[caption id="attachment_45473" align="aligncenter" width="610"]Ons blogger Dalena Theron kuier saam met virendinne wat sy by die tydskrif Saúde gemaak het. Van links is hulle Fernanda Didini, Dalena, Talita Marchado en Vanessa Kinoshita. . Ons blogger Dalena Theron kuier saam met vriendinne wat sy by die tydskrif Saúde gemaak het. Van links is die vroue Fernanda Didini, Dalena, Talita Marchado en Vanessa Kinoshita.[/caption]

“As jy met iemand praat in ’n taal wat hy verstaan, gaan dit na sy kop toe. Maar as jy met hom in sý taal praat, gaan dit na sy hart.” – Oudpres. Nelson Mandela

HIERDIE woorde van ons oudpresident draai die afgelope maande in my kop. Ek het grootgeword met Afrikaans en Engels en soos baie ander Suid-Afrikaners het ek dit as vanselfsprekend aanvaar dat almal moet kan Engels praat – as ek die moeite doen, kan die res dit ook mos maar doen. Tot ek my in die Brasiliane vasgeloop het.

Tydens my internskap by die gesondheidstydskrif Saúde kon ’n paar mense Engels praat, maar ek het meestal die draad byster geraak in vinnige Portugese gesprekke oor middagete of in vergaderings.

Een van die ontwerpers in die span, Fernanda, kon glad nie Engels praat nie. Fernanda is ’n kort, grappige 20-plusser en sy het baie moeite met my gedoen – stadig gepraat, woorde probeer verduidelik, mense gevra om te vertaal. Maar ’n grap is nou maar net so: Jy moet die taal kan verstaan. En Fernanda is die grapjas van die span. Dus het ek my maar daarby berus: Soms gaan ek verstaan, maar ander dae, wanneer die span die lekkerste lag, gaan ek sonder ’n woord in die kring sit en luister sonder om te kan deelneem.

Ná ses maande by Saúde was my internskap verby en het die span (in Engels) gegroet. Dit was ’n teleurstelling: Ek het gedink ná ses maande sal ek definitief meer Portugees verstaan. Maar behalwe vir die basiese woorde soos “hallo” en “dankie”, kon ek steeds nie gesprekke voer nie.

En toe ontmoet ek Karina, my Portugese onderwyser. Sestien uur per week, nege weke lank, het ek woorde neergeskryf, oefeninge gedoen, video’s gekyk en sinne aan mekaar probeer snoer. Soms het Karina gelag, soos die keer toe ek die tradisionele gereg escondidinho verwar het met die woord esconder, wat beteken “om weg te steek”. Of soos die keer toe ek sentar (om te sit) en sentir (om te voel) verwar het en toe vir iemand in nood sê: Me sento muito (ek sit baie), pleks van Me sinto muito (ek voel jammer vir jou). Maar Karina, ’n maer, klein mensie wat soms erg skaam kan wees, het haar klas ’n groot geskenk gegee: Sy het altyd geglo ons gaan verstaan. Muito bem! (baie goed!) het sy elke keer gesê wanneer ons ’n oefening klaarmaak. Sy het ons genooi na sosiale uitstappies: Afro-Brasiliaanse dansklasse, kookklasse en etes by Brasiliane se huise.

Nou die dag stuur ek toe vir Fernanda ’n e-pos. “Kom drink ’n bier saam met ons!” sê Fernanda, so vriendelik soos altyd. Ek en my man, Thomas, daag presies op die regte tyd op: ’n uur en ’n half ná die aangewese tyd, want dis wat Brasiliane bedoel wanneer hulle jou ’n tyd gee. Ons skink uit die gemeenskaplike bierbottel, maar ek slaan skoon in sweet uit van stres, want ek voel steeds soos die meisie wat nie verstaan nie.

[caption id="attachment_45474" align="aligncenter" width="628"]Aandete saam met kollegas by die tydskrif. Fernanda is tweede van links. Aandete saam met kollegas by die tydskrif. Fernanda is tweede van links.[/caption]

Nog mense daag op, ek skuif in en ek beland langs Fernanda met haar groot glimlag. En daar begin ons ewe skielik gesels: oor haar komende vakansie in Amerika, oor goed wat by die tydskrif aangaan, oor Laura (nog ’n ontwerper) se troue, oor die keer toe Fernanda haar blindederm laat uithaal het. Later sit ons selfs en lag oor die eienaardigste goed, soos wanneer jy ’n spier het wat spring waaroor jy geen beheer het nie. As ek nie ’n woord ken nie, vra ek (in Portugees) hoe om dit te sê. Fernanda sê. En dan praat ons verder.

Dieselfde aand het Thomas een van ons Suid-Afrikaanse kollegas saamgebring, Steve. Hy is nog net drie weke in Brasilië. Hy leun oor Thomas na my toe en vra: “Waaroor praat julle?” Ek is verbaas toe ek opkyk, want ek kan nie die grappie vir hom verduidelik nie. Dis een van daai jy-moes-daar-gewees-het-grappies. Of eerder: jy-moet-die-taal-kan-praat-grappies. Dis toe dat ek besef: Ek het al baie met Fernanda gepraat, met al hierdie mense, maar dis nou, vanaand, in hulle taal, dat ek die eerste keer met hulle práát.

Dis jammer dat ek Brasilië toe moes kom om ’n les te leer wat Madiba ons lankal probeer leer het. Maar een ding weet ek vir seker: Sodra ek terug in Suid-Afrika is, slaan ek ’n Xhosa-boek oop. Daar is heeltemal te veel mense in ons land met wie ek nog nie gepraat het nie.

- Dalena Theron

Dalena het voorheen by Huisgenoot gewerk. In 2012 is haar man, Thomas, na Brasilië verplaas. Lees haar ander blogs uit Brasilië:

Die perfekte caipirinha

Soos een man op straat

Mooi mense

Blog uit Brasilë