Ons verwelkom ons nuwe blogger, Michelle Fourie. Michelle gaan met ons deel hoe haar en haar gesin  se lewe verander het nadat haar man, Jackie, se persoonlikheid en vermoëns verander het weens ’n ernstige breinbesering in ’n motorongeluk.

[caption id="attachment_55083" align="alignnone" width="600"]    Die Fourie-gesin  op ’n plaasuitstappie enkele jare gelede. Van links is Michelle, Ruan, Jacques en Jackie. Die Fourie-gesin op ’n plaasuitstappie enkele jare gelede. Van links is Michelle, Ruan, Jacques en Jackie.[/caption]

EK KAN my lewe duidelik in twee tydperke verdeel: vóór die ongeluk – en ná die ongeluk. In dié twee tydperke staan geen spesifieke datums meer uit nie; alles wat in ons lewe gebeur het, val in een van dié twee dele.

Ons het die teëls laat insit voor die ongeluk . . . ons was laas met vakansie voor die ongeluk . . . Ruben se vyfde verjaardagpartytjie was ná die ongeluk ... Jacques se o.14-rugbyspan het die stadsbeker gewen voor die ongeluk, en ek onthou die trotse pa wat op en af langs die veld gedraf het ...

[caption id="attachment_55059" align="alignnone" width="600"]Hierdie foto van die kinders, hul ouma Anna en pa Jackie is twee weke voor die ongeluk geneem. Hierdie foto van die kinders, hul ouma Let en pa Jackie is twee weke voor die ongeluk geneem.[/caption]

Die oproep

Jackie, my hoërskoolliefde, en ek is 20 jaar getroud. 20 jaar is ’n lang tyd en ons het baie sakke sout saam opgeëet. Ons het twee seuns, ons geskenke van Bo: Jacques (15) en Ruben (7).

Die aand voor die ongeluk was ’n goeie aand. Ek het styf teen Jack se rug gelê en besef ek gaan die ou man tóg mis. Hy sou vier aande weg wees. Hy, sy twee susters en sy broer sou Durban toe ry om hul oom se begrafnis by te woon en sommer die naweek in Ballito deurbring.

Net ná drieuur op ’n koue winteroggend het hulle uit Pretoria weggetrek. En net ná halfvyf het die foon gelui.

’n Bees op die N3? Mediese besonderhede? Bewusteloos?

Ek onthou die naarheid, die koue sweet, die angs. Ek het die kinders wakker gemaak: Pappa was in ’n ongeluk. Hy word na die hospitaal in Alberton suid van Johannesburg geneem en ons moet dadelik soontoe gaan.

Daar was nie tyd om hulle eers iewers te gaan aflaai nie.As ek terugdink, besef ek die spoed waarteen alles gebeur het, was my redding. Ek het nie tyd gehad om te dink of na te dink nie. Ek het net geweet Jackie het bestuur en hy het ’n bees getref wat op die N3-tolpad buite Heidelberg rondgedwaal het. Daar was twee beeste. Jackie het vir die een uitgeswenk en die ander een het sy kant van die motor getref.

Main

Die waakeenheid

Saam met my skoonsus en swaer kom ons in Alberton aan. Tegelykertyd arriveer ’n helikopter met ’n pasiënt aan boord. Jackie.

Ek en die seuns lyk soos weeskinders. Dis eers by die hospitaal dat ek besef Ruben het sy ou pantoffels aan en ek het nooit hare geborsel nie.

Hospitale is klaar vreesaanjaend. Maar noodgevalle, net voor sonop, is die eensaamste, koudste plek op aarde. Ons wag. En bid. En wag. Uiteindelik verduidelik ’n traumaberader wat aangaan.

Jackie moet gestabiliseer word. Daarna neem hulle hom radiologie toe om x-strale en skanderings te laat doen.

Ek voel ek gaan flou word, maar my seuns het my nou nodig. Ek kan nie nou die kluts kwytraak nie.

Die drie ander passasiers kom by die hospitaal aan. Die bees is van agter getref en nadat hulle skoongemaak is, bly genadiglik net snytjies en blou kolle oor.

Dankie, Here!

Jackie word in die intensiewesorg-eenheid opgeneem. Toe ek die internis aan diens ontmoet, weet ek hy is in die beste menslike hande moontlik.

Die dokter verduidelik Jackie het ernstige hoofbeserings opgedoen en met die impak van die ongeluk het hy nie net sy bewussyn verloor nie, maar in ’n diep koma verval. Hulle noem dit ’n traumatiese breinbesering.

Ek is heeltemal te bang om hom te sien. Maar toe ek uiteindelik langs sy bed staan, is dit anders as wat ek my voorgestel het.

Ja, hy is kwaai opgeswel en pype is oral ingedruk, maar verder kan ’n mens nie glo dis so erg nie. As Jackie net sy oë sal oopmaak, gaan alles oukei wees.

Jackie in ICU

En skielik is daar nie geld nie . . .

Skok ná skok. ’n Administratiewe beampte wat nie ’n dag ouer as 18 lyk nie, kom op my afgestorm. Daar’s ’n probleem met die mediese fonds. Tot my ontsteltenis besef ek Jackie se rekeningbesonderhede het ’n ruk tevore verander en die mediese fonds se geld is nooit afgetrek nie. Ons het dit nooit agtergekom nie, want alle ander aftrekkings was in orde. Dit was ons fout – en nou hang my man se lewe aan ’n draadjie.

Ek word vertel ek moet onmiddellik R120 000 neersit. Jackie is heeltemal te swak om oorgeplaas te word na ’n staatshospitaal, maar desondanks moet ek nóú die geld in die hospitaal se rekening oorbetaal.

Oorlewingsmeganismes skop in. My oom sal weet wat om te doen. Teen die einde van die dag, nadat ek soos ’n skurk deur die hospitaal behandel is, word die geld inbetaal. Ek sal oor vier dae besluit wat my te doen staan.

Ons moet eers die eerste 48 uur oorleef.

Michelle Fourie  Michelle Fourie woon in Pretoria waar sy ’n grasdakonderneming besit. Sy blog vir Huisgenoot oor hoe haar en haar gesin se lewe verander het nadat haar man, Jackie, ongeneeslike breinskade opgedoen het. Lees haar volgende aflewering aanstaande Dinsdag.