[caption id="attachment_57520" align="alignnone" width="600"]'n Plaasuitstappie voor die ongeluk. Van links is ek, Ruan, Jacques en Jackie. 'n Plaasuitstappie voor die ongeluk. Van links is ek, Ruan, Jacques en Jackie.[/caption]

EK HET baie jare lank my brood met rampbestuur verdien, maar ná Ruben se geboorte in 2006 het ek uit my werk by die Tshwane-stadsraad bedank.

Ek begin nou baie vinnig besef dat ek hierdie ramp sal moet bestuur, en dat geen teorie op aarde my kon voorberei vir dit wat ons getref het nie.

My man, Jackie, is ná vier peperduur weke in ’n privaat hospitaal na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas, die mediese rekeninge stapel op omdat ons mediese fonds kort voor sy ongeluk verval het, en hy, die broodwinner, herstel nog baie stadig en weens sy ernstige breinbesering is dit onwaarskynlik dat hy ooit weer soos voorheen sal kan werk.

Ek het ses jaar gelede ’n klein grasdak-onderneming begin met ’n span van vyf werkers vir wie ek verantwoordelik is. Ek soek die werk, voorsien kwotasies, laat materiaal aflewer, neem die span soggens werk toe, en sorg aan die einde van die dag dat die terrein skoon is.

Dit klink dalk eenvoudig, maar dis baie stresvol. Lone moet weekliks betaal word en werk in hierdie bedryf is nie volop nie. Ek wou nie altyd in Jackie se oë kyk as ek vir my lipstiffie of iets wou koop nie en die onderneming het darem gesorg dat ek ’n bietjie sakgeld het.

[caption id="attachment_57524" align="alignnone" width="600"]My grasdak-span My grasdak-span[/caption]

Die rimpeleffek van die ongeluk brei nou ook na my spannetjie uit. Ek moet aangaan met die alledaagse take. Rekeninge moet betaal word, kinders moet versorg word en ná baie jare besef ek weer wat dit beteken om ’n ramp te bestuur.

Finansieel was ons glad nie voorbereid op die ramp wat ons getref het nie.

Ek besef vir die eerste keer in my lewe hoe dit voel om te ontvang. Kos word deur vreemdelinge by ons huis afgelewer en hulp kom uit onverwagse oorde. Ek besef hoeveel goedheid daar is, en dat mense inherent goed is

Dis swaar as jy skielik aan die ontvangkant staan. En ek worstel daarmee . . . tot ek eendag in my Bybel raaklees dat om onvoorwaardelik te gee, jy eers moet leer om onvoorwaardelik te ontvang.

Dit laat my ’n bietjie beter voel. Ek besef dat ek hierdie berg nie alleen kan uitklim nie.

Die seuns het my nodig. Ons moet aangaan met die lewe.

Met genade kry ons in hierdie tyd ’n kontrak om ’n plek van aanbiedding langs die Jukskeirivier te bou. Buite die gebou is ’n bordjie opgerig met ’n boodskap wat ek elke dag raaksien: Believe: God is faithful to those who diligently seek Him.

Grasdak

Ons is elke aand by die rehab. En wag vir die oomblikke dat Jackie sy oë oopmaak. Hy is moeg ná die dag se terapie. En hy praat byna glad nie. As hy praat, is dit vreeslik deurmekaar en verstaan ons hom nie. Hy praat oor katte, perde, foto's, treine, skepe. . . Niks maak sin nie; dis asof flitse aanhoudend en deurmekaar in sy brein afgevuur word.

Jackie in rehab

Hy kan nog nie self eet nie en as ons met etenstyd kom kuier, voer ek hom. Hy is soos 'n klein voëltjie wat nie gou genoeg kan sluk om sy bekkie oop te maak nie.

Hy dra nou doek. Dit breek my hart om hom so te sien. - Michelle Fourie * Michelle is  môreoggend (30 Oktober) om 05:45 'n gas op kykNET se ontbytprogram Dagbreek — moenie die onderhoud met hierdie inspirerende vrou misloop nie! - Blogredakteur

Michelle Fourie Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade in ’n motorongeluk opgedoen het. Lees haar volgende aflewering aanstaande Dinsdag.