Ek wens daar was ’n naam – iemand wat ek kon verwyt, vir wie ek kon kwaad wees. Ek sou ’n gesig by die naam kon sit en beter voel, hoe verkeerd dit ook al is; ek sou haar kon haat. Want dit sou makliker wees om iemand die skuld te gee vir my huwelik wat op die afgrond huiwer.

Maar sy bestaan nie. En eintlik is dit ’n jammerte, want dit sou eintlik beter gewees het as daar “’n ander vrou” was.

Ek stry teen ’n muur, ’n niks, want daar is niemand.

Liefie, gee my ’n week van nugter wees, en ek gee jou die hemel. Ek sal jou sewe dae en nagte op my hande dra. Ek sal jou wys dronk word op die liefde is beter as dronk word op goedkoop drank.

Ek sal jou bederf, jou voete was, jou rug masseer, lang ente deur die dorp gaan stap en saam met jou “wat as”- en “eendag wanneer ons oud is”-drome droom terwyl ons roomys eet.

Maar die vet weet, dis te veel gevra. Pleks daarvan kry ek ’n dronk man wanneer ek van die werk af kom. Die kinders kuier eerder by maats of hul ouma, want hulle is nie lus om by die huis te wees nie.

Vanaand het jy so min selfrespek, jy klim net so met jou drankasem langs my in die bed, steek ’n laaste sigaret aan en raak byna onmiddellik aan die slaap. Ek sit maar en wag ingeval die sigaret nie self doodgaan nie. Wanneer jy balke saag, vat ek die sigaret uit jou hand.

Vra ek hoekom jy drink, wissel die redes van jy “werk hard” en “dis die enigste manier om te ontspan” tot jy “is nie nou lus vir my nonsens nie”.

Ek is alleen; jy is nooit daar vir my nie, al deel ons ’n huis en ’n bed. Jy is nie ’n man nie.

Ja, ek het die fout al by myself gesoek en tot die slotsom gekom dat ek jou nie waardig is nie. Miskien is ek ’n slegte, skoorsoekerige vrou. Ek meen, ná ’n paar patetiese (moenie my oordeel nie) pogings om my lewe te neem, is ek steeds hier. Ek sal wragtig in die saligheid van slaap wegraak, maar môreoggend skree die verdomde hoender my sowaar soos klokslag wakker en moet ek my moeë lyf uit die bed sleep om nog ’n dag aan selfondersoek op te offer.

Ek weet nie meer nie, want jy praat nooit meer met my nie.

My wens is dat ek jou nooit so lief moes kry om jou elke keer te vergewe nie. Dit is mos my “Christelike plig”. As jy iemand anders was, was dit dalk makliker en kon ek ten minste myself wees. Maar nou is jy my man. Die pa van ons pragtige dogters. Aan materiële dinge het ons nie ’n tekort nie; net aan die man en pa in die huis.

Ek mis jou, my man.

Aan die begin was jy die een wat my beskerm en my die maan en sterre belowe het. Waar het alles fout gegaan? Ek sal alles in my gee as jy net wil erken jy het ’n probleem, en ek sal jou deur alles help en bystaan.

Ek vra mos nie veel nie.

Liefde vir altyd,

Jou vrou