JY WORD daarsonder gebore en vir ’n lang tyd is jy salig onbewus van hul bestaan.

Maar dan, ’n paar jaar later, vanuit die sagte bedding in jou mond se spelonk, ontkiem die goed soos mieliepitte in watte: jou tande.

Kort voor lank is dit ’n gewoel en ’n gestoei soos die melkwittetjies uitval en dan kom die menere. Hulle is soos soldate – soms lynreg, soms effe skeef – maar hulle neem stelling in en jy is reg om met elke “cheeeeese” en kameraklik ’n mond vol pêrels te flash. Maar ’n groot depressie volg. Die meeste van ons se tande word lewenslank behandel soos die middelklas – overworked and underpaid!

Hulle moet kou en cope en byt, terwyl hulle gebeitel word deur alles wat jou hande na jou mond toe bring. Helaas gee die gewillige dienaars mee en moet jy jou eerlike werkers vir ’n bek vol tande verruil wat almal ewe vals is.

Die einde is nie in sig nie! Daar valses skommel rond soos ’n milkshake in ’n blender en die kleinste pitjie kan die grootste antie so hoog laat gil dat Mimi Coertse soos ’n alt klink. Verloor jy ’n kilo te veel, pas die tande nie meer nie. Verloor jy jou tande, is sop jou voorland. Snaaks dat die spreekwoord juis sê “jy sit met jou hande in jou hare”. Moet dit nie eerder wees “jy sit met jou tande in jou hande” nie?

Ek ken ’n boepens-omie wat sy eerste stel valsies gekry het en die nuwe intrekkers in ’n smart restaurant wou test drive. Maar die goed het hom hap vir hap so gepla dat hy die tande daar en dan uitgehaal en in die bordjie langs hom neergeplak het. So sit en smile die tande met hul eie grin na vriend en vyand en almal staar oopbek terug.

Sy kinders was so geskok, hulle het weggehol kar toe en geweier om terug te kom. Gelukkig het die oompie op sy rype ouderdom uit sy foute geleer en deesdae bly die tande salig in sy mond. Hy eet nou sy skaapribbetjies dat die vet soos Lip-Ice om sy mond sit.

Op ’n ander plattelandse dorpie het slaggate so groot soos Kimberley se gat weer sy tol op ’n ou tannie se tanne geëis toe haar hopjas-tjor se tyre die teer slaat en die tannie se vals voorry met slagtande en al uit haar mond spring soos ’n wafferse Olimpiese atleet uit die wegspringblokke.

Met al die stampe en stote het die boonste gelid glads middeldeur gekraak. Hoewel sy alles probeer het om dit te las – van Super Glue tot Prestik – het niks gehelp nie. Dankie tog vir familie, want tot die nuwe stel eindelik van die tandarts gekom het, moes haar kleinkind maar elke Sondag haar kos kou. Die tannie moes net sluk. Dis nou wat ek ’n close-knit family noem!

’n Ander goose het vir my genoem van haar ouma en oupa wat elke vakansie so erg baklei het, kind en kraai was radeloos. Maar toe die kinders die volgende vakansie weer gaan kuier, sien hulle tot almal se verbasing oupa en ouma sit liefies-liefies op die stoep. Hulle vra toe wat aangaan en die oumatjie antwoord gelate: “Ons het nou soveel meer vrede in die huis, want ons albei se tande rus nou saans saam in dieselfde glasie lou water langs die bed.”

Mag jy die week met ’n smile beetpak. Pak daai tande uit, my tjomma, en sê: “Cheeeeese!”

Ek watch jou!

Deur DIE FLOOZE