Die blogger-ma Kelly Pretorius het ’n paar bekentenisse om oor haar ouerskapsgewoontes te maak  en as jy ’n normale mamma is, behoort jy daarby aanklank te vind.

Hier is haar openlike erkentenisse:

As jy ’n ywerige leser van mamma-blogs is, soos ek, kom jy dalk op artikels af wat jou baie mistroostig laat voel. Jy verlaat dalk daardie bladsy met die gevoel dat jy die slegste ma ter wêreld is, want jy vervul nie al die superma-kenmerke wat van jou verwag word nie.

Sulke plasings het my al regtig hartseer, kwaad en sleg laat voel, want al die onrealistiese verwagtings was presies dit: onwerklik en onnodig.

Toe dink ek ek sal bekentenisse maak as ma. Hier is my 11 ergstes. Oordeel as jy wil:

Ek kan nie kook nie

Daar, ek het dit gesê. Dit is waarskynlik die een waaroor ek die meeste veroordeel word.

Watter ma kan nie kook nie? Almal van ons is veronderstel om elke aand ’n gesonde, gebalanseerde tuisgemaakte maaltyd op die tafel te sit – dis deel van die “ma-werk”. Die waarheid is, ek kan nie. En die ergste deel? Ek wil ook nie. 

Die gemors gee my die horries in en ek geniet dit nie eens om te probeer nie, veral wanneer ons om halfses, sesuur saans by die huis kom. Ek het darem my visvinger-oondtyd vervolmaak – agt minute op 220 grade, draai om en sit nog ses minute terug in die oond. Dit word met ’n kwart avokado, ’n mielie en ’n bietjie tamatie voorgesit. Wanneer my man nie kook nie, kry hulle mikrogolfmaaltye van Woolies (baie gesondes, groente en alles – ek belowe).

Ek deel nie my lekkers nie

Ek het al meer as een keer (meer as twee keer as ek eerlik is) in my badkamer weggekruip en ’n hele sakkie sjokolade-eiers, ’n staaf sjokolade of ’n halwe fles Nutella so vinnig verorber dat ek dit nie eintlik eens geproe het nie. 

Ek kan suinig wees

Ek het vir my dogter gesê sy sal nie van die nougat hou wat ek geëet het nie, want dit word van mayonnaise gemaak, net omdat ek nie wou deel nie. Nou weier sy selfs om aan nougat te proe. Sy is oortuig ons wil haar om die bos lei om mayonnaise te eet. Oeps. 

Ek vergeet “belangrike” goed

Ek vergeet om antwoordstrokies na die skool terug te stuur. Baie. Ek verloor my kinders se boodskapsak. Ek vergeet om vir briewe te kyk. Ek vergeet om vir skoolfoto’s te betaal. 

Ek het vir my kinders ongesonde lekkernye vir ontbyt gegee

Ek het vanoggend vir my kinders ’n Coco-Pops-stafie en Milo vir ontbyt gegee. 

Ek weet. Dit is baie sleg, maar ek was baie laat vir werk, my wekker het nie afgegaan nie en Barry is in Durban.

Ek moes my seun se gesig soos ’n hanswors verf vir skool, die honde kos gee, sakke pak (probeer onthou om vir briewe te kyk) en hulle en myself binne ’n uur gereed kry. Ek het dit net-net reggekry.

Boonop het ek Casey toe probeer oortuig om nie vir haar onderwyser te vertel nie. Wat is fout met my? (Ek het oorweeg om iets gesonder pleks van Milo daar te tik, maar dit sou ’n leuen gewees het.)

Foto: Verskaf

RSVP? Wat is dit nou weer?

Ek vergeet om te RSVP vir kinderpartytjies.

Ek het die uitnodiging, ek sit dit teen die yskas of op my goedbedoelde aansteekbord in die gang. Ek koop selfs die geskenk. Maar dan raak die uitnodiging verlore agter inkopielyste, die kinders se sketse en sterkaarte, en op die ou end ontgaan dit my. Wanneer ek eindelik onthou, is dit te laat om te antwoord en ek is so verleë dat ek dit nog langer los. Ander ma’s onthou skynbaar om dit te doen. Ma’s antwoord op my kinders se uitnodigings. Hoe is dit dat ek iets so kleins nie kan onthou nie? Hoe moeilik is dit nou eintlik? 

Ek geniet nie inkopies saam met die kinders nie

Ek geniet dit om alleen kruideniersware te koop. Ek stap stadig in elke gang af, veral die gang met skoonmaakmiddels. Dis vreemd, ek weet . . . 

Ek skree op my kinders

Ek het een keer so hard op my kinders geskree die bure het my gehoor. (Hulle het my net een keer gesê . . . dit was dalk meer.) 

Ek is nie altyd in ’n troetel-bui nie

’n Paar keer wanneer my seun, Luke, gevra het ek moet die aand by hom lê, het ek gehoop hy raak baie vinnig aan die slaap want ek het goed om te doen. 

Ek vergeet om slaaptyd Bybel te lees

Ek het Casey twee dae agtereenvolgens belowe ek sou vir haar Bybel lees en het albei keer vergeet. En toe sy my slaaptyd herinner, het ek vir haar gesê dit is te laat, en belowe om dit die volgende dag te doen. 

En die laaste een:

Ek laat myself gereeld skuldig voel

Ek gaan elke liewe aand bed tot ontsteld met myself oor iets wat ek gesê het/ nie gesê het nie/ gedoen het/ nie gedoen het nie/ vergeet het om te doen. Ek lê in die bed en voel ’n bietjie naar van skuld. Gedagtes maal deur my kop. Soos: Hoekom kan ek nie meer soos die ander ma’s wees nie?; Hoekom het ek my seuntjie so vinnig aan die slaap gewens? Ek is veronderstel om elke sekonde saam met hulle te koester, en slaaptyd is die beste tyd om ’n band te smee!; Hoekom het ek vanaand so maklik ongeduldig geraak? Komaan, Kelly! 

Ek raak eindelik aan die slaap terwyl ek myself belowe ek sal môre harder probeer om ’n beter ma en vrou te wees. Ek kry dit op die een of ander manier reg om myself teleur te stel. Elke. Liewe. Dag.

Ek het my kinders liewer as die lewe self; en soms kyk ek net na hulle in verwondering, vol dankbaarheid. Hulle is die beste ding wat met my gebeur het en ons lewe sou dolleeg gewees het sonder hulle. Maar, deksels, dit is moeilik om klein mensies groot te maak!

Foto: Verskaf

Hierdie bekentenisse is nie ’n poging om mee te ding oor wie die slegste ma kan wees nie. Mislukking is ’n normale deel van ouerskap. Of ten minste, ék dink so. Of jy nou voltyds of halfdag werk of ’n tuisblyma is – dit raak glad nie makliker nie. 

Een ma maak dalk haar eie granola vir haar kinders vir ontbyt, beperk hul televisietyd en gee vir hulle streng glutenvrye middagetes; terwyl ’n ander een vir haar kinders Weet-Bix vir ontbyt gee, hulle soveel TV laat kyk as wat hulle wil en vir hulle ham-en-kaas-toebroodjies en ’n piesang vir middagete gee. Die punt is, albei ma’s probeer hul bes om die beste te wees wat hulle kan wees en ek dink ons kan almal ’n bietjie minder veroordelend en ’n bietjie meer ondersteunend van mekaar wees. 

Op stuk van sake voel ek dalk soos ’n totale verloorder van ’n ma, maar my kinders is gelukkig en gesond en dink ek is die beste ma ter wêreld. Dus is ek dalk, net dalk, ’n bietjie te streng met myself – en dalk is jy ook!

Volg Kelly op haar persoonlike blog.