Baie mense het die afgelope weke die vraag gevra: “Waarom kom hy nou eers na 50 jaar met die storie uit?”

Ons weet nie waarom nie maar ons weet wel dat ons dit verstaan.

My lewenspad het op die jeugdige ouderdom van 19 jaar skaars die sorgvrye pad van kindwees verbygegaan toe ek ‘n helder stroompie moes oor. Dit was nie die eerste stroompie wat ek moes kruis nie maar daar was iets omtrent hierdie stroompie wat anders was. Iets besonders wat my weer en weer laat terugkeer het, al was dit net om met my voete so bietjie in die skoon koel water te kon staan of so nou en dan so ‘n entjie saam met haar te kon loop. Kort voor lank het ek bykans al my vrye tyd by haar deurgebring. Dit was ‘n heerlike tydperk en ons het soos lawwe kinders in die vlak water rondgeplas. Ons tye saam was so besonders dat dit ons nie lank geneem het om te besluit om ons onderskeie stroompies in een rivier te omskep nie en kort voor lank het ons so gemaak. Ons het vas geglo dat ons nuutgeskepte rivier vir ewig sal voortborrel.

'Ons het ons saamwees geweldig geniet. Tog was daar ‘n probleem wat ons nie werklik verstaan het nie.'

Ons het ons saamwees geweldig geniet. Tog was daar ‘n probleem wat ons nie werklik verstaan het nie.

Ons wou ook graag in die diep water van ons rivier swem, speel en baljaar maar dit was net nie moontlik nie. Daar was obstruksies en goeters wat seergemaak en die gespelery belemmer het. Ek het teen daardie tyd ook reeds agtergekom dat daar by my stroompie beslis opdrifsels stroomop moes wees wat die normale vloei van die water beïnvloed aangesien dit soms net anders gevloei het.

Van tyd tot tyd het die borrelende stroompie vir dae op ‘n keer net stil geword en terwyl ek geweet het dat dit nie my skuld was nie, het ek dit net aanvaar en my stroom rustig langs hare laat vloei totdat dinge vanself weer reggekom het.

Tydelike hulp

Mediese hulp het vir jare daarna gevolg maar niks het vir meer as die tydelike gehelp nie.

Vyf wonderlike jare na ons troue begin haar kant van die rivier eendag voller word en ‘n rukkie daarna vertak ons rivier. 3 jaar later gebeur dit weer.

Die ginekoloog wat my vroutjie al die jare behandel en ook die geboortes waargeneem het, was tydens die jare van sukkel van mening dat die probleme wat sy ondervind het met die geboorte van haar eersteling behoort te verdwyn. Hy het ons ook daarom aangemoedig om met ‘n gesin te begin. Hy was doodreg.

Die rotsblokke en ander goeters wat gepla het was weg en ons kon vir die eerste keer in baie jare heerlik en ongebonde in die diep water van ons rivier baljaar. Soms het sy egter van tyd tot tyd weer net stil geraak en duidelik verkies om gedurende daardie rukkies so ‘n bietjie alleen te vloei. Ek het daarom geweet dat daar steeds opdrifsels iewers stroomop moes wees. Sowat 20 jaar na ons troue ontmoet ons met my vroutjie se suster en haar man. Hulle was hewig ontsteld en deel ons mee dat hul tienerdogter ‘n briefie aan hulle geskryf het waarin sy vertel dat haar oupa, dus my vroutjie en haar suster se pa, haar etlike jare tevore wou molesteer en dat sy nie weer by haar grootouers wou kuier nie.

'My liewe pragtige stroompie oorspoel haar walle en ons word deur die vloedgolf meegesleur.'

Ek was tot in my diepste wese geskok en sien toe dat skoonsuster my vroutjie snaaks aankyk. Op daardie oomblik breek my vroutjie se dam. My liewe pragtige stroompie oorspoel haar walle en ons word deur die vloedgolf meegesleur.

Tussen die trane deur- sy was so verskriklik stukkend, moes ons hoor haar pa het haar vir baie jare gemolesteer. Vandat sy kan onthou, dus van kleuter tot sestienjarige jong meisie. Dit was vreeslik. Ek kon nie glo wat ek hoor nie maar al die jare se stiltetye, die alleen-wees- tye en die fisiese probleme het skielik duidelik sin gemaak. Ek het heeltemal beheer verloor en ons het die aand saam omgehuil.

Ek het nooit geweet ek kan so kwaad word nie. Ek het ook nie geweet dat dit fisies moontlik is om nie heeltemal deur hierdie vlak van woede verswelg te word nie. Ek skryf dit net aan ons Hemelse Vader se genade toe dat ek my nie te buite gegaan en verkeerde dinge aangevang het nie. Maar dit was so skrikwekkend naby

Die dam se breek het my stroompie wel stukkend en seer gelaat maar baie van dit wat deur die jare onderdruk is het genadiglik in die proses weggespoel, tot so ‘n mate dat sy verlos genoeg gevoel het om bietjie daaroor te gesels.

Ons het die pad vorentoe bespreek en sy het gesmeek dat die saak nie verder gevoer moet voer nie. Dit was haar besluit om te neem en hare alleen. Ek kon haar maar net probeer ondersteun aangesien die seer nou rou was. Sy wou vereers ook glad nie verder daaroor praat nie en het daarop aangedring dat niemand daarvan mag weet nie.

Die kruis van die seer

Die dam se breek het 19 jaar gelede gebeur. Ons het intussen ons seer met goeie vriende en familie gedeel.

Elke keer wanneer die media oor sake van kindermolestering rapporteer word die seer weer oopgekrap. Elkeen van hierdie sake het ‘n groot invloed op my maatjie gehad.

Die afgelope maande se stories oor iemand wat vir ons persoonlike geloofslewe ook so baie beteken het was verpletterend. Weereens is die seer diep en wreed oopgekrap.

Baie gesprekke het hierop met vriende en familie gevolg. Die kwessie van die tydsverloop tussen die molestering en die bekendmaking daarvan deur die slagoffer is in besonder bespreek.

Ja, daar is die kwessie van goeie werk wat in die tussentyd gedoen is. Maar dan is daar ook die ander kant van die storie. Dié van die slagoffer, wie die letsels en seer vir die res van sy of haar lewe moet verwerk.

Dit is ‘n kruis wat in die meeste gevalle, soos dié van my vroutjie, alleen sonder die medewete van hul geliefdes gedra word. Dit kan onmoontlik mos nie deur enigiets wat die oortreder buite die lewensfeer van die slagoffer vir sy eie heil doen, beïnvloed word nie.

Ek het die ander aand weer met ‘n seer hart na my lewensmaat geluister toe sy vertel hoe haar onderwyseresse haar netjies geboude rugbyspeler van ‘n pa, altyd trots uitgevat in sy rugby baadjie en langbroek tydens besoeke aan die skool, met bewondering aangekyk en aan sy lippe gehang het. Sy, aan die ander kant, onthou hoe sy gewoonlik alleen, weg van die maatjies op die speelgrond haar melkie sit en drink het. Dit is hartverskeurend om na hierdie soort seer te luister terwyl jy weet dit slegs die tippie van die ysberg is. Haar pa het haar onder andere gedreig dat indien sy sou uitpraat hul hele gesin uitgewis sal word. Watter wrede en lafhartige manier om beheer oor ‘n onskuldige kindertjie te voer? Die voortdurende molestering moes sy as dogtertjie magteloos vir baie jare verduur met niemand wat haar daarteen beskerm het nie. Ek kan my nie indink in die gemoedstoestand waarmee sy in die aand moes gaan slaap en soggens wakker word nie. Wat het hierdie pa nie alles aan sy pragtige dogtertjie gedoen nie? Watter herinneringe het sy deur sy toedoen van daardie jare wat eintlik haar mooistes moes gewees het? Ek weet nie, ek wil ook nie weet nie en die blote gedagte daaraan is genoeg om my woedend te maak.

'Is hy ‘n wonderlike pa of ‘n monster wat sy ware kleure vir die wêreld wegsteek?'

Vra jouself die vraag. Is hy ‘n wonderlike pa of ‘n monster wat sy ware kleure vir die wêreld wegsteek? Ek en my vroutjie weet wat die antwoord hierop is, al loop hy ook deesdae op 85 jarige ouderdom met die Bybel onder die arm en ‘n preek gereed vir enige geleentheid rond!

Ek en sy weet vandag waarom daar onskuldige slagoffers is wat vir baie jare net eenvoudig die seer in hulle rondra sonder om aandag daarop te vestig. Dat, wanneer so ‘n storie bekend word, dit vir al daardie jare gelê en broei en dan vir die een of ander rede genadiglik tot uitbarsting gekom het.

Ons weet dit is ‘n hel waardeur die slagoffer beweeg en dat dit so erg is dat dit selfs op die stadium van openbaring asook vir baie jare daarna onmoontlik is om vrylik daaroor te kan praat.

Dit is moeilik om die seer, telkemale hierbo na verwys, te kan beskryf. Daarom is dit maklik om te verstaan dat mense wat nog nooit daaraan blootgestel is nie, nie werklik begrip vir die slagoffer sal hê nie.

- Lewensmaat

Durbanville

12 Maart 2014