So lief as wat jy jou kinders het, mis jy ooit jou lewe soos dit eens was? Die uitgaan, laat slaap, en die salige stilte. As jy al ooit so gevoel het, is jy nie alleen nie. 

Die blogger-ma Cherralle Alexander het openhartig gepraat oor die 10 goed wat sy die meeste mis van voor sy kinders gehad het. Kan jy hierby aanklank vind? Dit is in die haak om dit te erken. 

“Ek het my kinders met my hele hart lief en kan nie my lewe sonder hulle voorstel nie. Hulle dryf my wel soms tot raserny. En ek erken prontuit ek mis soms my lewe voor kinders. Net soms. Net ’n klein bietjie. 

Geld

Jip, kinders kos ’n fortuin. Dis kindersorg, skool, klere en mediese uitgawes. En moenie vergeet ons moet ook vir hulle kos gee nie. 

Laat slaap

Dit is die ding wat ek die heel meeste mis en ek het nie besef hoe kosbaar dit was toe ek die kans gehad het nie. Wanneer tot sesuur soggens slaap as “laat slaap” beskou word . . .Dis regtig ’n stryd.

Wanneer ek klaar gewerk het, was ek regtig klaar gewerk 

Voor ek kinders gehad het, was dit wonderlik om by die huis te kom en tyd te hê om net te ontspan. Nou is die werklikheid dat wanneer ek van die werk af by die huis kom, ek minstens nog ’n paar uur aan diens is afhangende van hoe laat my kinders gaan slaap (ek beveel ’n vroeë slaaptyd ten sterkste aan).

Badkamer toe gaan sonder om te verduidelik 

My dogter is skynbaar gefassineerd daaroor dat ek die badkamer besoek. Badkamer toe gaan, vereis ’n lang verduideliking aan my driejarige oor hoekom ek gaan. En ek word ook na die badkamer vergesel. 

Saans gaan uiteet

Man, dit was lekker om net te besluit om die aand te gaan uiteet (of fliek) sonder om enige reëlings hoef te tref. Die vryheid daarvan was suiwer saligheid!

Gewone televisieprogramme kyk wat nie geanimeer is nie

Hoe mis ek dit nie om die naweek te ontspan en ’n reeks-marathon te hou nie! Ek onthou ek en my man het eindelose episodes van CSI: Miami gekyk. Ons hoef nie eens op ’n Saterdag uit die bed op te gestaan het nie. Sug.

Vrye tyd, soveel vrye tyd

Ek mis dit om te kan doen wat ek wil, wanneer ek wil. Lees, ’n rolprent kyk, kook (grappie!, dit was nooit kook nie).

Naweekwegbreke . . . sonder om die ekwivalent van ’n klein woonstel saam te karwei

Weggaan het verander van net ’n klein oornagsak vat tot . . . ’n hele kattebak vol goed. Dit is die bababed vir die kleintjie, genoeg komberse vir die kleintjie, ’n spesiale kombers vir die ouer een, klere, ekstra klere, kos, ekstra kos, handdoeke en ekstra handdoeke . . . Die lys is eindeloos.

’n Koppie koffie drink sonder dat dit koud word 

Ek verhit gedurig ’n koppie koffie in die mikrogolf. ’n Baie vreemde feit, maar waar!

Om nie kinders se liggaamsvloeistowwe hoef te hanteer nie

Ek gaan dit nie verduidelik nie.