goed vir hom. Die terapeute en vrywilligers wat met soveel deernis en respek ons geliefdes met breinbeserings hanteer, is vir my ’n openbaring. Maar meer as die terapie, word die kennismaking met mense wat dieselfde pad stap ’n groter deel van ons genesingsproses.

Nuwe vriende word deel van Jackie se lewe. Pierre, wat hom en Sophie oplaai vir klas en hom saamneem na die Wilgers-hospitaalbediening, word vir Jackie ’n rolmodel. Hy was ’n baie bekende internis wie se lewe in ’n oogwink verander het weens ’n breingewas. En so ontmoet ons ander superhelde by Headway, mense wat Jackie aanvaar soos hy nou is. Mense wat beroertes, ongelukke en ander siektes wat hul brein aangetas het, oorleef het.

Hulle is bly om mekaar te sien en hegte vriendskappe ontwikkel namate die tyd verloop. Dit word nou twee keer per week Jackie se hoogtepunt. Ek besef dat ons hierdie pad nie alleen hoef te loop nie. Daar is hulp . . . ook vir ons wat saam met ’n breinbeseerde geliefde die pad stap.

En so loop ons voort. Die pad is steeds vol kronkels en draaie en baie keer, veral snags, kruip die angs en spoke nader.

[caption id="attachment_62763" align="alignnone" width="600"]Michelle Fourie oorsigfoto's Regsom van bo links: Jackie in die waakeenheid ná die ongeluk wat ongeneeslike breinskade veroorsaak het, die talentvolle rekenaarprogrammeerder twee weke voor die ongeluk, Jackie en Michelle het op skool al begin uitgaan, Jacques en Ruben kry ’n wegbreeknaweek na Sun City present, die gesin kort nadat Jackie se rehabilitasie begin het, en die motorwrak net ná die ongeluk.[/caption]

Maar ek het al ’n paar lesse op hierdie pad geleer.

  • Vertrou op God.
  • Glo aan wonderwerke.
  • Waardeer jou familie.
  • Kyk na die wêreld deur jou kind se oë.
  • Wees eerlik met jouself.
  • Wees dankbaar en koester kosbare vriendskappe.
  • Sien ook ander se pyn raak en gee om vir ander.
  • Moenie jou humorsin verloor nie.
  • Sien die wonder van die natuur elke dag raak.
  • ’n Mens hoef nie geld te hê om goeie herinneringe te skep nie.
  • Lag baie, en moenie die trane inhou nie.
  • Waardeer jou werknemers. Hulle is goud werd.
  • Geniet jou kinders.
  • Probeer elke dag fokus op die positiewe dinge wat gebeur het.
  • Hou dagboek, veral as dit swaar gaan. Dis goeie terapie.
  • Glo in die krag van gebed.

Dankie dat julle deel is van my reis saam met Jackie.

Baie liefde

- Michelle

Xxx

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy het die afgelope 11 weke vir Huisgenoot geblog oor hoe haar en haar twee seuns se lewe verander het sedert haar man, Jackie, ’n ongeneeslike breinbesering in ’n motorongeluk opgedoen het. Die blog bo is die laaste aflewering van hul verhaal, maar haar blog was buitengewoon gewild en vir baie van ons weblesers so ontroerend en inspirerend dat ons haar gevra het om aanstaande jaar nog soms vir ons te blog en te vertel hoe dit gaan. Sy het ook deur die blog baie mense ontmoet wat haar ondersteun en wie se verhale haar inspireer, en sy sal dit ook met ons deel.